Niks bekommer ’n ouer meer as ’n siek kind nie, veral wanneer hul kind koors het en hulle nie weet wat skort nie.

Volgens ’n onlangse ondersoek oorreageer ouers dikwels wanneer hul kind koors het. En soms kan die stappe wat die ouers doen, die toestand vererger.

Hier is wat jy moet weet:

Wat is normale temperatuur?

Normale temperatuur by kinders is tussen 36 °C en 37 °C. Daar kan ’n verskil van sowat ’n halwe graad wees, afhangende van hoe jy die kind se temperatuur meet: in die oksel, onder die tong of rektaal.

Rektale temperatuurlesings is die akkuraatste, maar dit word gewoonlik in die hospitaal gedoen en jy hoef nie so presies te wees wanneer jy by die huis ’n lesing neem nie.

Hoe moet ek my kind se temperatuur meet?

Gewoonlik hou ’n ma heel eerste haar hand teen haar kind se voorkop. Dit sal jou ’n jou goeie idee gee of jou kind se temperatuur hoër as gewoonlik is, maar dis beter om ’n glas- of digitale koorspen te gebruik.

Wees versigtig wanneer jy ’n glaskoorspen gebruik, want kinders kan die glas stukkend byt. Dié koorspenne bevat giftige kwik. Wanneer jy ’n glaskoorspen gebruik, is dit beter om jou kind se temperatuur in hul oksel te meet. Skud die kwik af en en plaas die punt van die koorspen in die kind se oksel. Maak seker dit raak op die arm en die borskas aan die vel.

Digitale koospenne meet temperatuur vinnig. Hulle is akkuraat en maklik om te gebruik, maar duurder. Daar is twee soorte digitale koorspenne: een wat onder die tong of onder die arm gebruik word (R20 tot R80 by apteke, Dis-Chem en Clicks) en een wat ontwerp is om ’n kind se temperatuur in die oor te neem (sowat R300).

Wenke vir die neem van ’n kind se temperatuur 

  • Moenie jou baba of kind te styf toewikkel voor jy hul temperatuur meet nie.
  • Moet nooit jou kind alleen los terwyl jy hul temperatuur meet nie.
  • As jy jou kind se temperatuur rektaal meet, bedek die punt van die koorspen met petroleumjellie (Vaseline) en steek dit sowat ’n sentimeter en ’n half in die rektum in. Hou die koorspen stil en moet dit nie los nie. Hou dit drie tot vier minute daar voor jy ’n lesing neem. As dit ’n digitale koorspen is, wag tot dit biep, verwyder en kyk wat die lesing is.
  • As jy jou kind se temperatuur mondeliks neem, plaas die punt van die koorspen onder hul tong. Los dit drie tot vier minute daar as dit ’n glaskoorspen is of tot dit biep as dit ’n digitaal is. Verwyder die koorspen en kyk wat die lesing is.
  • Maak die koorspen skoon nadat jy dit gebruik het.

Met watter medisyne kan jy koors verlig?

Die algemeenste medisyne vir die verligting van koors by kinders bevat parasetamol (nievoorskrif-medisyne soos Panado en Calpol). Die hoeveelheid wat jy vir jou kind moet gee, hang van hul gewig en ouderdom af; kyk op die bottel of invoegsel in die verpakking. Jy kan vra ’n apteker moet ’n medisyne aanbeveel en wat die korrekte dosis vir jou kind is.

Jy kan ook setpille gebruik wat koors verlig. Hulle is makliker om toe te dien, veral aan kinders wat weier om medisyne af te sluk. Moet setpille nooit bykomend tot mondelikse medisyne toedien nie.

Wenke oor die gee van medisyne

  • Moenie meer as vyf dosisse per dag gee nie.
  • Moenie vir ’n baba jonger as drie maande medisyne gee tensy jou dokter sê jy moet nie.
  • Lees altyd etikette noukeurig. Sorg dat jy vir jou kind die regte hoeveelheid medisyne gee.
  • As jy druppels gebruik, vul die drupper tot by die regte strepie.

Wat kan ek nog doen?

  • Gee vir jou kind baie vloeistowwe, want koors verhoog vogverlies, en ontwatering kan liggaamstemperatuur laat styg. Selfs al voel die kind nie dors nie, hou aan vloeistowwe aanbied. As hulle naar voel, moedig hulle aan om gereeld slukkies te neem. Hulle kan ook aan ysblokkies of bevrore bederfies suig.
  • Sorg dat jou kind baie rus kry. Trek vir hulle nagklere van ligte katoen aan sodat liggaamshitte kan ontsnap. As jou kind kouekoors chills kry, trek vir hulle ’n warm top aan en gee vir hulle warm vloeistowwe. Verwyder dit wanneer die kouekoors ophou.
  • Spons jou kind af met klam lappe wat in louwarm water geweek is. As jou kind begin bewe, hou op spons; die gebewe kan die koors laat styg.
  • As jou kind sweet en sê hulle kry warm, laat hulle ’n laag of twee klere uittrek.

Wanneer moet jy kliniek of dokter toe gaan?

  • Enige baba jonger as drie maande met ’n koors moet dokter toe gebring word, want sulke jong babas kan baie gou baie siek word.
  • Babas van drie tot ses maande met ’n temperatuur van 38,3 °C moet dokter toe gebring word, al lyk hulle nie siek nie.
  • Wanneer jou kind van ses maande of ouer ’n koors van sowat 38,8 °C het, kyk hoe hulle optree. Gaan kliniek of dokter toe as die koors styg of langer as drie dae duur.
  • As jou kind ’n koors van 39 °C of hoër het, neem hulle dokter toe al lyk hulle piekfyn.
  • Gaan dokter toe sodra jou kind slaperig of stadig raak, van hoofpyn of ’n stywe nek kla, naar word, weier om vloeistof te drink, ’n uitslag ontwikkel of senstief vir lig raak.

Onthou: Die liggaam bestry infeksies met koors. Dit is heeltemal normaal en ’n teken dat jou kind se liggaam teen ’n virus of ander infeksie baklei. Dit beteken nie jy moet dit ignoreer nie; dit is ’n manier om vas te stel hoe siek ’n kind is. Maar jy hoef glad nie gou paniekerig te raak nie.

- Siba Segale