Geen ouer wil hoor hul engeltjie neem deel aan iets wat vir grootmense bedoel is nie. Maar die waarheid is, kinders met toegang tot selfone, ruil ál meer seksboodskappe uit.

Sowat ’n kwart van Amerikaanse tieners tussen 12 en 14 jaar ruil gereeld seksueel eksplisiete teks- of multimediaboodskappe uit, toon ’n nuwe ondersoek wat in Pediatrics gepubliseer is. Hoewel daar geen Suid-Afrikaanse syfers beskikbaar is nie, blyk dit tog dié praktyk is aan die toeneem.

Die verskynsel van seksboodskappe is redelik nuut vir ouers, wat dit moeilik maak om te hanteer. “Dit is anders as ander seksspeletjies waarby tieners destyds betrokke was,” sê die kindersielkundige dr. Jolanda Dreyer.

“Seksboodskappe is maklik, want dit vereis nie persoonlike interaksie nie en dit is vinniger; daarom kan meer in ’n kort tydjie gedoen word om daardie gevoel van kitsbevrediging te gee.”

Meer as ’n vyfde van hoërskoolleerders in Suid-Afrika is al in ’n stadium met “ongewenste praatjies oor seks” genader, toon ’n ondersoek deur Unisa se jeugnavorsingseenheid van die buro vir marknavorsing en die sentrum vir geregtigheid en misdaadvoorkoming.

Nog 16 persent is gevra vir seksuele besonderhede oor hulself en amper ’n tiende het aangedui hulle is al gevra om die een of ander seksuele daad op hul selfoon uit te voer.

Die syfers is kommerwekkend. Tieners wat aan seksboodskappe deelneem, loop die gevaar dat die foto’s of teks kan uitlek en kan selfs van die besit van kinderpornografie aangekla word.

Dit kan ernstige gevolge inhou, sê die kenners. “Seksboodskappe is beslis ’n probleem, want dit verhoog ook die kans dat dit kind werklik aan seksuele aktiwiteite deelneem as dit nie uit die staanspoor gestuit word nie,” sê Jolanda.

Wat kan ouers doen? Dr. Jolanda Dreyer gee praktiese wenke. 

1. Bou ’n vertrouensverhouding met jou tiener: ’n Openlike verhouding gee die deurslag. Wees openlik en toeganklik om eerlikheid en vertroue aan te moedig. Hulle moet weet hulle kan jou iets vertel sonder dat jy histeries raak.

2. Ouderdom: Neem die ouderdom van ’n kind in ag voor jy vir hulle ’n slimfoon koop. Is hulle volwasse genoeg om die verantwoordelikheid te hanteer?

3. Monitor:Ouers betaal meestal die selfoonrekening. Monitor hul aktiwiteite.

4. Stel grense: Die ouer en die kind moet ’n kontrak opstel waarin aanvaarbare en onaanvaarbare gebruik van die sel- of slimfoon duidelik uitgestippel word. Grondreëls is belangrik; die ouer en die kind moet hulle bepaal en die gevolge moet duidelik gestel word.

5. Seksvoorligting: Gee vir jou kind ouderdomsgepaste seksopvoeding. As jy nie gemaklik is daarmee om dit self te doen nie, neem hulle na ’n kenner. Seksopvoeding moenie aan klaskamers of groepe oorgelaat word nie; dit moet ’n een-tot-een-spanpoging wees.

- Koketso Mashika

Ekstra bronne: thedailybeast.com; cjcp.org.za.