As ’n ma wens jy jy kon elke dag 24 uur per dag daar wees vir jou kind, maar ongelukkig is daar soms situasies waarin ’n baba van hul ma geskei moet word. ’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap moet binnekort hospitaal toe gaan vir ’n operasie en vra raad oor hoe om die skeidingstyd vir haar eenjarige dogtertjie makliker te maak. Hier is ons sewe topwenke om skeidingsangs vir ma en kind te verminder.

  1. Doen ’n aantal proeflopies voor jy weggaan: Probeer jou baba voorberei deur hulle voor die tyd klein rukkies by iemand te los, soos wanneer jy inkopies gaan doen of ander takies afhandel. Hulle gaan dan geleidelik aan jou afwesigheid gewoond raak.
  2. As jou man tydens jou afwesigheid die primêre versorger gaan wees, kan jy hom voor die tyd van jou take laat oorneem sodat jou baba daaraan gewoond is dat jou man ook byvoorbeeld hul doeke omruil en hulle voer.
  3. Laat jou baba die skeiding begin: Moenie jou baba onmiddellik volg wanneer hulle byvoorbeeld in ’n ander vertrek kruip nie, tensy daar iets gevaarliks in die ander vertrek is. Jou baba sal dan besef hulle is veilig, selfs al is jy nie by nie, en dus onafhankliker raak.
  4. Jou baba se gunstelingspeelgoed sal hulle gerusstel. Sorg dus dat alles van hul trooskombersie tot beddegoed en eetgerei saamgaan sodat hulle met soveel moontlik bekende voorwerpe omring is.
  5. Moenie net wegglip nie: Al is dit hartverskeurend om jou baba te sien huil en voel dit makliker om net weg te glip sonder om totsiens te sê, is dit belangrik om van jou baba afskeid te neem. ’n “Totsiens-ritueel” kan nuttig wees. Begin die ritueel deur op ’n spesifieke manier vir jou baba te waai of iets met hulle te doen voor jy gaan, sodat hy  naderhand weet hierdie daad beteken jy gaan weg, maar dat jy altyd weer terugkom.
  6. As jy eers weg is, moet jy weg wees. Selfs al huil jou baba, is dit beter om nie terug te gaan nie. Jou baba gaan meer verward en ontsteld wees as jy terugkom en dan weer gaan. As jy iets vergeet het, kan jy vra dat iemand dit vir jou bring sodat jou baba jou nie weer moet sien nie.
  7. Die terugkeer is ook belangrik: Wanneer jy wel terug is by jou baba, is dit belangrik dat jy aan hulle aandag gee en tyd met hulle deurbring, sodat hulle naderhand besef jy kom wel altyd terug en is steeds lief vir hulle.

- Mieke Vlok

Bronne: mother-2-mother.com, parents.com, babycenter.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.