Sy is in ’n Afrikaanssprekende huis gebore en het die eerste paar jaar van haar lewe niks anders as haar moedertaal gepraat nie. Maar toe Paulette van Heerden vier was, het haar ma besluit een dag per week praat hulle Engels. Sy het geglo dit sou groter wêrelde vir hulle oopmaak.

Teen die tyd dat Paulette skool toe is, kon sy haar heel goed in Engels uitdruk en toe sy jare later vir haar werk Amerika en Engeland toe moes gaan, was sy baie dankbaar vir die  “Engelse dae” van haar kleintyd.

Toe sy en haar destydse man na die oorwegend Engelse Scarborough verhuis het, het sy besluit om dieselfde te doen vir die nou volledig tweetalige Nina (15) en Claire (10).

“Toe hulle nog babas was, het ek met hulle Afrikaans gepraat en vir hulle al die liedjies gesing wat na aan my hart is,” onthou Paulette. “Maar ek het ook moeite gedoen om Engels te praat en te sing, byvoorbeeld liedjies uit The Wizard of Oz.”

Toe hulle moes begin skoolgaan, het die twee maklik by hul Engelse omgewing aangepas. Tuis het Paulette daarop aangedring dat hulle Afrikaans praat. “Ek wou hê hulle moes in voeling bly met hul wortels.” Maar dis nie speletjies om kinders tweetalig groot te maak nie.

“Hulle het dikwels hul tale gemeng in dieselfde sin, veral wanneer hulle oor abstrakte of tegniese dinge gepraat het,” vertel Paulette. “Dit het my Afrikaanse familie baie vies gemaak!”

In hul eerste jaar of twee op skool het die meisies gesukkel met Engelse grammatika

en klankleer en Paulette moes aan die onderwysers verduidelik dat hulle uit ’n Afrikaanse huis kom. “Maar nou blink hulle uit in al hul klasse,” sê sy. “Ek is verbaas oor hoe maklik hulle van die een taal na die ander oorskakel wanneer hulle met verskillende maats praat.”

Rudo Chasakara (27) is ’n tipiese produk van Suid-Afrika se ryk kultuurverskeidenheid. Haar pa praat Tswana, haar ma Xhosa en sy het grootgeword in die oorwegend Afrikaanse gemeenskap van Kimberley. Hoewel albei ouers vlot Afrikaans en Engels gepraat het, was

Engels die taal wat in haar grootwordjare hoofsaaklik tuis gepraat is.

“Ek dink my ouers het my voorberei op die mededingende werkomgewing deur die  internasionale taal te praat,” sê sy. “Ek dink ook dit het vir hulle ’n gaping oorbrug omdat hulle verskillende tale gepraat het.”

Hoewel Rudo in ’n Tswana-kleuterskool was, was die res van haar skoolloopbaan in Engels. “Ek het nooit formele onderrig in Tswana en Xhosa gehad nie,” vertel sy, “maar ek het dit tog aangeleer uit my ouers en vriende se gesprekke. Ek kan steeds in dié twee tale kommunikeer.”

In haar matriekjaar is die gesin Johannesburg toe en het Engels haar eerste taal geword. “Ek weet baie mense sal dit as ’n voordeel beskou, maar soms laat voel dit my ek is nie regtig ’n Afrikavrou nie. Ek is spyt dat ek ’n Europese taal beter praat as enige van die tale van ons vasteland. Ek wens dit is sterker vasgelê toe ek ’n kind was.”

Duidelik moet daar ’n balans wees as ’n kind tweetalig of veeltalig grootgemaak word – en as jy hierin slaag, is daar besliste ontwikkelingsvoordele vir jou kind. Hier is maniere waarop jy dit kan doen.

Die beste tyd om te begin

Jou kind kan van geboorte af aan ’n tweede taal blootgestel word, sê Gill Naeser, ’n spesialis in kinderontwikkeling. “Daar is twee prosesse in taalontwikkeling. Die eerste begin by  geboorte en word ontvangstaal genoem; dis wanneer ’n kind woorde hoor en begin verstaan. Jy kan in dié stadium al meer as een taal met hom praat sodat hy gewoond raak aan die klanke en die woorde met voorwerpe kan begin verbind.

“Die tweede proses is uitdrukkingstaal; dis wanneer ’n kind begin praat. In hierdie stadium begin hy hom in al twee tale uitdruk.”

Sielkundig gesproke is die beste tyd waarin ’n kind ’n tweede taal moet aanleer tussen geboorte en ses- tot agtjarige ouderdom, sê dr. Ronald van Toorn, ’n Kaapstadse neuroloog. In dié jare is die brein op sy soepelste en daarop ingestel om inligting te absorbeer en  gebruik.

“Hierdie tydperk kan strek tot in puberteit en selfs later,” sê Ronald. “Maar met kinders se breinontwikkeling in gedagte is die beste plan om ’n tweede taal voor skool of in die vroeë skooljare aan te leer.”

Daar is egter nie ’n presiese tyd waarop blootstelling aan ’n tweede taal moet begin nie.

Sommige kenners meen ’n kind moet een taal eers deeglik onder die knie hê voor hy aan ’n tweede blootgestel word, sê Gaontebale Nodoba, dosent in taalwetenskap aan die eenheid vir professionele kommunikasie by die Universiteit van Kaapstad. Dr. Don Roos, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, stem saam. “Dis beter dat die kind die eerste drie of vier jaar net sy moedertaal leer, selfs al word ander tale in die huis gepraat,” sê hy.

“Om verwarring te voorkom moet hy een taal eers goed leer ken.” Ouers is dalk trots op hul tweetalige voorskoolse kinders, maar die werklikheid is dat as hulle nie een van die tale ordentlik magtig is nie, kan hulle sukkel wanneer hulle begin skoolgaan. “Hulle kan mettertyd aanpas, maar in die begin kan dit hulle terughou,” sê Don.

In die meeste gevalle sal ’n tweetalige kind egter op dieselfde tyd as ’n eentalige kind begin babbel en sy eerste woorde en sinne sê. Albei kan gewoonlik op agttien maande sowat 50 woorde sê, hoewel die tweetalige kind die 50 woorde tussen die twee tale verdeel – wat hom aanvanklik benadeel.

Maar op lang termyn het hierdie aanvanklike agterstand ’n onbeduidende uitwerking op die kind se algemene leervermoë, sê prof. Fred Genesee, ’n kenner van tweedetaalverwerwing aan Kanada se McGill-Universiteit.

Balanseer tweetaligheid so

’n Kind kan tweetaligheid informeel aanleer soos in interaksie met familie en maats, of in ’n formele leeromgewing soos die klaskamer, sê prof. Elizabeth Pretorius, direkteur van die eenheid vir akademiese geletterdheidsnavorsing van Unisa se departement linguistiek.

Kinders wat ’n tweede taal informeel aanleer sal dit in alledaagse gesprekke kan gebruik. Dié soort taalvaardigheid word basiese interpersoonlike kommunikasievaardighede (BIKV) genoem. “Kinders kan in ’n kort tyd – een tot drie jaar – ’n taamlik hoë BIKV-vlak bereik,” sê Elizabeth.

Tog voel sy dis beter dat ’n tweede taal in ’n formele situasie aangeleer word. Kinders moet leer om in die tweede taal te lees en skryf en moeiliker take te doen soos wiskunde en sosiale studie. Dit lei tot kognitiewe akademiese taalvaardigheid (KATV).

“Dit kos vyf tot sewe jaar om KATV op te bou in ’n tweede taal, mits die kind in ’n goeie skool is waar gehalte-onderrig plaasvind en waar klem geplaas word op lees en skryf in die tweede taal,” sê sy.

Beteken dit jy moet jou kind na ’n Engelse skool stuur selfs as Engels nie jou huistaal is nie?  En wat is die beste – laerskoolonderrig in jou kind se moedertaal en die res in Engels?

Veral ouers wat verskillende tale praat, moet uitsluitsel kry oor dié vrae, soos Carien en Ian White van Humansdorp. Carien het Afrikaans grootgeword en Ian is ’n Skot wat net Engels praat. Toe hul kinders gebore is, het elke ouer in sy of haar taal met hulle gepraat. Sonia (nou 13) en Dean (nou 11) was dus tweetalig voor hulle skool toe is.

Van graad 0 tot 3 was hulle in ’n Engelse skool, maar toe hulle Humansdorp toe verhuis het, is hulle ingeskryf in die Afrikaanse klas van ’n dubbelmediumskool.

“Sonia het floreer, maar Dean se werk het agteruitgegaan,” vertel Carien. Sy onderwysers het gesê hy “dink in Engels”. Die oplossing: Sonia het in die Afrikaanse klas gebly, maar Dean is oorgeskuif na die Engelse klas.

Nou vaar albei goed en Carien beskou haar kinders se tweetaligheid as ’n seën omdat hulle met albei kante van die familie kan kommunikeer.

As nie-Engelse kinders ’n Engelse skool bywoon, moet ouers steeds tuis hul moedertaal praat, sê Elizabeth. “Dit help die kind om in voeling te bly met sy eie taal en kultuur. Ouers kan Engels praat as hulle hand bysit met huiswerk, maar ander interaksie moet in die kind se moedertaal plaasvind.”

Baie ouers wil hê hul kinders moet Engels kan praat omdat dit so ’n wêreldtaal is. Maar dis nie ideaal  om die kind van die begin af in Engels te laat skoolgaan nie, waarsku Elizabeth.

“Dit benadeel die kind op ’n verstandelike vlak en kan kultureel en emosioneel traumaties wees. Dis ideaal as die kind ’n Engelse kleuterskool bywoon en die tweede taal in ’n informele omgewing deur interaksie met maatjies, rympies en speletjies leer,” sê sy.

Maar tweetaligheid moet beplan word om te pas by elke kind se individuele ontwikkelingsbehoeftes, voeg sy by. As ouers die voordele en uitdagings kan balanseer, berei hulle hul kinders voor vir ’n verrykende pad vorentoe.

Leer jou kind so ’n tweede taal

Gill Naeser, ’n spesialis in kinderontwikkeling, en prof. Fred Genesee, ’n kenner van  tweedetaalverwerwing, gee raad:

  • Die aanleer van ’n tweede taal is die suksesvolste wanneer kinders gereeld aan albei tale blootgestel word. Die nuwe taal moet sowat 30 persent van hul algehele taalblootstelling beslaan.
  • Dit kan moeilik wees om kinders te motiveer om al twee tale te gebruik omdat hulle eerder  die taal van hul maats praat. Om dit teen te werk kan ouers ’n speelgroepie kies waar  kinders die tweede taal praat of familie wat dit praat, dikwels besoek.
  • Kinders moet blootgestel word aan die regte gebruik van die taal. As jy as ouer nie vlot  daarin is nie, kry hulp by familie of ’n opgeleide mens.
  • Dis belangrik om te praat oor dinge wat relevant is vir die kind. Gebruik die tweede taal as julle praat oor wat hy die dag wil aantrek of eet of met watter speelgoed hy wil speel. Vra  maklike vrae wat hy kan antwoord soos wat hy speeltyd wil eet en herhaal woorde en sinne.
  • Leer jou kinders die kultuur van hul tweede taal. Die boodskap wat hulle oor dié taal kry, kan die aanleer daarvan ’n positiewe ervaring maak.

Die voordele van tweetaligheid

Tweetalige mense vaar beter in intelligensietoetse, logiese redenering en probleemoplossing, sê dr. Ronald van Toorn, ’n Kaapstadse neuroloog.

Hier is nog ’n paar redes om meer as een taal te ken:

  • Navorsing wys die breinpaadjies wat jy ontwikkel om nuwe inligting in te samel, werk doeltreffender as jy jonk ’n tweede taal aanleer. Dis boonop ’n vermoë wat jou tot in jou oudag bybly en jou verstand jonk hou.
  • Op hoërskool- en tersiêre vlak en later het tweetalige mense meer inligting tot hul beskikking in die druk-, elektroniese en ander media oor byvoorbeeld vermaak, nuus en vir akademiese doeleindes.
  • Werkgeleenthede in internasionale sake- en regeringsondernemings vereis dikwels vaardigheid in twee of meer tale – veral ’n internasionale taal. Reisgeleenthede is ook soveel groter vir mense wat ekstra tale praat.
  • Interkulturele huwelike neem ál meer toe in Suid-Afrika. As jou ma van een kultuurgroep is en jou pa van ’n ander en jy kan met niggies en neefs aan albei kante in hul eie taal praat, word hegter familiebande gevorm. Om nie te praat van beter wedersydse begrip tussen verskillende kulture op die speelgrond nie.

Wanneer eentaligheid beter is

Kenners waarsku dat daar gevalle is waar ouers liewer nie ’n tweede taal moet inbring nie of  wanneer hulle ten minste ’n spraakterapeut moet raadpleeg.

“Kinders wat leerprobleme het, byvoorbeeld disleksie, kan sukkel om ’n tweede taal te lees en skryf, selfs al kan hulle dit praat,” sê die kinderontwikkelingspesialis Gill Naeser. “En ’n dowe kind kan ’n tweede taal verwarrend vind.”

So het Wilma van der Bijl dit gedoen

Die voormalige Mej. Suid-Afrika Wilma van der Bijl het ’n bewustelike besluit geneem om haar kinders, Alexia (11) en Nikolaos (10), tweetalig groot te maak. Wilma kom uit ’n Nederlandse en Afrikaanse agtergrond en het Afrikaans grootgeword. Haar man, Ari Panlis, is Grieks en praat ook Engels.

“Ek is baie trots op my Afrikaanse agtergrond en wou dit met my kinders deel. Daarom praat ek van hul geboorte af hoofsaaklik Afrikaans met hulle,” sê Wilma. “Ek het ook Duitse en Nederlandse familie en ek praat dié tale ook vlot. Omdat Nederlands so na aan Afrikaans is, het ek gedink dis goed dat my kinders dit magtig is sodat hulle met my familie kan kommunikeer.”

As Wilma, Ari en die kinders saam is, praat hulle hoofsaaklik Engels ter wille van Ari. “Ons kinders was nog heeltyd in Engelse skole hoewel hulle in Afrikaanse kleuterskole was,” vertel Wilma. “Ek het nooit gedink die oorskakeling na ’n Engelse laerskool sou ’n probleem wees nie omdat hulle albei tale magtig is en goed oor die weg gekom het.

“Ek was van kleins af gesteld daarop om hulle te korrigeer, want ek kan dit nie verduur as hulle hul taal meng nie. Dit het nooit hul skoolwerk benadeel nie.”

Deur Ari verstaan Alexia en Nikolaos ’n bietjie Grieks, hoewel hulle dit nie kan lees nie. Omdat hulle egter reeds tweetalig is, kan dit hulle help om ander tale aan te leer namate hulle ouer word. “Hulle leer Xhosa op skool en ek dring daarop aan dat hulle dit volhou tot hulle vlot is. Dis ’n belangrike taal in ons land en ek gaan nie toelaat dat hulle dit los as hulle byvoorbeeld 13 is of wanneer die skool dit nie meer in ’n sekere graad aanbied nie. Ek beskou dit as ’n voordeel om verskeie tale magtig te wees,” sê Wilma.

- Kim van Reizig