TV-kykers van kykNET se kosprogram, Kokkedoor, het die vrypostige Magda Johnstone verlede jaar leer ken as die deelnemer wat vir enigiets lag en giggel.

Maar na sy die derde plek in dié kompetisie verower het en die opnames verby was, was sy “moeg en half verdwaas” toe sy terug is by haar huis in Bloemfontein.

“Vir vyf weke het ons in die mooie Karoo gekook en gekos, maar toe is die lekker klaar en al wat oorbly was om met ‘n droë bek na jou eie stoof te staar,” verduidelik sy hoe sy toe gevoel het.

“Dis maar ‘n mistroostige prentjie, nê?”

Maar toe, vroeg een lente-oggend verlede jaar, bel haar dogter, Gwen, haar wakker: “Mammie, hoekom bottel jy nie al die lekker goed wat jy maak nie? Dan kan almal wat langtand daarna op die kassie gestaar het, die geleentheid kry om dit te proe.”

Magda vertel: “Sy praat en praat en ek’s naderhand uit die bed. Ek voel hoe die gogga se byt erger word. Daardie naweek begin ek kook en kook en toe ek klaar is toe kook ek weer. Heeltemal uit die hande geruk, skoon begeesterd met my bottels. Heel oordadig!”

En nou het Magda se aanlynwinkel, Kookstertjie, sopas sy virtuele deure oopgemaak vir haar ondersteuners.

Daar is ongeveer 40 verskillende kosprodukte beskikbaar, en elkeen word met ‘n paar mensehande gemaak, vertel sy opgewonde.

“In my kombuis is daar nie allerhande la-da-ti-da masjiene wat kook, blaas en stoom nie – net potte wat gesellig op die stoof prut. ‘n Geselligheidjie wat in elke bottel vasgevang word.”

Wen! Wen! Wen!

Groep

Drie gelukkige lesers wat in Suid-Afrika woon, kan elkeen ‘n Kookstertjie-geskenkpak ter waarde van R1 500 elk wen. Die geskenkpak bevat vier gebottelde kosprodukte, ‘n oorspronklike miniatuur skildery vir die kombuis deur Magda, asook ‘n spesiale Kookstertjie-verrassing. Om hiervoor in aanmerking te kom, stuur ‘n epos met jou kontakbesonderhde na kompetisie@kookstertjie.co.za voor Sondag, 20 April, met die woorde HG-KOMPETISIE in die onderwerpspasie.