Jy is saam met ’n groep vreemdelinge en skielik laat val jou kleuter die F-woord. Die kind weet waarskynlik nie eens wat die woord beteken nie, maar dis nogtans ’n reuse verleentheid. Hoe nou?

Volgens die opvoedkundige sielkundige Melanie Hartgill vloek die meeste kinders die een of ander tyd; jonger kinders herhaal dikwels wat hulle gehoor het.

Kleuters verstaan nie wat vloekwoorde is nie. Hulle hoor die woorde in hul omgewing en neem aan dis maar hoe ’n mens praat.

“Dis moeilik om vloek by jonger kinders te bestuur, want hulle boots dikwels na wat hulle hoor. Die beste raad met jou jong kinders is om hulle kalm reg te help en te probeer leer dat dit wat hulle gesê het, ’n slegte woord is,” sê Melanie.

Hanteer dié netelige situasie so:

  • Vind uit waar jou kind die vloekwoorde aanleer. As iemand in die huis baie vloek, vra hy moet ophou, en verduidelik vir die kind vloekwoorde is onvanpas. Jou kind kon die vloekwoorde op die TV gehoor het of selfs in liedjies oor die radio. Keer dat hy aan so iets blootgestel word.
  • Stel reëls in die huis op vir die gebruik van vloekwoorde. As iemand vloek, moet daar gevolge wees. Jou kleuter moet verstaan sy sal in die moeilikheid beland wanneer sy vloek, want vloek is verkeerd.
  • Moenie lag wanneer jou kind vloek nie. Hy sal dink sy vloekery is snaaks; daarom sal hy dit weer doen. Maar moenie kwaad wees nie; verduidelik net ’n gevloek is onaanvaarbaar. Gebruik woorde soos “nee” en “sleg”’ om die punt oor te dra.
  • Dissiplineer jou kleuter deur haar te laat uitsit as sy nie wil ophou vloek nie. Of neem haar gunsteling-speelding weg om haar te leer sy sal in die moeilikheid kom wanneer sy vloek.
  • Let op wat jy in jou kleuter se geselskap sê. Jou kind sal herhaal wat jy sê.
  • “Verduidelik dat mense nie daarvan hou om die woord te hoor nie; daarom moet hy dit nie sê nie. As jy dit self gebruik en jou kind wys jou daarop, sê dan hy kan jou gerus herinner om dit ook nie te sê nie. Wanneer hy jou herinner, vra verskoning en gebruik ’n ander woord,” sê Melanie.

-Katlego Mkhwanazi

Ekstra bronne: bounty.com, babycenter.com