Maar mettertyd word jou kleinding 'n kleuter wat steeds tussen Ma en Pa slaap.  Hoe leer jy hulle dan om in hul eie bed te slaap? En is ‘n gesinsbed voordelig vir jou kind of eintlik nie? Ons het by kenners raad gevra.

Alleen slaap of nie?

“Navorsing wys daar is ‘n groter risiko van wiegiedood by babas wat by hul ouers in die bed slaap,’’ waarsku Anne-Marie Rencken, direkteur van opleiding en ‘n geakkrediteerde bemiddelaar by die Instituut vir gesinsbemiddelaars (IFM) in Johannesburg.  “In Amerika en Engeland keur die pedriatriese verenigings die slaap van babas tussen ouers af,”  sê sy.

Terwyl Anne-Marie geen voorstander van die sogenaamde gesinsbed is nie, meen Lee-Ann Stretch, ‘n slaapterapeut van die beradingsdiens Sleep Matters in Johannesburg, die beste slaapplek vir ‘n baba verskil van gesin tot gesin.  “Kyk wat vir jou gesin die beste werk, solank almal gelukkig is en ‘n goeie nagrus kry.” Lee-Ann beklemtoon sy het geen formele opleiding, maar het agt jaar ondervinding as slaapterapeut en gebruik  wenke uit die skrywer Erica Neser se boek, Sleep Guide for Babies and Toddlers.

Party gesinne laat eers die baba in die ouers se kamer slaap en verskuif hom of haar na ‘n eie kamer wanneer hulle ‘n bietjie ouer is, verduidelik Lee-Ann. “In ander gesinne slaap die ma in die babakamer sodat die pa ‘n goeie nagrus kan kry. In party gesinne loop die kinders dalk in die middel van die nag na hul ouers se kamer toe en dan skuif óf Ma óf Pa na ‘n ander kamer of bed oor.”

Tot op watter ouderdom mag ‘n kind in jou bed slaap?

“Wanneer hulle heel klein is, is dit natuurlik gevaarlik weens wiegiedood,” sê Anne-Marie. “En vanaf ses maande ontwikkel hulle nie net ‘n eie slaappatroon nie, maar moet ook leer om hulself te troos en nie van troos van buite soos fopspene, susbewegings of ‘n ander mens se asemhaling afhanklik te wees nie.”

Selfs voorstanders daarvan dat kinders by hul ouers in die bed slaap, meen die gebruik moet teen skoolgaande ouderdom gestaak word, sê Anne-Marie. “Maar wanneer ‘n gewoonte eers vasgelê is, is dit baie moeilik om dit af te leer. Kinders kan dan vloermoere gooi en jou met allerhande gedrag   begin manipuleer om hul sin te kry.”

Daar is geen voorgeskrewe ouderdom waarop jou kind in sy eie bed of kamer moet gaan slaap nie, sê Lee-Ann. “Maar hoe ouer die kind word, hoe moeiliker gaan dit wees om hom of haar uit jou bed of kamer te kry,” voeg sy by.

Die verandering moet gemaak word wanneer die  ouers en die kind daarvoor gereed is, beveel sy aan.

Nadele van ‘n gesinsbed

  • Babas kan sterf of beserings opdoen;
  • Kinders raak afhanklik daarvan dat iemand by hulle in die bed of kamer moet wees voordat hulle aan die slaap kan raak. Hul skeidingsangs kan ook vererger.
  • Ouers se slaap word onderbreek en hulle slaap sleg.
  • Met ‘n rustelose ouer in die bed, kan die kind slegte slaappatrone ontwikkel.
  • Die ouers boet intimiteit en privaatheid  in. Die pa kan verworpe voel as die ma by die baba slaap en dit kan spanning in die huwelik veroorsaak.
  • Die gesinsbed word ’n nog groter uitdaging wanneer meer as een kind by die ouers in die bed wil kruip.

Voordele

  • Dit bevorder die bindingsproses
  • Dis vir die ouers gerusstellend om hul baba/kinders  by hulle te hê.
  • Kinders kry minder nagmerries  en is meer selfversekerd.
  • Ouers hoef nie vir ‘n huilende  kind op te staan nie – dis veral gerieflik vir ‘n ma wat nog borsvoed.

Wenke om jou kind uit jou bed te skuif

  • Laat  jou kinders bedags in hul eie kamer slaap sodat hulle daar kan tuis raak;
  • Vestig ‘n aand-roetine en begin daarmee in jou kind se kamer. Gaan dan terug na jou eie kamer toe;
  • Laat  jou kleuter op ‘n matras in jou kamer slaap en maak ‘n groot ophef daaroor dat  hy sy eie bed het. Hy sal steeds veilig voel, maar alleen slaap.
  • Trek na jou kind se kamer en slaap daar sodat hulle aan hul eie omgewing kan gewoond raak. Sodra hulle gemaklik is daar, trek terug na jou eie kamer toe.
  • Laat jou kind alleen aan die slaap raak.

-        Danél Blaauw