Toe ’n vermiste student van Bloemfontein se lyk onlangs opgespoor is, het menige ouers gewonder wat die uitkoms sou wees as die kind net betyds gevind kon word. En nou laat die nuus dat nog twee tieners van Pretoria spoorloos verdwyn het ouers opnuut met die angswekkende vraag: “Wat as my kind eendag wegraak?”

Terwyl geen ouer hieraan wil dink nie, is dit nodig om ’n plan te hê sou dit met jou gebeur en dat jy moet weet wat die regte stappe is om te volg.

Die organisasies Missing Children en Pink Ladies gee die volgende raad vir as jou kind wegraak:

  • Moet nie 24 uur wag nie; gaan dadelik na ’n polisiekantoor. Dit is ’n algemene wanopvatting dat jy ’n sekere aantal dae of ure moet wag voor jy iemand as vermis mag aanmeld.
  • Vul ’n SAPD-55(a)-vorm by jou naaste polisiekantoor in. Neem ook ’n onlangse foto van jou kind saam en enige ander foto’s of inligting wat jou kind kan help identifiseer. Maak seker dat jy die naam en kontaknommer neem van die polisiebeampte wat jou saak behartig.
  • Kontak Missing Children by 072-647-7464 of die Pink Ladies by 072-214-7439 en lig hulle in van die vermiste persoon.
  • Stuur die onderstaande inligting aan Missing Children by info@missingchildren.co.za of faks dit aan 0860-580-3310. Jy kan dit ook aan die Pink Ladies stuur by missing@pinkladies.org.za of admin@pinkladies.org.za. Hulle sal dan pamflette in inligting oor jou kind sirkuleer.

  1. Jou kind se naam.
  2. Jou kind se ouderdom.
  3. Die omstandighede rondom jou kind se verdwyning.
  4. Die besonderhede van jou SAPD-55(a)-vorm, soos wie die polisiebeampte is wat jou gehelp het en wat jou saaknommer is.
  5. ’n Onlangse foto van jou kind.

Nuttige skakels:

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale buro vir vermiste persone.

  1. Hoofkantoor: 012-393-2002/5/7
  2. Oos-Kaap: 041-394-6166
  3. Vrystaat: 051-503-2869
  4. Gauteng: 011-670-6415/6
  5. Kwazulu-Natal: 031-325-4756
  6. Limpopo: 015-290-6000
  7. Mpumalanga: 013-762-4391
  8. Noord-Kaap: 053-839-2820
  9. Noordwes: 018-299-7034
  10. Wes-Kaap: 021-467-8236/7

- Mieke Vlok