Dit maak ’n ma radeloos: Jou oulike engeltjie ontaard in ’n skoppende monstertjie en jy voel later jy wil saam skree. Dr. Anthony Costandius, ’n sielkundige, en Nikki Bush, skrywer en kenner op die gebied van kreatiewe ouerskap, het raad met woedeuitbarstings.

Wat veroorsaak woedeuitbarstings?

Volgens Nikki dui woedeuitbarstings op een van die volgende:

  • ’n Bedorwe of manipulerende kind wat enige tyd, enige plek haar sin wil kry.
  • ’n Kleuter wat weet wat hy wil hê, maar gefrustreerd raak omdat sy woordeskat te klein is om sy wens te verwoord.
  • ’n Kind wat onsigbaar voel omdat haar ouers emosioneel afwesig is (selfs wanneer hulle teenwoordig is). Vir so ’n kind is selfs slegte aandag, soos ’n ouer wat kwaad raak, beter as geen aandag nie.
  • ’n Kind wat onvolwasse ouergedrag naboots om te kry wat hy wil hê.

“Ek glo woedeuitbarstings gebeur net wanneer dit toegelaat word en wys die situasie is buite beheer,” verduidelik Nikki. “Óf jy het beheer verloor en jou kind probeer uitvind waar die perke lê óf jou kind het beheer verloor en moet gewys word waar die perke lê en dat hy op ’n beter manier uiting aan sy gevoelens kan gee.”

Anthony sê sommige ouers leer hul kind woedeuitbarstings hê omdat hulle toegee aan enige van die kind se eise sodra die kind ontsteld raak. “Daarom leer die kind: Wanneer ek tekere gaan, kry ek wat ek wil hê.”

Hy waarsku ook kinders wat geneig is tot woedebuie, is dikwels sensitiewe siele wat daarvan hou om in beheer te voel en dus meer angstigheid wys. “Sulke kinders het dikwels ook angstige ouers, oftewel perfeksioniste, kwelgeeste, beheerders of mense wat minder buigsaam is en nie van verandering hou nie. Dan dui ’n woedeuitbarsting op die kind se onvermoë om in beheer van sy optrede te bly, terwyl hy ’n baie intense emosie ervaar.”

Kan ’n mens sulke uitbarstings verhoed?

Dis ’n uitdaging om woedeuitbarstings by jonger kinders (onder 12) te voorkom, sê Anthony. “Kinders kan nie perspektief kry op hul gedagtes, gevoelens en optrede nie. Hulle ervaar dit baie direk en intens. As die ouer die kind kan kalm hou en laat konsentreer op die eintlik probleem, kan ’n hulle ’n uitbarsting voorkom. Maar gewoonlik, veral by kinders onder ses, gebeur en vererger die uitbarsting voor die ouer dit kan regkry,” sê Anthony.

Nikki glo ouers moet meer teenwoordig wees en aandag gee wanneer hulle by hul kinders is. “Probeer uitwerk wat hul behoeftes is sodat jy ’n uitbarsting kan voorspring. Dikwels is kinders moeg, honger, dors, verveeld of kort hulle die regte soort ouer-aandag.” Sy voeg daarby berg soms selfs net ’n bietjie tyd op jou skoot. “Lees 10 minute vir hulle ’n storie voor of speel ’n speletjie nadat jy hulle heel oggend nie gesien het nie. Wys vir jou kind dat hy belangrik is en dat jy hom raaksien.”

Volgens Nikki wil mense, ongeag hul ouderdom, raakgesien word en vra hulle drie vrae in hul onderbewussyn: Sien jy my? Hoor jy my? Is ek vir jou belangrik. “As kinders kan aanvoel dat die antwoord op al drie vrae ja is, raak die kans op ’n uitbarsting soveel geringer.”

Hoe hanteer ek sulke uitbarstings?

Sodra jou kind se gedrag handuit ruk (byvoorbeeld huilery, skoppery en slanery), is hy so ontsteld dat hy nie redelik kan dink nie, verduidelik Anthony. “Enige poging om hom te kalmeer, te onderhandel, dreig, slaan of hoe jy hom ook al tot sy sinne probeer bring, sal misluk.”

Hy stel voor dat ’n kind wat onbeheersd huil, kamer toe gestuur word vir ’n blaaskans. “Dit is nie ’n straf nie, maar ’n kans om sy gevoelens onder beheer te kry in ’n veilige omgewing, soos sy kamer.”

Wanneer die kind ook ander onbeheersde gedrag (buiten huil) wys, beveel Anthony aan dat die ouer die kind op die grond probeer vaspen. “Hy sal aanhou skree en selfs vloek. Maar die ouer moet self kalm en beheers bly. Sodra die ouer kalm is, moet hy/sy saggies met die kind begin praat en die volgende sê: (1) Ek is regtig lief vir jou. (2) Ek hou nie daarvan dat jy (beskryf die gedrag, byvoorbeeld: skop, skree of byt) nie. (3) Ek gaan jou vashou tot jy stil is. (4) Sodra jy stil en rustig is, sal ek jou laat gaan en jou tyd gee om te herstel in jou kamer.”

Die ouer behoort, volgens Anthony, dié vier stellings te herhaal tot die kind kalmeer het. “Gee eers later (’n halfuur of wat nadat die kind genoegsaam herstel het) aandag aan dit wat tot die uitbarsting gelei het.”

Nikki stel voor dat jy jou kind leer hy/sy mag maar ’n woedeuitbarsting hê, solank dit in haar kamer is. “Die opvoedkundige sielkundige Ken Resnick sê ’n uitbarsting is ’n gedragskeuse. Volgens hom moet ouers vir hul kinders sê: ‘Uitbarstings beteken ek wil na my kamer toe gaan en daar bly tot ek wil uitkom.’” Sy sê jou kind mag dan eers toegelaat word om uit hul kamer te kom nadat hulle verskoning gevra het. “Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul optrede en leer uitbarstings is onaanvaarbaar.”

Help dit om ’n woedeuitbarsting te ignoreer?

“Moenie swak gedrag met aandag (goed- óf afkeurend) beloon nie,” sê Anthony. “Deur jou te onttrek sodra die kind ’n uitbarsting begin kry, leer jy haar sulke optrede help haar nie haar doelwit bereik nie. Dit dwing haar om meer beheer uit te oefen sodat sy haar doelwit kan bereik.”

Ouers moet wel ingryp wanneer ’n kind se optrede ’n bedreiging inhou vir die kind, ander mense, troeteldiere of voorwerpe in die huis, waarsku hy.

Volgens Nikki sal dit beslis help as jy die uitbarsting ignoreer. “Dit geld veral vi die eerste een. As jy opgewerk raak, weet kinders hulle het jou knoppie’ gekry en sal hulle dit weer en weer doen.” Sy beveel aan dat jy die kind se aandag aflei deur te sê: ‘Kom ons gaan . . .’ of: ‘Kom doen dit of dat.’”

Wat van tieners?

Dieselfde drie vrae wat sy vroeër genoem het, geld ook vir tieners, sê Nikki. “Tydens enige lewensfase gebeur ’n kind se uitbarstings net as dit toegelaat word. Die maklikste raad teen uitbarstingsgedrag is om aan jouself en jou eie bestuurstrategie te werk.”

Volgens Anthony is jonger kinders se uitbarstings dikwels meer fisiek terwyl tieners verbaal afbrekend word. “Onttrek jou van die tiener sodra die slegte gedrag begin. Los die situasie en hou vol jy gaan eers aandag aan die probleem skenk wanneer hy bereid is om hom te beteuel.” Hy gee toe dis ’n moeilike strategie. “Dit vereis van die ouer om kalm en gefokus te bly en nie met aggressie te reageer nie.

Watter foute maak ouers?

Omdat ouers bang is vir hul kinders se slegte emosies en hul kinders graag gelukkig wil hou, raak hulle gou paniekerig wanneer ’n kind ontsteld is, sê Anthony. “Kinders wat uitbarstings het, het dikwels angstige ouers. Hierdie ouers moet werk daarvan maak om hul angstigheid te bestuur sodat hulle nie koers verloor wanneer kinders ontstellende emosies ervaar en onvanpas optree nie.”

Volgens Nikki is ouers se algemeenste fout hulle “baklei terug en verstaan nie hul kinders se behoeftes nie. Hulle gee toe aan ’n kind se behoefte om uitbarstings te hê.”

- Suzaan Hauman