Terri Lailvaux en Gill Molteno van Kaapstad gee wenke oor hoe ouers die eksamentyd makliker kan maak vir hul kinders. Terri is ’n berader van Claremont met ’n agtergrond in die onderwys. Gill is ’n opvoedkundige sielkundige en direkteur van Study for Success, ’n vakansiekursus wat hoërskoolleerders hul studievaardighede help opskerp.

Ouderdom 7 tot 10

  • Hou studie lekker en interessant en wees betrokke terwyl jou kind leer. Jy kan die studiemateriaal in ’n wedstryd of vasvra gebruik.
  • Maak ’n lys van wat jou kind moet leer en merk dit af soos wat hy vorder.
  • Leer jou kind die reël van “werk voor plesier” sodat hy nie eers speel en dan probeer leer wanneer hy moeg is nie.

Ouderdom 12 tot 14

  • Maak seker jou kind weet wat en hoe lank hy moet studeer.
  • Verwyder tydvrate soos selfone, die televisie en rekenaars terwyl hy leer.
  • Op hierdie ouderdom behoort jou kind sy eie opsommings te kan maak en op sy eie te studeer. Tog kan jy seker maak hy het al die nodige inligting, veral as hy leerprobleme of ’n gebrek aan motivering het of sy aandag maklik afgelei word.
  • Onthou jou kind is besig met aanpassing by die hoërskool, wat ’n ander skool- en eksamenstelsel en meer skoolwerk kan beteken.
  • Laat hom ’n studiegroep stig, selfs al is dit met net een maat of met jou. ’n Mens onthou makliker as jy iemand iets leer; laat hy jou leer en vra hom vrae oor die werk.

Ouderdom 15 tot 18

  • Hou die huis stil tydens eksamentyd, hou jonger sibbe besig en verminder jou tiener se huishoudelike take.
  • Besluit drie tot vier weke voor die eksamen saam met jou tiener hoe lank hy voor en tydens die eksamen weeksdae en naweke sal studeer.
  • As jou kind swak vaar in sekere eksamens, sal jy die volgende kwartaal in reaksie daarop byvoorbeeld rekenaarspeletjies in die week moet verbied.
  • Kyk saam met jou tiener na ’n rolprent of ’n YouTube-video oor ’n spesifieke onderwerp of doen saam navorsing daaroor op die internet sodat hy die studiemateriaal makliker kan onthou.

Ekstra bronne: ANXIETYBC.COM, KIDSHEALTH.ORG, YOUNGMINDS.ORG.UK, MUMSNET.COM, BBC.CO.UK, K-STATE.EDU, OPRAH.COM.