Gesonde kinders is normaalweg woelig en seerkry is deel van grootword. Vir elke skeet en kwaal is daar gewoonlik een of ander boereraat of plan, maar wanneer jy dit gaan naslaan kom jy agter dat dit soms meer kwaad as goed doen. Ons het by ’n Craig Hartley, hoofparamedikus van St. John ambulansdiens gaan aanklop vir raad.

Jou dogter kry 'n splinter in haar vinger of voet. Wat moet jy doen?

Splinters moet heeltemal verwyder word, omdat hout bakterieë kan bevat wat infeksie sal veroorsaak as dit in jou liggaam bly. Jy moet die vel oor die splinter met 'n steriele naald stukkend krap, sodat jy die hele splinter uittrek. As jy nie die vel stukkend krap nie, kan 'n deel van die splinter onder die vel agterbly. As die splinter baie diep is, gaan dokter toe.

Jou twee seuns baklei en die een se neus bloei erg. Wat moet jy doen?

As jy 'n sneesdoekie in die neus druk, stop jy die bloeding net tydelik. As jy hom op sy rug laat lê, vloei al die bloed na sy maag. Dit kan nie net sy maag omkrap nie, maar hom ook laat opgooi. As jy op die brug van die neus druk, plaas jy drukking op die bloeiende aartjies en dit sal help om die bloed stol. Maak seker jy druk die sagte deel van die neus en sê vir hom hy moet deur sy mond asemhaal.

Een van jou kinders val van sy fiets af en doen ’n paar diep skrape op. Wat moet jy doen?

Gewone seep en water behoort die ding te doen. Waterstofperoksied sal nie vuiligheid uit 'n wond kry nie en dit maak wit bloedselle saam met die bakterieë dood, wat die risiko van infeksie verhoog. Nadat jy die wonde gewas het, sit 'n klein bietjie antibiotiese salf op elke skraap en bind ’n steriele verband om dit te beskerm. As die snye diep is en jy dink steke is nodig, moenie salf opsit nie en gaan dadelik dokter toe.

As dit lyk of jou dogter 'n toeval kry, wat moet jy doen?

Daar is geen manier waarop jy 'n toeval kan keer nie. As jy haar mond probeer oopdwing, kan jy haar seermaak. Laat iemand 'n ambulans bel terwyl jy enige voorwerp wat sy kan raak slaan verwyder, sodat sy nie haarself beseer nie.  As jy haar na die toeval wil verskuif, draai haar sagkens op haar sy, sodat enige vloeistof uit haar mond loop en sy nie verstik nie.

Jou seun kry iets giftig in. Wat moet jy doen?

Bel jou naaste noodsentrum, hospitaal of huisdokter. Vertel vir hulle wat die kind ingekry het en hoe lank gelede. Jy moet ook probeer om vir hulle te se hoeveel hy daarvan ingekry het. Dis 'n wolhaarstorie dat melk die gif sal neutraliseer. Om hom te laat opgooi, is gevaarlik, want as hy 'n bytmiddel soos 'n skoonmaakmiddel vir afvoerpype ingekry het, kan dit sy keel brand as hy dit opbring.

Olie spat op jou dogter terwyl sy jou help kook en dis baie seer. Wat moet jy doen?

As iemand brand, word die weefsel gedehidreer en daarom is dit belangrik om hidrasie in daardie liggaamsdeel so gou as moontlik te herstel. Hou die gebrande deel onder koue lopende kraanwater of hou die wond sowat twintig minute lank in 'n bak yswater. Sodra dit afgekoel het, draai 'n droë, steriele verband om. Moenie salf of enigiets vetterig aansmeer nie, want dit sal die lugtoevoer na die wond afsny en dit vererger. Wees versigtig om ys op die wond te hou, want sulke intense koue kan die vel beskadig.

Jou dogter val net voor slaaptyd en stamp haar kop, en nou het sy 'n knop so groot soos 'n hoendereier aan haarvoorkop. Wat moet jy doen?

Kyk eerstens hoe groot haar pupille is - hulle moet ewe groot wees. Kyk ook of daar enige verandering in haar gedrag is. As sy deurmekaar, gedisoriënteerd of van balans af is of dikwels opgooi, moet jy haar dadelik hospitaal toe neem. Dubbele visie, swakheid of stuipe is ook tekens van harsingskudding – hou haar dus goed dop, sê Craig. As sy baie jonk is, kan 'n aanhoudende geskree ook 'n slegte teken wees.

Jou seun verstik aan sy kos. Wat moet jy doen?

As iemand hoes, is die kans goed dat hy self van die kos wat hom laat verstik, ontslae kan raak. As jy hom op die rug slaan, kan die kos nog meer vassit. Dieselfde kan gebeur as jy dit met jou vingers probeer uitkry. As hy nie kan asem kry nie, laat iemand 'n ambulans bel en probeer die Heimlich-beweging.

Sò doen jy dit:

As dit 'n volwassene is, gaan sit of staan agter hom. Maak 'n vuis met die een hand en plaas dit teen sy maag met jou duim net bo die naeltjie. Gee vyf harde opwaartse drukke teen die maag en kyk of die voorwerp losgekom het. Herhaal tot die voorwerp uit is en die mens weer kan asemhaal.

As dit 'n jong kind (jonger as 'n jaar) is, beveel Craig aan dat jy die kind met sy gesig na onder teen 'n hoek oor jou voorarm laat lê. Slaan hom vyf keer op die rug. Draai hom nou om en hou hom tussen jou arm en hand vas. As die voorwerp nog steeds vassit, druk met twee vingers vyf keer hard van onder teen die bors - sorg dat albei vingers onder die tepellyn is. Kyk of die voorwerp losgekom het. Hou aan met die behandeling tot hulle die voorwerp uithoes en normaal begin asemhaal.

- Kerri-Ann Roper