Kry jy die laaste ruk snaakse boodskappe op Twitter? Iets soos, “Your in this”, met ’n Facebook-skakel daarby? Maak nie saak hoe graag jy wil nie, moenie op daardie skakel kliek nie.

Gebruikers wat dit doen, word geneem na ’n baie oortuigende vals Facebook-blad waarop ’n video is. ’n Opspring-boodskap lig die gebruiker in sy “YouTube Player” moet bygewerk word, met ’n uitnodiging om FlashPlayerV10.1.57.108.exe. af te laai. Volgens die teenvirus-ontwikkelaar Graham Cluely is hierdie lêer ’n agterdeur-Trojan wat homself op toeganklike skywe en netwerke kan kopieer.

Dis onduidelik hoe krakers toegang tot mense se Twitter-profiel verkry om hierdie rommelboodskappe te stuur. Dalk lê die probleem by die klik op die skakel. “Hierdie aanval onderstreep die belangrikheid om nie outomaties op ’n skakel te klik net omdat iemand wat jy vertrou, dit skynbaar aan jou gestuur het nie,” sê Graham.

As die bordjies verhang is, en jy agterkom jy het onopsetlik rommelpos aan jou vriende gestuur, maak dan so:

1. Verander jou wagwoord

Om jou wagwoord te verander sal kuberkrakers outomaties van jou rekening afsmyt. Maak seker jou nuwe een is ingewikkelder, met nommers, simbole en hoofletters, om toekomstige pogings van krakers te fnuik. Maak seker dat jy jou wagwoord elke maand of so verander.

2. Laat jou volgers weet

Dis behoorlike Twittertiket (etiket op Twitter) om jou volgers te laat weet jy is bewus van die probleem en miskien verskoning te vra, hoewel hulle jou nie regtig kan verkwalik nie. Om oor die kuberkrakery te twiet, sal hulle laat weet die rommelpos is net tydelik sodat hulle nie ophou om jou te volg nie.

3. Kanselleer die app se toegang

Volgens Mashable.com gebruik die kuberkraker dalk ’n derdeparty-app (waaraan jy toegang verleen het) om die rommelpos van jou rekening af te stuur. Om die toestemming terug te trek klik op die klein ratte-ikon op die boonste regterkantste hoek van jou bladsy. Gaan na Settings, dan Apps (tweede van onder af op die lysie aan die linkerkant van die Settings-blad). Kliek dan Revoke access langs al die apps wat jy nie vertrou nie.

-         Kirstin Buick (@KirstiBuick)

Aangepas van Mashable.com

Bykomende bronne: Cnet.com, Nakedsecurity.sophos.com

Foto: Andy Melton op Flickr