En hoekom is die vreemde ou wat op hoërskool langs jou in die biologieklas gesit het boaan jou vriendelysie?

"Daar is ’n paar leidrade wat dalk antwoorde kan verskaf"

Facebook se algoritmes is ’n digbewaarde geheim (en as iemand dit ooit sou uitpluis, sou Mark Zuckerberg en kie dit ongetwyfeld onmiddellik verander), maar soos die ouens by Motherboard sê, daar is ’n paar leidrade wat dalk antwoorde kan verskaf.

Wat die nege vriende betref wat in die vierkantige boksie aan die linkerkant van jou profiel verskyn (en dié wat jy dus gedurig in jou nuusvoer sien), sê Facebook “dit is ’n groep relevante vriende wat as ’n nuttige aansporingsmetode vir die verbruiker bedoel is”.

Met ander woorde, soos Meghan Neal van Motherboard sê, Facebook moedig jou op subtiele wyse aan om met hierdie nege vriende te gesels.

“Of as iemand anders jou Facebookblad besoek, is dit ’n versameling van die mense met wie daardie mens dalk wil bande smee, gegrond op jul gemeenskaplike vriende of belangstellings.” Die sosiale netwerke se formule vir hoe vriende gegroepeer word, kyk na hoe gereeld en hoe lank laas jy met sekere mense gesels het. So daardie eks wat gedurig in jou vriendeboksie opduik, is dalk net Facebook se manier om jou liggies te herinner om in aanraking te kom met iemand met wie jy al lank vriende is – en dis nie noodwendig omdat jy aanhoudend hul profiel besoek het sedert julle uitgemaak het nie.

"Ons gebruik ’n verskeidenheid openbare seine"

“Die vriende duik nie daar op as gevolg van enige privaat inligting wat gebruik is nie, soos of hulle na jou profiel gekyk het,” het ’n woordervoerder vir die tegnoreus gesê. “Pleks daarvan gebruik ons ’n verskeidenheid openbare seine, soos of hulle onlangs die hou-van-knoppie geklik het vir een van jou inskrywings of daarop kommentaar gelewer het.”

Die vriende in daardie blokkie kan ook mense wees met wie jy onlangs Facebook-vriende geword het, selfs al het julle nog nie gesels nie. Facebook gee ook voorkeur aan mense wat onlangs stories of foto’s gedeel het. Maar “soms is dit bloot net ’n lukrake besluit”, Meghan.

Bronne: motherboard.vice.com, metro.co.uk