Stel jou voor: Jy loop in die veld en sien hoe rookwolke al dwarrelend uit die grond voor jou begin trek. Die volgende oomblik sien jy die grond gloei bloedrooi - byna nes ’n kooltjie uit ’n vuur - en dan sien jy net vlamme. Net ’n paar dae nadat jy die vlamme geblus het, duik hulle eenvoudig weer op.

Dit is die vreemde verskynsel wat inwoners van Zaaiplaas in Limpopo die laaste paar maande laat kopkrap het. Party was selfs bang die vreemde vure duik in die middel van die nag op en wis hul hele dorpie uit.

[caption id="attachment_142107" align="aligncenter" width="253"]x Foto: Verskaf[/caption]

Natuurlik was daar mense wat hul ore vir samesweringsteorieë uitgeleen het, en daar is selfs vermoed die vlamme hou verband met ’n ondergrondse vulkaan.

Gelukkig het geoloë van die Raad vir Geowetenskap agter die kap van die byl gekom nadat hulle in Julie vanjaar gevra is om ondersoek in te stel.

“Ons eerste gedagte was dat dit veen is wat begin brand het, aangesien ondergrondse  veengrond natuurlik daar voorkom,” sê Pieter Bosch en Neo Moabi, die twee geoloë wat aan die projek gewerk het. Veen is moerasgrond wat half verkoolde plantstowwe bevat.

Die moontlikheid dat die grond weens lawa gloei, is onmiddellik uitgesluit. Pieter verduidelik aktiewe vulkane kom nie in die Holoseen-tydperk op die Suid-Afrikaanse vasteland voor nie.” Dié tydperk strek van ongeveer 17 000 jaar gelede tot nou.

[caption id="attachment_142108" align="aligncenter" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

“Die enigste aktiewe vulkaan op Suid-Afrikaanse grondgebied waarvan ons weet is die een op Marion-eiland. Dis  in die Suidelike Indiese Oseaan en ’n paar duisend kilometer weg van die Afrika-vasteland.”

Hierdie veengrond kon uitdroog weens die voortslepende droogte en uiterste hitte, voeg Pieter by. Hy en Neo sê dis belangrik om die probleem spoedig op te los, want die veengrond kan strek tot by mense se huise of ander eiendom in die omgewing. Sou die brande daarheen versprei, kan skade aangerig word.

By nadere ondersoek kon hulle bevestig ’n onlangse veldbrand het wel die ondergrondse veengrond aan die brand gesteek. Die veengrond was ook besonder weerloos omdat vee die oppervlak losgetrap en omdat krake weens die droogte voorkom. Die veenlaag was net ’n paar sentimeter diep, maar kan tot 25 cm dik wees.

[caption id="attachment_142110" align="aligncenter" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Die ondergrondse brand is suksesvol bestry deur  vlak vore rondom die brandende veenlaag  te grawe. Brandbestryders  het die vore met water gevul om die smeulende veen te smoor. Hulle het ook heelwat water bo-oor gespuit.

Die gemeenskap is ingelig oor die brand, die oorsaak daarvan en watter stappe gedoen is om dit te bekamp. Inwoners is ook aangeraai om soortgelyke gevalle onmiddellik by die owerhede aan te meld en om die omgewing  dop te hou omdat die veen weer kan vlam vat.

Pieter sê veengrond is normaalweg nat en nie vlambaar nie, maar die hoë temperature van die laaste tyd kan dit uitdroog. Vee wat daarop wy, kan dit ook verswak.

“Die toestand van die vleiland behoort ná  goeie reënval vining  te verbeter, solank mense die volgende ruk ook hul bedrywighede en veewyding beperk.”