’n Gedurige handewassery of vrees vir kieme kan op obsessief-kompulsiewe steuring dui – en dit kom net so baie by kinders voor. 

Toe haar seun vreemd begin optree, het sy eers gedink dis dalk net nog ’n fase hier op die drumpel van sy tienerjare. Maar toe Deon* elke halfuur in die badkamer verdwyn, maklik 10 minute lank sy hande was en weier om hulle twee keer aan dieselfde handdoek af te droog, het sy ma bekommerd geraak.

Boonop het hy aan die etenstafel daarop aangedring om eerste sy kos in te skep, want hy wou aan geen skeplepels raak as iemand anders dit voor hom gebruik het nie. Toe hy ook nie meer met die honde wou speel of saam met die res van die gesin veerpyltjies gooi nie omdat hulle “vuil’’ is, het Pauline* by sy skoolsielkundige gaan hulp vra.

Op 13 is obsessief-kompulsiewe steering (OKS) by Deon gediagnoseer. Vir sy ma was dit ’n skok, want sy het soos baie mense gereken dis ’n steuring wat meestal volwassenes raak.

Tog sê Paul Serebro, stigter van die OKS-vereniging van Suid-Afrika: “Minstens die helfte van volwassenes met OKS het dit al in hul kinderjare ontwikkel.”

OKS is algemener by kinders tussen sewe en 18 jaar oud, maar kan by kinders so jonk soos twee of drie voorkom. Na raming ly tussen 1 en 3 persent van alle kinders daaraan. Terwyl volwassenes beter toegerus is om die voortdurende obsessies en kompulsies eie aan OKS te hanteer, is dit vreesaanjaend vir ’n kind om dit te ervaar.

Vroeë ingryping is belangrik om hulle te red van die steuring se indringende simptome, soos ’n oormatige handewassery of voortdurende tellery, en hulle dit mettertyd te leer bestuur.

“Maande lank het Deon se broers hom oor sy steuring geterg, want hulle het dit nie verstaan nie,” vertel Pauline. “Dit het hom seergemaak en hy het hom vir ure in sy kamer toegesluit. Dit was vir hom baie frustrerend en hy het wanhopig sy gedrag soveel moontlik probeer wegsteek. Ek dink hy het abnormaal gevoel. Hy het geweet hy tree anders op as die ander gesinslede en die ander kinders by die skool.”

Nadat OKS by Deon gediagnoseer is, het Pauline die gesin bymekaargeroep, die steering aan hulle verduidelik en hul steun gevra. Nou, ses jaar later, ontvang hy steeds terapie en gebruik hy medisyne wat sy simptome beheer.

OKS staan as ’n stil siekte bekend, want baie lyers steek uit skaamte en verleentheid hul simptome weg. Terwyl die meeste volwassenes met OKS erken hul optrede is sinloos, besef kinders dalk nie dat hul gedrag buitengewoon is tot dit hul lewe negatief begin beïnvloed nie, skryf kenners van die Angs-en-trauma-kliniek van Suid-Afrika op hul webtuiste.

Daarby kan kinders dit ook moeiliker vind om hul ervarings te verwoord. OKS kan die risiko van selfmoord verhoog omdat die siekte ontmoedigend kan wees. Dit verhoog ook die risiko van drank- en middelmisbruik, want mense wend hulle tot ongesonde hanteringsmeganismes. Daarom is dit belangrik dat jy die steuring beter verstaan as jou kind daaraan ly.

Gesonde mense voer ook rituele uit, soos om voor hulle uit die huis gaan ’n paar keer te kyk of die stoof af is of dat die deure behoorlik gesluit is. By iemand met OKS bereik die rituele ’n punt waar dit drasties met hul daaglikse lewe inmeng en die herhalings vir hulle tydrowend en ontstellend word.

OKS word gekenmerk deur  herhalende en intense obsessies en kompulsies. Obsessies, meestal irrasioneel en indringend, is meer as blote kommer.

’n Jonger kind met OKS kan dalk voortdurend bang wees dat iemand ’n gesinslid kwaad wil aandoen. Hy bly dan kompulsief kyk of al die huis se deure en vensters toe is nadat sy ouers al gaan slaap het. Daardeur wil hy keer dat ’n ramp hulle tref en probeer hy sy eie angs verlig.

Tieners met OKS is dalk bang kieme kan hulle siek maak en was so dikwels hul hande dat die vel droog word en selfs begin bloei. Kompulsies – herhalende rituele soos hande was, dinge opgaar, orden en alles herhaaldelike nagaan of tel – is alles daarop gemik om die stres te verlig wat deur obsessies veroorsaak word. Lyers aan OKS geniet dit nie om sulke rituele uit te voer nie; dit bied hulle net tydelike verligting.

’n Enkele oorsaak vir hierdie ongeneeslike afwyking is nog nie gevind nie, maar kenners reken oorerflike faktore speel ’n rol en ook omgewingsfaktore soos trauma weens byvoorbeeld mishandeling of siekte.

Dit is tot 12 keer waarskynliker dat gesinslede van kinders en tieners met OKS ook aan hierdie steuring sal ly, sê prof. Christine Lochner van die Mediese Navorsingsraad se eenheid vir stres- en angssteurings. Hoe later die steuring ontwikkel, hoe groter is die rol wat omgewingstoestande speel, voeg sy by.

Kinders met OKS het ook ’n groter kans om aan nog ’n angssteuring, aandaggebrekhiperaktiwiteitsteuring, of depressive te ly.

OKS word met kognitiewe gedragsterapie en ook medikasie behandel. “Die pasiënte sal nooit ophou indringende gedagtes kry nie, maar hulle kan dit leer hanteer,” sê Paul.

* Skuilname

Hoe kan ouers help?

As jy moontlike OKS-simptome by jou kinders bespeur, kyk of hul kompulsies ’n groot uitwerking op hul lewe het. Party herhalings by kinders is normaal en kan oorgesien word. Daarom moet jy kyk of die uitvoer van kompulsies jou kind angstig maak en baie tyd in beslag neem.

  • Soek ’n terapeut of sielkundige wat in OKS spesialiseer. Hulle kan óf OKS by jou kind diagnoseer óf vasstel of hulle ’n ander probleem het en die verskillende behandelingsopsies met jou bespreek.
  • Nadat die diagnose gemaak is, roep die hele gesin bymekaar en beklemtoon hoe belangrik hul steun is – dit is deurslaggewend vir die behandeling van iemand wat met OKS saamleef. “Die gesinslede moet inligting oor die steuring inwin sodat hulle kan weet wat om te verwag. Onsekerhede kan tot baie angs en misverstande lei,” sê prof. Christine Lochner van die Mediese Navorsingsraad se eenheid vir stres- en angssteurings. “Die gesin moet oor die toestand praat en openlik daaroor wees.”
  • Verban skuldgevoelens. Dis algemeen dat ouers skuldig voel wanneer OKS by hul kind gediagnoseer word en dink hulle moet deels die skuld kry. “Dit help nie om skuldig te voel oor die moontlike oorsake nie,” sê Christine. “Dit is waarskynlik veel ingewikkelder as een faktor en ’n skuldgevoel sal nie die situasie verbeter nie.”
  • Moenie aan jou kind se OKS-rituele deelneem of dit aanhelp nie. Jou sielkundige moet vir jou strategieë gee waarmee jy dit spesifiek in sy geval kan vermy.
  • Sorg dat jou kind sy medisyne klokslag gebruik en terapie-afsprake nakom. OKS kan vererger as dit nie deurlopend behandel word nie.
  • Dit is belangrik dat jy kalm bly wanneer ’n kind met OKS ’n woedeuitbarsting het of huilerig is. Kinders met OKS is geneig om uit frustrasie uitbarstings te hê. Met jonger kinders help dit om dan in ’n stadige, kalm stemtoom te sê: “Wanneer jy in ’n gewone stem met my kan praat, kan ek jou help.”
  • Sê vir ’n ampertiener: “Praat stadiger en vertel my wat gebeur het.”

Nuttige telefoonnommers

  • Die inligtingsentrum vir geestesgesondheid van Suid-afrika 021-938-9229
  • Die mnR-eenheid vir angs- en stressteurings, departement van psigiatrie, Universiteit Stellenbosch 021-938-9179
  • Obsessief-kompulsiewe Vereniging van Suid-afrika 011-447-2875
  • Suid-afrikaanse Depressie-en-angsgroep 0800-20-50-26

Tekens van OKS by kinders

  • Rou, gebarste hande omdat hulle gedurig gewas word.
  • Toetspunte verswak skielik.
  • Lang, onproduktiewe ure van huiswerk doen.
  • Gesinslede moet gedurig vreemde frases herhaal of gedurig dieselfde vraag beantwoord.
  • ’n Intense vrees vir siekte.
  • Hulle het skielik baie meer wasgoed.
  • Hulle volg ’n uitgerekte roetine voor hulle bed toe gaan.
  • ’n Voortdurende vrees dat iets aakligs met iemand sal gebeur.
  • Voortdurende vrae oor hul gesinslede se gesondheid.
  • Huiwering om die huis te verlaat en buite aan aktiwiteite deel te neem.

- Kim van Reizig

Ekstra bronne: www.knowyourocd.co.za, www.aacap.org, www.atclinic.co.za, www.kidshealth.org