Waterpokkies is ’n algemene siekte wat ’n jeukerige uitslag en rooi kolle of blase oral op die lyf veroorsaak. Dit is algemeen in kinders, en die meeste mense sal iewers in hul lewe waterpokkies kry as hulle nie daarteen ingeënt is nie. Hier’s raad.

Simptome

Waterpokkies begin met koors, hoofpyn, ’n seer keel of maagpyn. Dié simptome kan dalk ’n paar dae duur en gepaardgaan met ’n koors van tussen 38,3 °C en 38,8 °C.

’n Rooi, jeukerige veluitslag verskyn dikwels eers op die maag of rug en gesig, en versprei dan na die res van die lyf.

Die uitslag begin met veelvoudige klein rooi knoppies wat amper soos puisies of insekbyte lyk. Hulle verskyn gewoonlik oor twee tot vier dae en verander dan in blase wat vloeistof bevat en verskriklik jeuk.

Aansteeklik

Waterpokkies is baie aansteeklik – die meeste kinders met die virus se sibbe sal ook kort daarna waterpokkies kry (as hulle nog nie voorheen die siekte gehad het nie).

Dit is sowat twee dae aansteeklik voor die uitslag verskyn; daarom is dit baie moeilik om te weet of jy dit aangesteek het tot jy die simptome ervaar.

Maak seker kinders was hul hande gereeld, veral voor ete en nadat hul die badkamer gebruik het. Probeer ook sover moontlik die kind met waterpokkies van ander kinders weghou. ’n Kind met waterpokkies behoort sowat ’n week nie skool toe te gaan nie. Maak eers by jou dokter seker voor jy jou kind terugstuur skool toe.

Mamma, dit jeuk!

Help die jeukerigheid en ongemak van waterpokkies so verlig:

  • Bad jou kind die eerste paar dae elke drie tot vier uur in koue of louwarm water. Hawermoutprodukte kan die jeukerigheid help verlig.
  • Druk (nie vryf nie) jou kind se lyf droog.
  • Smeer kalamynmelk aan die dele wat jeuk, behalwe op die gesig.
  • Bedien koue, sagte kos, want waterpokkies in die mond kan eet en drink baie ongemaklik maak.
  • Vra jou dokter oor die gebruik van medikasie vir die jeuk.

Moet nooit aspirien gebruik om pyn of koors by kinders met waterpokkies te verlig nie. Dit word verbind met die baie ernstige Reye-sindroom, wat lewerversaking en selfs die dood kan veroorsaak.

Moenie krap nie!

Probeer jou kind sover moontlik ontmoedig om aan die blase te krap. Dit kan dalk vir hulle baie moeilik wees; oorweeg dit dus om handskoene of sokkies oor jou kind se hande aan te trek wanneer hulle slaap. Hou jou kind se naels kort sodat die risiko vir infeksie so klein moontlik bly.

Probeer jou kind se aandag aftrek van die gejeuk – ’n interessante nuwe kinderfliek verrig wondere. En speletjies wat hulle hande besig hou, soos blokkies of legkaarte, help dat hulle minder krap.

Die gejeuk word natuurlik ook heelwat verlig as ma (of pa) met ’n plat hand saggies oor die seertjies vryf.

- Shané Barnard

Bronne: webmd.com, health24.com, kidshealth.org