Die bekende Goodnow-saal in Wellington is Woensdag aan die brand gesteek vermoedelik deur betogende studente. Hierdie historiese gebou is in die 1880's met die geldelike hulp van die Amerikaanse filantroop E.A. Goodnow opgerig. Dit het vir jare as die kultuursentrum van die Hugenote-seminarie gedien. Die Wellington-kampus van die Kaapse technikon gebruik vandag nog die gebou en uitvoerende kunste word steeds op die boonste vlak aangebied.

“My hart is in stukke,” het Johann Enslin, 'n inwoner, op Facebook geskryf toe hy foto's van die gebou in ligte laaie gedeel het. "Die historiese waarde en die herinneringe afgebrand deur mense wat ander niks gun nie. Jul ontneem ander van iets nostalgies, iets wat ek nie in woorde kan uitdruk nie. Enigiemand wat al in die Goodnow-saal opgetree het, sal weet daar was iets spesiaal omtrent die plek.”

Dit is nog nie bevestig of Woensdag se brand deur betogende studente veroorsaak is nie.