[caption id="attachment_135972" align="alignnone" width="600"]Klein Kosie sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf Klein Kosie sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf[/caption]

Wanneer die dokter die verband afhaal van die stompie waar sy linkerhand geamputeer is, “gaan hy maar te kere en sê ‘nee, nee’ ”, vertel sy ma, Caroline Strydom, waar sy langs Kosie se hospitaalbed in die Mediclinic Limpopo in Polokwane staan.

Lees ook: Sewejarige seun se hand geamputeer ná hy bomklapper in die hande kry

Kosie is Maandag na dié privaat hospitaal oorgeplaas nadat hy aanvanklik in die plaaslike provinsiale hospitaal behandel is.

Caroline het nie ’n mediese fonds nie, maar sedert mense gehoor het van die verskriklike ding wat Kosie Saterdag oorgekom het toe ’n bomklapper in sy linkerhand ontplof het, het hulle hul hart vir die seuntjie oopgemaak.

Kosie het die klapper in sy suster se kamer gekry en dit in die voorhuis aangesteek. Caroline was elders in die huis besig om skoon te maak.

[caption id="attachment_135976" align="alignnone" width="600"]Klein Kosie lyk salig in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf Klein Kosie lyk salig in sy hospitaalbed. Foto: Verskaf[/caption]

Terwyl Caroline met Huisgenoot op die foon praat, is Kosie, ’n leerder aan die Laerskool Piet Hugo, besig om plakkers van ’n vel papier af te trek en in ’n boek te plak.

“Druk die papier met jou voet vas en dan haal jy die plakker met jou hand af. Moenie kwaad raak nie,” gee Caroline raad so tussendeur ons gesprek.

“Hy raak baie kwaad en aggressief as hy iets nie regkry nie, maar hy moet leer. Hy sal dit net moet gewoond raak, maar hy probeer mooi,” sê Caroline.

Lees ook: Wat moet ek weet van bomklappers?

Volgens Caroline gaan dit baie goed met haar jongste; so goed dat hy na verwagting môre al kan huis toe gaan.

Caroline sê dokters is tevrede met die wond en sien geen teken van infeksie nie.

“Kosie kla nie veel van pyn in sy arm nie. Hy moet die meeste van die tyd met die arm op ’n hoë kussing lê,” sê Caroline.

“Hy kla wel dat die brandmerkies aan sy lyf nog seer is.”