Die KKNK word olgende jaar vir die 23ste keer op Oudtshoorn aangebied en beloof om hierdie keer nog beter te wees!

“Die 23ste KKNK bied hope geleenthede om die room van die Suid-Afrikaanse kunste in verskeie genres, dissiplines en vorms te beleef. Vermaak vir oud en jonk word met ’n program propvol drama, humor, musiek, diskoers en vermaak aangebied,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK.

Die fees begin op Saterdag 8 April 2017 en duur tot die volgende Saterdag, 15 April.

Die datums val binne die nasionale skoolvakansie; dus is daar geen verskoning dat die hele familie nie ’n draai by die fees kan maak nie.

Die feesprogram is onlangs op die Rhebokskloof-wynlandgoed in die Paarl bekendgestel. En dit is propvol vermaak!

“Ons vereer Pieter-Dirk Uys vanjaar met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, maatskaplike aktivis en humanis. Ons is ook opgewonde om die jong teatermaker Jason Jacobs, wat as skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg, met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys te vereer,” sê Rhodé.

Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, neem Pieter-Dirk die voortou met komedie en satire op die fees in ’n feesprogram wat oorkoepelend gewortel is in sosio-maatskaplike kwessies van die hedendaagse Suid-Afrika.

“Pieter-Dirk Uys keer ná ’n lang afwesigheid terug na die KKNK en is in verskeie produksies te sien. ’n Intieme outobiografiese stuk, Weerklink van ’n Wanklank, en saam met sy “gunsteling”-politici uit die verlede en hede in Pasaanoffokof. Tannie Evita Bezuidenhout maak as eregas ook ’n paar verskynings op die fees,” sê Hugo.

Verskeie nuwe en klassieke werke is op die toneelprogram te sien. Reza de Wet, wat in 2017 vyf jaar oorlede is, se kragtige toneelstuk Breathing In word vir die eerste keer in Afrikaans aangebied as Asem, onder regie van Marthinus Basson, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt. Hierdie produksie word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief aangepak.

Die multi-bekroonde regisseur en skrywer Neil Coppen se Buite Land (oorspronklik NewFoundLand) is ’n eietydse drama wat op die fees debuteer. Dit vertel die storie van twee jong mans uit verskillende konserwatiewe kulture en hul realiteite en gewaarwordinge.

Jacques Bessenger, Elize Cawood en Kopano Maroga is onder andere hierin te sien. Chris Barnard se klassieke stuk Pa, Maak vir My ’n Vlieër, Pa, onder regie van Albert Maritz en met Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt is te sien, asook die Noorweër Henrik Ibsen se klassieke internasionaal vertaalde werk Die Vrou uit die See, onder regie van Henry Mylne.

Die Hertzog-pryswenner vir drama, Tertius Kapp, span kragte saam met sy Rooiland-vennoot Jaco Bouwer vir die debuut van Liewer, wat verhoudings tussen generasies in Suid-Afrika, seksuele spanning en kommunikasie ondersoek. Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en die jong aktrise Tarryn Wyngaard is hierin te sien.

Ander dramahoogtepunte sluit in Dop, met kragtoere deur André Odendaal en Wilhelm van der Walt onder regie van Sylvaine Strike; Hond, met Frank Opperman; en Beurtkrag, met Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Casper de Vries, die baanbreker van Afrikaanse skerpskertsers, is ook terug en te sien in 3-in-1, saam met Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer. Schalk is ook in die solo-vertoning Voksbesit te sien.

Ander komedies sluit in die verhoogverwerking van PG du Plessis se Koöperasiestories (Chris van Niekerk, Marion Holm, De Klerk Oelofse, Margit Meyer-Rödenbeck en Carel Nel), Ooms (Tobie Cronjé en Gerben Kamper), Net ’n Chilliburger en Chips, Asseblief! (Deon Lotz en Waldemar Schultz) en die treffer-skerpskertsproduksie Pay Back the Curry! van Mike van Graan.

Aan die musiekfront is David Kramer se hip-hop-musiekblyspel Amper Famous, saam met die jong hip-hop kunstenaar V.I.T.O. ontwikkel, ’n eerste vir Suid-Afrika.

Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese protesalbum ’n kontemporêre baadjie aan.

Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe gee bekende Afrikaanse musiek ’n swing-kinkel in die splinternuwe Karoo Swing.

Hannes van Wyk is op die bank vir Kwêla-gesprekke waarin hy met bekendes en kundiges in die bedryf gesels. Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, en die joernalis Ivor Price lei Die Burger Praat Saam se diskoersreeks met onderwerpe waaronder Suid-Afrikaanse politiek, Afrikaans, kerke en klasgeld.

Paul Bayliss, kunskurator van die KKNK, lei daagliks gesprekke oor kuns en rondleidings by die kunsuitstallings. Teatergesprekke ná sommige vertonings bied insig agter die skerms.

Die KKNK se opelugmusiekervarings keer vir die eerste keer sedert 2012 terug na die Rivierbuurt en bied meer waarde as ooit tevore.

’n Ongelooflike atmosfeer word in die Rivierbuurt geskep met stalletjies, smulkos, wyn- en deli-proeë, kindervermaak, rusareas, musiek op twee verhoë vanaf 12:00, én in 2017 ook aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog.

Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za.