Dit begin alles met ’n kennisgewing dat een van jou Facebook-vriende jou in hul video ge-tag het. Sodra jy op die skakel klik en die aanwysings volg, trap jy in die strik en word jou vriende weer outomaties in die video ge-tag.

Die naam van die video is gewoonlik “My First Video” of “My Video”.

Lees ook: WhatsApp verdwyn eersdaags van sommige selfone

Die Indiese nuuswebtuiste Zeenews het reeds ’n maand gelede die eerste keer oor dié nuwe Facebook-virus geskryf.

Sodra gebruikers op die skakel na “My First Video” klik, word hulle herlei na ’n vals webtuiste waar gevra word dat ’n eksterne webblaaier-app (“plugin”) geïnstalleer word.

Dit moet glo gedoen word voor jy die video sal kan kyk. Die oomblik dat jy egter op die skakel klik om die app te installeer, verskyn vals Facebook-inskrywings vir die video oral op jou profiel, word al jou vriende in die inskrywings ge-tag en verskyn ’n skakel na die video ook in sommige se inmandjies.

As so iets met jou gebeur het, doen dadelik die volgende:

1. Gaan dadelik na jou webblaaier se “settings” en klik op “extentions”.

2. Wis die kwaadwillige app uit.

3. Gaan na jou profiel en wis al die vals inskrywings uit.

4. Facebook sal ook ’n skandering van jou blad doen en in ’n verslag noem dat alles skoon is.

Hierdie stappe sal die virus hopelik in sy spore stuit. In hierdie stadium blyk dit ook dat dié virus net onder Chrome-gebruikers die rondte doen.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ontmoet Noorweë se vuurwarm ‘Viking’ wat besig is om Instagram te verower

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Allesvernietigende brand lei tot duisende mense se ontruiming in Kanada

Kyk die ongelooflike oomblik toe ’n ongebore babameisie sigbaar in haar ma se maag omrol!