Ons almal weet die internet is 'n vreemde plek en dat elke like, kliek, kommentaar en share jou digitale voetspoor skep waarmee adverteerders en bemarkers jou kan oorval met spesiale aanbiedinge en winskopies.

Moet daarom nie dink dis toevallig dat jy vandag lees krultange of motorparte is op uitverkoping nadat jy juis gister aanlyn na dié produkte gesoek het nie.

"Jou bemarkingsvoorkeure help ons om beter advertensies vir jou te bied," het Facebook se adjunkhoof vir advertensies en sakeplatforms, Andrew Bosworth, in 'n verklaring gesê.

Tog is daar maniere om te keer dat Facebook jou pal met produkte wat jou in die versoeking lei, oorrompel. Jy moet eenvoudig jou bemarkingsvoorkeure verstel.

Kliek op dié skakel en gaan dan na elke afdeling, soos byvoorbeeld mense, nuus, ondernemings, gesondheid en politiek.

Jy sal oplet dat allerlei vreemde onderwerpe waarin jy nie noodwendig belangstel nie gedurig daar opduik, waarskynlik omdat jy in een of ander stadium oor hierdie tema gelees het op Facebook en die mediareus 'n nota daarvan gemaak het.

Deur jou bemarkingsvoorkeure te verstel, kan jy sorg dat produkte en dienste waarin jy nie belangstel nie jou nie lastig val nie. Hou eenvoudig jou rekenaarpyltjie bo-oor die onderwerp en kliek dan op die kruisie wat sal verskyn om dit te verwyder.

Jy kan selfs sien watter adverteerders jou kontakbesonderhede het en sien watter adverteerders se webtuiste jy al gebruik het.

Kyk net wat het Huisgenoot-joernalis Mieke Vlok oor haarself ontdek toe sy Facebook se indrukke oor haar navors:

2

Volgens Facebook is Mieke gek oor Leandra Medine, 'n blogger uit Amerika. Dit ten spyte van die feit dat Mieke nog nooit van Leandra gehoor het nie! Sy het wel al Leandra se webuitste, The Man Repeller, per geleentheid besoek.

Mieke is blykbaar ook 'n aanhanger van die Amerikaanse sakereus Warren Buffet en hul presidentsvrou, Michelle Obama, sowel as die plaaslike sanger Koos Kombuis.

4

Onder die items waarin Mieke belangstel tel skoene, geskenke, maskara, speelgoed en silwer. Handelsmerke soos Woolworths en Forever New is ook volgens Facebook deel van Mieke se kopersprofiel.

3

Hierdie adverteerders het almal tot 'n mate van Mieke se kontakinligting, al het sy nog nooit met die meerderheid van hulle kennis gemaak nie.