“Jy is te dom om enigiets te verstaan.”

Dit was ’n gereelde beskuldiging, harde woorde wat die 15-jarige Carmen* elke keer diep verneder laat voel het voor haar klasmaats. Vandag is sy ’n 20-jarige vrou met ’n goeie administratiewe pos in die regswêreld, maar die letsels van die geboelie deur haar hoërskoolonderwyseres wil net nie genees nie.

Sy kry steeds seer wanneer sy aan die aanhoudende afknouery terugdink. Sy sien nog die juffrou se gesig: onvriendelik en yskoud. “Sy was ons natuur- en skeikunde-onnie en die hokkie-afrigter. Ek was nie goed met skeinat nie, nog minder met hokkie. Sy het my uitgesonder en geweier om die werk aan my te verduidelik as ek nie verstaan nie. Ek het regtig hard probeer, net sodat sy van my moes hou, maar ek was net nooit goed genoeg nie. Sy sou my al op die stoep voorkeer wanneer ek na haar klas stap en my vra om om te draai, want ek is nie welkom nie.”

So het dit voortgeduur van gr. 9 tot in matriek, vertel Carmen. “Ek het haar op ’n ordentlike manier probeer konfronteer en gesê sy sonder my onnodig uit en beledig my, maar sy het in my gesig gelag.”

Die skoolhoof was onsimpatiek. Selfs toe die ander kinders begin oplet het sy word uitgesonder, is niks gedoen nie.

Haar ouers wou nie betrokke raak nie. “Toe ek oor die onnie kla, het hulle gesê ek moet my eie stryd stry. Ek dink sy is vandag nog by daardie skool, maar boelies hoort nie in skole nie.”

Sy is nou spyt sy het nie berading gekry of selfs die skool verlaat nie. “Ek wroeg nou nog daaroor en sal nooit eendag my kinders na dieselfde skool stuur nie. Ek sal hulle teen sulke afknouery wil beskerm. Geen mens verdien dit om so behandel te word nie; dis aaklig.

“Ek glo daardie juffrou het presies geweet wat sy doen, maar ek weet nie wat ek gedoen het om so verneder te word nie. Sy het my emosionele welstand verwoes met haar nare opmerkings. Sulke goed vergeet jy nie.”

In ons skole is daar inderdaad magshonger gesagsfigure, en te veel van hulle. Hulle is die opvoeders wat openlik boelie en hul gesagsposisies misbruik.

’n Jong vrou skryf aan ons: “My broer was erg disleksies en in gr. 4 toe sy meneer hom voor die hele klas lui noem omdat hy altyd verkeerd spel. Die meneer het hom toe aan sy hemp opgetel en voor almal rondgeskud.”

Ongelukkig is daar steeds onderwysers en sportafrigters wat kinders boelie, sê die Kaapse sielkundige dr. Ezette du Plessis. “Hierdie mense behoort eintlik glad nie met kinders te werk nie en beoefen bloot die beroep vir ’n inkomste.”

Dis mense wat nie besef hul ware taak is om elke kind, met hul swakhede en beperkings, so te benader dat dit hul selfbeeld bevorder nie. “Hulle staar hulle blind teen die kind se tekortkomings en mislukkings en dink hulle gaan die kind deur afbrekende kommentaar motiveer om te verbeter.”

Boelie-onderwysers is dikwels magsbehep of sukkel met ’n swak selfbeeld. Hulle benodig die kind se prestasies om hul eie ego te streel. “Emosioneel afknouende boeliepraktyke is steeds taamlik algemeen. Dis dikwels subtiel sodat niemand werklik ’n vinger kan wys nie, maar rig in sekere gevalle blywender skade aan as die pak slae van ouds.

“Die kind word uitgesonder en voor maats verneder en verskree. Voorbeelde is om ’n kind wat nie vlot lees nie, hardop voor die klas te laat lees; ’n kind ’n bespotlike bynaam te gee; en die punte vir vraestelle hardop te lees sodat almal weet wie vaar die swakste.”

Dan is daar sportafrigters wat ’n kind uitsonder en die skuld gee vir ’n wedstryd wat verloor is. ’n Boelie-afrigter laat dalk ander kinders resies hardloop teen ’n outjie wat baie oorgewig is, en hulle prys gereeld hul witbroodjies. Onderwysers wat boelie, is dikwels self op skool geboelie en redeneer dit het hulle geen kwaad gedoen om hard groot te word nie.

“Jy moet jou kinders bemagtig,” sê Ezette. “Laat hulle voel jy luister en wil help met ’n plan om die leerkrag te benader. Laat jou kinders voel jy glo in hulle, en het hulle life nes hulle is.

“Sê hulle moet onthou die onderwysers werk met baie kinders en onthou nie met wie hulle die vorige dag geraas het nie. “Jy kan kinders byvoorbeeld help om hulle te verbeel daar is ’n onsigbare skild wat keer dat kwetsende opmerkings hulle raak.”

Onderwysers en afrigters moet onthou net een negatiewe opmerking wat dalk ’n diep snaar raak, kan ’n kind blywend knou. Wat moet ’n ouer vir die onderwyser sê wat sy kind boelie? “Sê iets soos: ‘Meneer, ek weet Jannie sukkel met sy wiskunde. Dit is nie jou skuld nie, maar dit sal regtig baie help as jy kan probeer om hom op te bou sodat hy nie moed verloor nie.’ ”

Boelie-onderwysers moet besef hulle sal net deur ’n positiewe benadering resultate kry. ’n Kind wat voel sy is ’n mislukking, het min motivering om te verbeter. Onderwysers moet ook nie die kinders se tekortkomings as ’n persoonlike mislukking beleef nie. “Hulle moet weet hul hooftaak is om elke kind, met hul tekortkomings, ’n positiewe assosiasie met die taak te gee en die kind se selfbeeld te bou. Fokus op vaardighede eerder as tekortkomings.”

Hoe gemaak met die boelie-onderwyser?

  • Die kinders self, ouers, ander onderwysers en skoolhoofde het elkeen ’n rol te speel as ’n onderwyser iemand boelie.
  • Skoolhoofde moet weet boeliegedrag is ’n wêreldwye tendens wat ook in Suid- Afrikaanse skole kommerwekkende afmetings aanneem, sê die skoolsielkundige dr. Petrus Herbert.
  • Outokratiese gedrag by ’n leerkrag se huis kan ’n aanduiding wees dat dit ook in die klaskamer gebeur. “Onnies is veronderstel om geestelik volwasse te wees en te weet hulle skep die klimaat by die skool waarin leerders optimaal moet groei.”
  • Ouers moet die skoolhoof met feite oortuig dat hul kind geboelie word en vra wat daaraan gedoen gaan word. Vra uit oor die skool se teenboelieprogram.
  • Die skoolhoof mag nie boeliegedrag deur leerkragte ligtelik opneem nie. As ’n ouer kan jy sorg dat die beheerliggaam ingelig word oor enige probleem, want hulle verteenwoordig jou en die gemeenskap.
  • Tydens oueraande kan ouers as ’n groep optree. Dis ook die tyd om ouers by die skool se intervensiestrategie te betrek.
  • Kinders moet aangemoedig word om hul maats, enige onderwyser of die skoolhoof van boelies te vertel.
  • Getraumatiseerde kinders kan na die skoolsielkundige verwys word. As die probleme diepliggend is, moet die ouers hul kind liefs na ’n privaat sielkundige neem.
  • Childline beveel aan dat elke skool ’n duidelike beleid teen boeliegedrag ontwikkel in samewerking met ouers, onderwysers en leerders. Dit moet alle vorme van boeliegedrag insluit (verbaal, fisiek en elektronies).
  • So ’n boeliebeleid moet konsekwent en vreesloos toegepas word.
  • Respekteer die verbod op lyfstraf en ontgroening by skole. Onderwysers en ouer leerders moet juis ’n niegewelddadige voorbeeld stel.
  • Onderwysers kan baie doen om te help. Bevorder bewusmaking onder leerders, byvoorbeeld deur rolspel, waar een die rol van die boelie en die ander dié van die slagoffer vertolk. Skep ’n ruimte waar kinders vreesloos kan sê wat hulle voel.
  • As die boelie-onderwyser as ’n kind geboelie is of ander probleme ervaar, kan sielkundige berading hulle help.
  • As jy ’n leerder is en geboelie word, moenie toelaat dat dit jou laat sleg voel oor jouself nie. Onthou, skoolgaan is ’n tydelike fase in jou lewe.
  • Hou jou kant skoon. Probeer jouself wees en moenie respek verloor vir die leerkrag nie. Probeer hom beïndruk met jou goeie maniere, al is hy snaaks met jou.
  • Maak ’n afspraak met die onnie en probeer die lug tussen julle suiwer.

Hier’s hulp

Besoek childlinesa.org.za vir nog inligting.

* Skuilnaam

- Haidee Muller