Mark Lester beweer hy het met ’n lid van die Jackson-familie gepraat en dié het hom verseker die 15-jarige dogter van wyle Michael Jackson is op die herstelpad. Mark het op die Britse televisieprogram Lorraine gesê: “Ek het verlede week oor die foon met ’n nabye familielid gepraat. Ek verstaan dit gaan onder die omstandighede redelik goed met Paris en sy word versorg. Sy vaar oukei, sy is orraait, sy sal piekfyn wees.” Die 54-jarige Britse akteur meen die gekwelde tiener, wat ’n oordosis nievoorskrifpille gedrink en haar polse gesny het, wou haarself nie om die lewe bring nie; die hele voorval was net ’n kreet om hulp.    Hy het verduidelik: “Dis natuurlik ’n ernstige voorval en ek hoop dis nie iets wat sy regtig wou doen nie. Soos ek verstaan, was dit nie ’n ernstige poging nie. Maar dit was duidelik ’n kreet om hulp en dan moet ons dit respekteer en ons bes doen.” Mark, wat beweer hy is moontlik Paris en haar broer Prince (16) se biologiese pa omdat hy jare gelede sperm geskenk het aan Michael, het vertel hy sukkel om met Paris in aanraking te kom. Hy het verduidelik: “In die lig van wat met Paris gebeur het, gaan dit nog moeiliker wees, want sosiale media en foonlyne is afgesny . . . Ja, oukei, ek is seker hulle kyk na die beste van hul vermoë na haar. Maar wanneer dit oor ’n paar maande weer beter met haar gaan, sal die lyne van kommunikasie seker weer oopgaan.” Paris het ook ’n jonger broer, Blanket (11). Sedert Michael se dood op 25 Junie 2009 is al drie kinders in die sorg van Michael se ma, Katherine Jackson (83).