‘n Pasiënt van die Katutura-staatshospitaal in Windhoek het gister van die gebou se sesde vloer na sy dood gespring.

Geskokte personeel en pasiënte het vertel hoe hulle agter die man aangehardloop het om hom te probeer vang, maar tevergeefs.

“Toe hy die venster breek, het ek hom aan sy bene probeer gryp om hom te keer, maar dit was te laat,” het Rebeus Benjamin, ’n pasiënt op dieselfde vloer as die oorledene aan Republikein vertel.

Ander pasiënte vertel dat die oorledene saans in die saal “rondgedwaal” het. Hy sou glo langs hul beddens kom stan, daaraan ruk en pluk en weer weghardloop.

In die minute voor sy selfdood het hy van sy medepasiënte uit die saal verjaag en histeries geskree: “Ek wil huis toe! Vat my dadelik huis toe!”

Sekuriteitspersoneel het die saal binnegestorm, maar kon nie daarin slaag om die man te kalmeer nie.

Dis daarna wat hy deur die venster na sy dood gespring het.

Volgens wetgewing kan die oorledene se naam nog nie bekend gemaak word alvorens sy naasbestaandes in kennis gestel is nie.

Bron: Republikein