Wat is NekNominations?

Dis ’n aanlyn speletjie. Soos die meeste internetgiere, is die oorsprong duister. Sommige beweer dit was ’n Brit, Ross Samson, wat op Kersdag vir die grap een van sy vriende benoem het om ’n drankie te drink; ander sê dit het in Australië begin.

Dit werk so

Iemand drink ’n drankie van sy of haar keuse op die belaglikste manier waaraan hulle kan dink, maak ’n video daarvan, laai dit op Facebook en benoem dan iemand wat daarop moet probeer verbeter. Hulle kry 24 uur, en dit moet verkieslik indrukwekkender as die vorige ou se video wees.

Blykbaar is die hoeveelheid wat jy drink, minder belangrik as hoe en waar jy dit drink. Sommige mense staan dus sommer onderstebo terwyl ander drink terwyl hulle net hul onderklere dra. Tog is daar al heelwat video’s van mense wat bottels sterk drank opsluk soos koeldrank.

Hoekom is dit gevaarlik?

Al vyf NekNomination-sterfgevalle is óf deur alkoholvergiftiging óf verdrinking veroorsaak. Jonny Byrne (19), van Ierland, het in die Barrowrivier gespring nadat hy die drank gesluk het.

Russel Meiring, ’n ER24-koördineerder en paramedikus verduidelik jou liggaam het nie genoeg tyd om drank te verwerk wat jy te vinnig drink nie; daarom neem jy baie meer in as wat jy kan baasraak. Hy sê dit duur van 20 minute tot ’n uur nodig voor die bloedstroom drank opneem, na gelang van wie die drinker is.

“Selfs wanneer die drank se uitwerking al begin duidelik word, bly van dié drank nog in die maag agter wat geabsorbeer moet word.” Hy meen dit kan lei tot alkoholvergiftiging of ongelukke as ’n newe-effek van die drank – op pad of in water - omdat ’n hoë alkoholvlak ook met onverantwoordelike en riskante gedrag verband hou

Wat sê jong mense daaroor?

Caroline Bursey (18), ’n matrikulant aan ’n meisieskool in Oos-Londen, sê sy is al twee keer benoem, maar het dit van die hand gewys. “Ek is ’n prefek by ons skool en ons almal het begin vanjaar besluit om nie te drink terwyl ons nog op skool is nie omdat dit teen die skoolreëls is. Maar ek dink ook dis baie dom om so iets op ’n sosiale netwerk te sit, want dit kan jou benadeel wanneer jy aansoek doen om werk of self om universiteitstoelating.”

Wat kan ouers doen?

Russel sê behoorlike opvoeding gee die deurslag. “Jong mense besef dikwels nie hoe gevaarlik dit is om so baie drank in te neem nie. Dit is nie net alkoholvergiftiging wat hul dood kan veroorsaak nie; die gedrag wat met alkohol gepaardgaan maak dit ook lewensgevaarlik.” Praat dus met jou kind en maak seker hy of sy is bewus van die gevolge.

Hoe maak mens wanneer jou kind te veel gedrink het?

Die ER24-paramedikus David da Silva sê jy moet onmiddellik so iemand op sy sy draai en seker maak daar is niks wat sy keel versper nie.

Maak seker sy tong lê nie terug of dat hy dalk gebraak het nie. Monitor sy asemhaling en moet glad nie probeer om hom te laat opgooi of iets gee om te drink as hy bewusteloos is nie. Dit kan hom laat verstik.

Ontbied onmiddellik die nooddiens. “Baie mense dink hulle moet so iemand los dat hy sy roes kan afslaap, maar dit kan ’n lewensgevaarlike fout wees, want nadat hy te veel gedrink het, sal sy liggaam nie noodwendig die alkohol kan verwerk nie. Dis ook moontlik dat die persoon ’n ander middel saam met die alkohol ingeneem het, wat die risiko selfs hoër maak.”

-Dalena Theron

Bronne: mirror.co.uk, edition.cnn.com