Sy is steeds in die waakeenheid van die Muelmed-hospitaal in Pretoria onder verdowing.

Haar broer, Alex Louw, het Vrydag gesê die familie praat nie met die media nie en hulle sal dat Belinda besluit of hulle met die media gaan praat wanneer dit beter gaan met haar.

Lees ook: Hoogswanger vrou verloor baba ná sportnutsvoertuig haar by motorwassery tref

Sy was 38 weke swanger en haar seun, wat Ryan sou heet, sou vandag met ’n keisersnee gebore word. Verlede Saterdag het Belinda haar motor vir die koms van haar baba laat was toe ’n motorwasser beheer verloor oor ’n sportnutsvoertuig en bo-oor haar ry.

Die wasser wou die motor glo van die wasgebied na die plek neem waar dit gestofsuig sou word. Hy het beheer oor die voertuig verloor en by die waggebied ingery.

Huisgenoot het vroeër verneem Belinda het onder meer haar gewrig, ses ribbes en haar bekkenbeen gebreek, sy het ’n skeurwond aan haar pankreas opgedoen en haar een long en niere het seergekry.