’n Jong ma in ons SuperMa-Facebook-gemeenskap het onlangs aan ons geskryf en raad gevra. Sy het verduidelik dat sy en haar seun se pa hul verhouding verbreek het terwyl sy nog swanger was. Al het hulle aanvanklik nie veel kontak gehad nie, sien sy nou haar eks soms by sosiale geleenthede, en haar seuntjie raak dan baie ontsteld. “Wanneer hy sy sogenaamde pa sien, gil hy en hardloop na my toe. Hy verbied sy pa om aan my te raak, raak gespanne, huil en vra hom om te loop. Is dit normale gedrag?”

Die Johannesburgse voorligtingsielkundige Deborah Bernhardt werk met geskeide pare en as ’n gesinsbemiddelaar. “Dit is beslis nie normaal vir ’n baba om gespanne te raak, te huil en die pa te verwerp terwyl hy ander mans aanvaar nie (soos dié seun),” sê sy. Sy sê dit is belangrik om die volgende kwessies aan te roer:

Hoe kan die ouers se gedrag die kind beïnvloed?

Stry hulle voor die seun? Probeer die pa op fisieke vlak met die ma verbind? Dit is dalk vreemd vir die seun omdat ander mans dit nie doen nie. Raak die ma angstig of emosioneel voor of nadat sy die pa gesien het?

Al dié situasies kan tot die kind se negatiewe gevoelens bydra. Hy kan sy pa as intimiderend of ’n bedreiging vir sy ma ervaar. Hy kan ook meen hy moet meeding met sy pa vir sy ma se aandag. Dit kan alles sy emosionele reaksie verduidelik.

Die pad vorentoe

Deborah sê dit is noodsaaklik vir die ouers om duidelikheid in hul verhouding te kry. Dit gaan help dat pa en seun ’n positiewe verhouding hê en die seun gaan nie verwarrende boodskappe kry nie. “Daarna moet hulle besluit watter kontak vir pa en seun paslik gaan wees in terme van gereeldheid, tydsduur en plek.” Sy voeg by dat dit in die seun se beste belang is dat ’n neutrale derde party dié ontmoetings waarneem.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.