Dit gebeur sommer so oornag: Die een oomblik is hy nog jou laerskoolseun met die engelgesiggie, maar skielik begin die tekens van man word op sy wange uitslaan. Eers is dit net fyn, ligte haartjies, maar kort voor lank raak dit ál meer, langer en donkerder.

En daarmee saam kom die vrae vir jou as ’n enkelma: Wanneer moet hy begin skeer? En hoe leer ek hom?

Ontspan! Dis eintlik baie makliker as wat jy dink.

Is dit tyd?

Daar is nie iets soos ’n regte of verkeerde tyd vir daardie eerste skeer nie. Seuns se ontwikkeling gedurende puberteit, asook hul haargroei, verskil in so ’n mate van mekaar dat die een reeds in gr. 8 die skeermes moet nadertrek, terwyl sy maat moontlik eers in gr. 11 dié grootmensstap moet doen.

Seuns se eie siening oor die saak is ook nie juis dieselfde nie, hoewel dit vir hulle almal ’n groot gebeurtenis is. Jannie kan dalk so trots wees op daai nuwe, donker haartjies wat op sy bolip begin kop uitsteek dat hy hulle so lank moontlik wil koester om met sy nuutgevonde manlikheid te spog. Willie, weer, kan so opgewonde wees oor dié ding wat net mans doen dat hy sommer kort ná hy die eerste donker haartjie gewaar, die skeermes sal wil nadertrek.

Laat jou dus maar deur jou seun lei, en ook deur die skoolhoof, want hy sal beslis nie ’n seun met ’n tienersnorretjie in sy skool toelaat nie!

Kies jou wapens

Goed, jy en seun het besluit dis sulke tyd; wees nou ’n oulike ma en gaan saam met hom winkel toe sodat hy self sy eerste skeergoed kan kies. Wat hy kies, maak nie eintlik saak nie, want daardie sagte melkbaartjie gaan hom nou nie juis erg teësit teen selfs die goedkoopste weggooibare nie. Maar as jy voel jy wil van die geleentheid iets spesiaals maak en vir hom ’n duursame stel koop wat vir jare sentimentele waarde sal hê, kan jy na ’n spesialis mansboetiek-winkel gaan en ’n paar honderd rand opdok.

Dan beweeg julle oor na die rak waar al daardie rye en rye smeermiddels staan. Dit is sy eerste keer; laat hom daarom toe om iets te kies waarvan hy hou. Vir nuwelingskeerders is die reuk wat uit die kannetjie kom, gewoonlik die deurslaggewende faktor. Dit is eers later wanneer hy hardebaard raak dat hy hoef te eksperimenteer wat die beste werk: skuim of room. Ook hierin is daar geen goue reël nie; dit verskil van mens tot mens.

As hy een van daardie ongelukkige tieners is wat met ’n kwaai velprobleem sit, is dit beter om ’n elektriese skeermes te koop wat nie die puisies sal stukkend sny nie.

Op jou merke, gereed . . .

Seun, maak jou gesig nat, baie nat, met warm water. Dít is die belangrikste les wat jy jou tiener kan leer. Wanneer die gesigshare lekker nat is, swel dit met tot soveel as 30 persent van hul normale grootte sodat die skeerlemmetjie dit makliker kan vasvat.

Dan smeer hy daardie smeermiddel met draaibewegings oor sy gesig. Die massering-effek help dat die vel al die voedings- en vogtigingswaarde van die room of skuim inneem. Hy sal dit weldra uitvind, maar noem aan hom om die skeerhale van bo na onder te trek, saam met die haargroei, en nie anders om nie.

Dan is dit weer tyd vir hande vol warm water oor die gesig. Was die oortollige skuim of room behoorlik af, en maak jou skeermes ook sommer deeglik skoon voor jy hom bêre.

Vertel jou seun van die belangrikheid van ’n lekker naskeermiddel, en nee, daardie botteltjie se doel is nie net om jou lekker te laat ruik nie! ’n Skeermeslemmetjie kan selfs tot twee lae van sy vel verwyder. Dié skade word deur die voedingsbestanddele in die naskeermiddel herstel.

Eina!

Kyk, ma, jou tiener sál homself die een of ander tyd raak skeer. Aanvaar dit, want dit is wat gebeur; daarom is daar geen rede om hieroor ontsteld te raak nie. Die aartjies in die gesigvel sit baie naby aan die oppervlak wat maklik deur die lemmetjie bygekom kan word. Dit gebeur veral wanneer die drukking op die skeermes te veel is, of die skeerhale te vinnig toegepas word.

Wees versigtig, en neem jou tyd met daardie wapen in jou hand; dis die twee belangrikste wenke wat ’n ma haar seun kan gee.

Wanneer die bloed wel vloei, spoel dit met koue water af om die bloeding te keer. Daar is ook spesiale gesigspleisters op die mark vir dieper snye waarvan die bloed nie vanself stol nie.

- Jaco Hough-Coetzee