Ons almal ken ’n paar van hulle – mense wat hard probeer om met Facebook-inskrywings meer likes te kry en eindelose besonderhede oor hul skynbaar idilliese lewe deel.

Maar met nuwe navorsing is bevind dié mense het  min selfvertroue, en geen hoeveelheid positiewe terugvoer sal hul selfbeeld ’n hupstoot help gee nie.

Navorsers aan die Universiteit van Suid-Wallis het 340 deelnemers ondervra wat hulle deur Facebook en Twitter gewerf het. Hulle is getoets aan die hand van 25 stellings wat daarop fokus of die sosiale media hulle waardig laat voel.

Die stellings het gewissel van “die aandag wat ek in die sosiale media kry, laat my goed voel” tot “ek beskou iemand as gewild gegrond op die getal mense wat van hul plasings hou”.

Die span het uit die voltooide vraelyste bepaal deelnemers wat gesê het hulle doen ekstra moeite om meer positiewe terugvoer te kry, skrap inskrywings en verander hul profielfoto gegrond op hoeveel mense op die “hou van”-knoppie geklik het. Hulle is ook meer geneig om ’n lae selfbeeld te hê en is meer wantrouig.

Verder is bevind meer “hou van”-aanduidings laat mense nie beter voel oor hulself nie.

“Die toename in die gebruik van die sosiale media het gelei tot algemene kommer oor die uitwerking daarvan op ons geestesgesondheid,” sê die studieskrywer, dr. Martin Graff.

“Hoewel dit ’n betreklik klein studie is, dui die resultate daarop dat hoe ons in die sosiale media kommunikeer, kan beïnvloed hoe ons voel, en dis nie altyd positief nie.”

Die studie se bevindings is op 3 Mei 2017 by die Britse Sielkundige Vereniging se jaarlikse konferensie in Brighton aangebied.

– Cover Media