Die legendariese Michael Schumacher, houer van sewe F1-kampioenskapstitels, se tragiese ski-ongeluk in 2013 het skokgolwe deur die wêreld gestuur.

Deesdae is daar weer ’n Schumacher wat aan dié gevaarlike sport deelneem: Michael en Corinna se 17-jarige seun, Mick.

A photo posted by @motorsportmatters on
  In 2008 het hy as negejarige agter die stuur van renstelle ingeskuif. Terloops, dit was presies dieselfde sport waaraan sy pa, Michael Schumacher, deelgeneem het.

Lees ook: Michael Schumacher se seun onthul detail oor sy pa se ongeluk

Tydens ’n onderhoud met ESPN F1 is Michael gevra hoe hy daaroor sou voel as Mick aan F1-renne sou deelneem.

“Ek sou verkies om hom liewer in die rigting van ’n gholfbaan iewers as na die renbaan te stuur. Ek het gesien wat met Jacques Villeneuve of Damon Hill gebeur het – selfs met my eie broer – hoe ’n las ’n naam kan wees.”

Gerhard Berger, ’n voormalige F1-renjaer van Oostenryk het Michael se vrese beaam. “Dit is baie moeilik vir Mick om in sy pa se voetspoor te volg.” Maar spoed is in Mick se bloed. Voor hy in 2015 hy sy buiging in die Duitse ADAC F4-renne, was hy die naaswenner van die Wêreld-, Europese en Duitse renstelkampioenskappe.

Sy toetrede tot F4 in dieselfde jaar het byna rampspoedig afgeloop toe sy renmotor teen ’n skrikwekkende 160 km/h van die baan gegly het tydens ’n oefenronde op die Lausitzring-baan, Brandenburg. Mick het ongeskonde daarvan afgekom.

Twee dae later in Oostenryk is dit egter terug kuipe toe vir hom met ’n gebreekte hand weens ’n ongeluk waarin sy teenstander Thomas Preining betrokke was.

In April 2015 behaal hy sy eerste F4-oorwinning in Oschersleben, Duitsland, en geniet hy die posisie as die beginner wat die hoogste plek op die ranglys beklee. Dit was ook sy enigste oorwinning vir die seisoen en hy eindig 10de in die kampioenskap.

Lees ook: F1-bestuurder se pa vertel van foltering ná ongeluk

In Januarie 2016 bevind Mick hom in Chennai, Indië, in die geselskap van Pietro Fittipaldi (kleinseun van die legendariese F1-renjaer Emerson), Harrison Newey (seun van die F1 tegniese wonderwerker Adrian) en Giuliano Alesi (die gewese Ferrari-jaer Jean se seun).

Pietro het die geruite vlag laat wapper terwyl Mick ’n welverdiende derde plek behaal het.

A photo posted by Pietro Fittipaldi (@pifitti) on

Mick het intussen sy prestasie op die renbaan verbeter en sy eerste twee renne in die Italiaanse F4-reeks gewen.

’n Enjin wat gestol het, het hom moontlik van ’n driekuns beroof tydens die derde byeenkoms van die reeks by Misano. Hy is nou boaan die puntelys van dié kampioenskapsreeks.
Was sy pa se handskoene dalk Mick se resep vir sukses?

 

Maar dit lyk asof die pad na F1 nog vir ’n tydjie nie op Mick se renkalender ingepas gaan word nie.

Sabine Kehm, Michael sowel as Mick se bestuurder, staan ook sy toetrede tot F3 vanjaar teen.

“Hy is nou ’n jaar ouer, het meer ervaring, is gefokus en het geestelik sterker geword,” haal die Duitse nuustydskrif Focus haar aan.

“Daarom glo ons dit is ’n goeie ding vir hom om nog ’n jaar aan F4 deel te neem.”

Meer oor Michael Schumacher

  • Michael was ’n omstrede jaer wat F1-aanhangers in hoofsaaklik twee kampe verdeel het – óf jy was ’n Michael-aanhanger óf nie.
  • Die tragiese ongeluk wat Michael in ’n koma gelaat het, het op 29 Desember 2013 plaasgevind toe hy en Mick (toe 14) by Combe de Saulire gaan ski het.

 

  • Met sy 46ste verjaardag het die Italiaanse dagblad Corriere della Sera berig: “Michael se oë is oop, maar hy staar dikwels in die niet. Die afgelope tyd herken hy die bekende gesigte van sy gesin, maar hy kan nie met hulle kommunikeer nie.” In dieselfde berig is genoem dat Michael huil wanneer hy sy kinders of sy vrou se stem hoor.
  • Weinig of geen nuus oor Michael se toestand is bekend nie. Sedert sy ongeluk is nog geen foto van hom uitgereik nie.
  • Op sosiale media is ’n veldtog van stapel gestuur om die voormalige kampioen aan te spoor om te bly veg. #KeepFightingMichael
 

Wat behels F4, F3 en F1?

  • Formule 4 is ’n oopwiel-kategorie vir junior jaers. Daar is nie ’n wêreldwye kampioenskap nie, maar lande en streke hou hul eie kampioenskapsbyeenkomste in ooreenstemming met vasgestelde bepalings en spesifikasies.
  • Formule 3 is ook ’n oopwiel-kategorie en is ’n baie belangrike kategorie vir aspirant F1-jaers. Die renmotors het almal 2 L-, viersilinderenjins volgens spesifikasies.
  • Formule 1 is natuurlik die kroonprins van motorrenne. Die F1-seisoen bestaan uit ’n reeks renne wat bekendstaan as die Grand Prix (Frans vir “groot prys”).

Bronne: wikipedia.com, deccanchronicle.com, motorsport.com, dailymail.co.uk, autosport.com, grandprix.com, skysports.com

Ook op Huisgenoot.com:

Doodsreuk hang in hospitaal nadat erg ontbinde lyk glo in hysbakskag gevind is

Hofmeyr-boeties se liefdeslewe beleef uiterstes

Sexy Ryk en sy beeldskone Sahar baljaar tussen die branders van die Maldives

Banters let op! Algemene wanopvattings oor eetplanne met min koolhidrate