Boonop het Allister Coetzee en sy span maar min kans vir nuwe planne beraam, want Eddie Jones se gedugte Engelse span wag op 12 November reeds op Twickenham. Dié Rose het ál nege van hul toetse gewen sedert Eddie oorgeneem het, insluitend ’n skoonskip-toetsreekssege in Australië.

En Eddie, wat die Bokke vroeër vanjaar “net ’n klomp boelies” genoem het, skrik g’n vir die All Blacks wat ons span so erg daar in die Haaitenk met duiselingwekkende hardlooprugby en kragspel afgeknou het nie.

“Dit irriteer my dat ander die All Blacks wil naboots,” het hy pas laat hoor. “Alles wat ons nou doen is daarop gemik om hulle te klop, met ’n nuwe styl en ’n ander soort spel as Nieu-Seeland s’n.”

Ja, Twickenham gaan ’n hengse uitdaging wees, en boonop moet Allister-hulle daarna op 25 November die Rooi Drake in Cardiff gaan trotseer; nog ’n span wat vas glo hulle kan die Bokke klop. ’n Mens kan dus skaars onthou wanneer laas Suid-Afrikaanse rugbyaanhangers ’n jaareindtoer met so ’n hol kol op die maag tegemoet gegaan het.

Maar hoe het dinge dan vanjaar so lelik vir die Bokke uitgerafel, en wat nou vorentoe?

Daar’s ’n groot tekort aan ervaring in Allister se afrigtingspan, het die voormalige Bokslot Kobus Wiese aan ons benadruk. “Gaan kyk maar na die ouens in Nieu-Seeland en Engeland se afrigtingspanne. Hulle het op alle vlakke sukses behaal.”

Lees ook: Joost voorspel ‘n droewe toekoms vir die Springbokke

En waar elkeen van Nieu-Seeland se Superrugby-afrigters die titel wil wen, “praat hulle dieselfde taal”. Hul einddoel bly steeds om die beste moontlike spelers vir die nasionale span te lewer, meen Kobus.

Intussen reken hy Eddie se sukses met Engeland is grootliks daaraan te danke dat hy nie te veel op reputasies gefokus het nie, maar deurgaans spelers op peil en in die regte kombinasies gekies het. So het hy ook die spelers se vertroue gewen. Prof. Tim Noakes meen ons rugbybenadering is nog nie wetenskaplik genoeg nie. Ons het byvoorbeeld nie genoeg afrigters wat bereid is “om oorsee te gaan kyk hoe suksesvolle sportspanne hulself bedryf nie. ’n Mens kan byvoorbeeld Amerikaanse voetbal gaan bestudeer; die afrigting daar is selfs beter as die All Blacks s’n,” sê die sportwetenskaplike. Voorts word baie van ons begaafde spelers nie behoorlik bestuur nie; daarom kan hulle nie hul volle potensiaal bereik nie. Hy meen ons kan “absoluut” ons afrigtingsgeledere met oorsese breiers verryk. “Ek sou mik na een of twee Nieu-Seelandse afrigters.” Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie kan in die kort termyn ’n swaargewig-Kiwi-afrigter as ’n tegniese direkteur aanstel om Allister as assistent in die Bok-bestuurspan by te staan, het Gavin Rich, SuperSport-rugbyontleder, voorgestel toe ons hom voor die Durban-neerlaag oor ’n pad vorentoe pols. En wanneer hy nie Allister-hulle raad gee nie, kan hy die onderskeie franchise-afrigters met vars idees van buite bystaan.

“Vir die lang termyn moet daar ’n dinkskrum van topafrigters wees - tans en voorheen - waar ’n nasionale bloudruk geformuleer kan word oor hoe Suid-Afrika die spel moet speel.”

In die tyd toe Nick Mallett se Bokke met 17 toetsseges agtereenvolgens nog die rugbywêreld ’n ding gewys het, het hulle deur ’n kombinasie van kragrugby sowel as vaardighede en hardlooprugby daarin geslaag, meld Rob Louw, oud-Bokflank.

Intussen sou spelers soos Rohan Janse van Rensburg, Handré Pollard, Bismarck du Plessis, Frans Steyn, Marcell Coetzee en Heinrich Brussow - afhangend van hul beskikbaarheid - die Bokke meer oemf kon gee, meen Gavin. Talle ontleders wil ook Duane Vermeulen en JP Pietersen terug in die span sien.

Die oud-Bokkaptein Wynand Claassen meen ook nuwe invloede van buite is goeie doepa teen stagnering in enige land se rugby. So het Johan Ackermann byvoorbeeld juis voortgebou en verbeter op ’n vernuwingsproses wat die Kiwi John Mitchell by die Lions begin het. En John se landgenoot Warren Gatland het groot sukses met Wallis behaal, terwyl die voormalige All Blacks-kampioenafrigter Graham Henry as konsultant ook baie vir die Poemas beteken het.

Andersyds meen Wynand, Rob en die oud-Bok Errol Tobias dat Suid-Afrika ook tot dusver min van die rykdom aan kennis en ervaring van ons eie oudspelers en -breiers benut het: in van afrigtings- en bestuurskringe tot bloot mentorskap vir spelers. Anders as in Nieu-Seeland word sulke rugbymense hier dikwels “eerder weggestoot”, sê Rob.

Lees ook: Allister se loopbaan as afrigter: ’n paar hoogte- en laagtepunte

Naas Botha, rugbyontleder en voormalige Boklosskakel, vertel ons hoe daar dringend na verskeie “komponente” in die groter Suid-Afrikaanse rugbykonteks gekyk moet word:

  • Ook hy meen ons afrigting het dringend aandag nodig, nie net op nasionale vlak nie. Ons moet onsself afvra hoeveel van ons Superrugby-afrigters “in staat is om môre die nasionale span af te rig. En hoeveel Curriebeker-afrigters môre Superrugby suksesvol kan afrig.”
  • Wat die Bokke betref: Jacques Nienaber is byvoorbeeld een van die beste verdedigingsafrigters wat daar al was, meen Naas, maar hy het bedank en met sy lewe aangegaan. “Moet jy dan nie, in dié beroepsera, weer iemand van dieselfde kaliber aanstel nie?”
  • Ons rugby kort dringend beter finansiering. Behoorlike privatisering van die vernaamste franchises kan meer geld inbring om ’n uittog van talent te help keer.
  • Daar moet herbesin word oor ons rugbystrukture. “Ons het nou ses spanne in Superrugby gehad waarvan, wil ek amper sê, een vanjaar regtig mededingend was. Ek dink nie ’n vergrote stelsel is goed vir ons rugby nie.”
  • Ons rugbyunies is “weg van die veld af regtig deurmekaar. ’n Mens wil nie soveel probleme hê nie. In Nieu-Seeland is almal op dieselfde bladsy; hier by ons baklei bestuurslede onderling. ’n Mens kan mos nie so gesonde strukture bou nie.
  • “Daar’s ook baie mense in rugby betrokke wat eintlik nie in die sport hoort nie. Eindelik moet daar ernstige besluite oor Suid-Afrikaanse rugby geneem word, en die enigste vraag moet dan wees: Is dit tot voordeel van rugby?”