Die videogreep waarin Henna Scholtz (83) se seun, Johan, haar verskree, het skokgolwe deur die internet gestuur. Sy ly na bewering aan demensie.

Sommige lesers, wat self bejaarde ouers met demensie of Alzheimersiekte moet versorg, het simpatie met Johan, maar vra hoekom hy nie professionele versorging vir sy ma kry nie.

“Ek het al na iemand omgesien wat sterwend weens kanker was en iemand wat meer as drie beroertes gehad het en vreeslik moeilik was. Die eerste ding wat jy moet weet, is ’n mens praat nie so met hulle nie. My ouma het demensie gehad en sy was ’n handvol, (maar) nooit het enigeen van ons familie so met haar gepraat nie,” skryf Liandi Boshoff.

Sy sê dit help nie om op iemand te skel by wie dié siekte reeds ver gevorder het nie.

“Jy maak hulle net vol vrees en dit is walglik. Met betrekking tot die deel van die videogreep waarin Johan dreig hy gaan sy ma vermoor, skryf sy: “Hy kan bly wees hy is nie deel van my familie nie, want ek sal so ’n man se hakke trap dat sy siel kaal rondhardloop.”

Baie mense wat die berig gelees en videogreep gekyk het, is bekommerd oor haar veiligheid en vra dat sy gehelp word.

’n Familievriend het die polisie en maatskaplike dienste in Bloemfontein, waar sy op die oomblik by haar seun inwoon, in kennis gestel. Hulle het daarna die videogreep gekyk.

Die regsafdeling van die Vrystaatse departement van plaaslike regering weet ook nou van haar lot. Hulle het die videogreep gekyk en onderneem om ’n plaaslike raadslid te vra om betrokke te raak.

Intussen is sy nog in haar seun se sorg en weier glo steeds om familie se aanbiedings te aanvaar om elders versorg te word.

Johan se Facebook-profiel was gister (Donderdag) nog aktief, maar is vandag (Vrydag) onbereikbaar. Iemand wat hom goed ken, het aan Huisgenoot gesê Johan kry doodsdreigemente.

Die persoon sê die videogreep is sowat drie weke gelede verfilm. Hulle meen Henna is gelukkig en word goed versorg.

Johan se eksverloofde, wat die videogreep verfilm het, het telefonies aan Huisgenoot vertel dat sy gisteraand (Donderdag) onder polisiebewaking haar besittings by Johan se huis gaan haal het. Sy is baie bekommerd oor Henna se welsyn.

“Toe ek nog daar gewoon het, was ek haar versorger. Gisteraand moes sy self haar kos inskep. Sy is baie swak. Ek het haar verlede jaar ’n maand lank gaan oppas op Kleinmond, waar sy toe gewoon het. Dit was die lekkerste tyd ooit. Hoekom moes sy Bloemfontein toe kom?”

Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, erken die geriewe vir bejaardes soos Henna is baie beter in die Wes-Kaap. Hy stel voor die familie probeer ’n hofbevel kry, maar dis baie moeilik as Henna nie wil saamwerk nie.

Meld mishandeling aan

Volgens die hoof van berading by The Family Life Centre in Johannesburg, Judy Ramsden, moet enige geval van mishandeling aangemeld word.

Sy sê in ’n geval soos dié is dit enigeen wat die mishandeling sien gebeur het, se plig om dit aan te meld.

“Mense wat mishandeling sien gebeur of wat daarvan bewus is, moet dit dadelik by die departement van maatskaplike ontwikkeling aanmeld. As waarnemer het jy ’n verantwoordelikheid om dit te doen, om te weet wat om te doen en dit deur te voer,” sê sy.

Volgens Judy sal die departement die saak ondersoek nadat hulle genader is, en indien geregverdig, kan ’n klagte ingedien word teen die individu wat vir die mishandeling verantwoordelik is. In ander gevalle sal die departement kyk watter steun aan die betrokke partye gebied kan word.

“Die idee is dat die mens nie spesifiek van hul familie verwyder sal word nie, soos in baie gevalle van kindermishandeling, maar die departement sal die mishandeling en die probleme wat daartoe gelei het, ondersoek.

“Hulle sal ook kyk watter ondersteuningstelsels ingestel moet word, van berading tot om ’n sielkundige te ontbied of selfs mense soos ’n verpleegster te laat kom help in situasies waar dit duidelik is die oortreder worstel self met die een of ander probleem,” voeg sy by.

“As hulle nie hulp wil hê nie of as liggaamlike besering ’n faktor is, kan die departement sorg dat stappe gedoen word, want iets moet gebeur – van kyk na watter ander familielede kan ingryp om te help tot om ander vorme van steun te vind.”

Om mishandeling aan te meld, besoek die departement van maatskaplike ontwikkeling se naaste kantoor of bel 012-312-7500.

Anders kan jy die volgende instellings nader:

  • Die SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) by 10111
  • People Opposing Women Abuse of POWA bied telefoniese, beradings- en regsteun aan vroue wat mishandeling ervaar. Bel hul hulplyn by 083-765-1235
  • Famsa het kantore landwyd en gee berading aan die mishandelde mens en hul gesin. Bel 011-975-7101 of stuur ’n e-pos na national@famsa.org.za
  • Lifeline bied 24-uur-beradingsdienste. Bel hul nasionale beradingslyn by 0861-322-322.