Diere, veral jagluiperds, het ook ’n behoefte aan ’n bietjie toenadering wanneer die senuwees pla.

Jagluiperds in aanhouding ly amper almal aan senuverwante toestande en daar is bevind die beste manier om hul stres te bekamp, is om hulle ’n ondersteuningshond as "geselskap" te gee.

Skattige foto’s en video's van honde en jagluiperds het onlangs die rondte op sosiale media begin doen. Die oulike prentjies laat sommer dadelik  jou hart vermurwe!

Die gier is nie een wat nou eers opduik nie, want natuurbewaarders gebruik glo al dekades lank honde om jagluiperds kalm te hou, berig Metro.

Die San Diego-dieretuin in Kalifornië verskaf al sedert die 1980’s ondersteuningshonde aan jagluiperds.

Luidens berigte is jagluiperds in dieretuine baie skaam en dit verhoed dat hulle paar.

ThoughtCo, ’n opvoedkundige webtuiste, sê vriendelike en uitbundige honde word as geselskap vir die jagluiperds gegee sodat hulle die honde se kalm en sorgvrye houding kan aanvoel en dit self ontwikkel.

Wel, een ding is seker, en dis dat dit lyk of die honde en jagluiperds ’n hegte vriendskap bou. Sowaar oulik verby!


Bronne: Metro, ThoughtCo, Twitter