As enkellopende kan die gedagtes van al die lekker romantiese aktiwiteite wat paartjies op Valentynsdag gaan geniet jou dalk die horries gee. Gelukkig begin daar hierdie naweek ’n paar flieks wat beslis sal help om die Valentynsdag-blues gou te laat oorwaai.

Maar dit gaan natuurlik afhang van watter fliek jy gaan kies om te kyk. Twee romantiese komedies begin vandag, net betyds vir Valentynsdag. Albei fokus egter nie op dieselfde aspek van die liefde nie. Trouens een gaan juis daaroor om enkellopend te wees.

How to Be Single (16T) handel oor ’n groepie enkellopendes in New York: Alice (Dakota Johnson van Fifty Shades of Grey) het besluit om ’n ruskans te vat van haar verhouding met haar universiteitskêrel, Josh (Nicholas Braun), om te sien wie sy regtig is sonder hom, en trek by ’n woonstel in Brooklyn in. Haar ouer suster, Meg (Leslie Mann van Knocked up), stel glad nie belang in ’n verhouding of kinders nie. Hul vriendin Robin (Rebel Wilson van Pitch Perfect) dink sy’s ’n kenner op die gebied van enkellopend wees en probeer Alice touwys maak. Dan is daar ook nog Tom (Anders Holm van The Intern), wat bang is vir verhoudings, en Lucy (Alison Brie van die TV-reeks Community), wat so graag in die huwelik wil tree, sy is ingeteken op verskeie troutydskrifte.

Die meeste kritici dink die fliek is okei. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan rolprente toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 53 persent. Hulle bevind: “How to Be Single spog met die rowwe basis vir ’n feministiese romkom, maar gee te maklik oor aan die genrekonvensies wat dit wil omverwerp.”

Eric Henderson van slantmagazine.com is die rolprent minder genadig en gee dit een uit vier sterre. “Die film belowe om onafhanklikheid te vier, maar is skynheilig en medoënloos behep met verhoudings. Dit gee kykers, veral dié op soek na ’n langtermynverhouding, die versekering dat hul eensame dae tog pret kan wees mits die regte maat gou genoeg opdaag.”

Die ander romantiese komedie van die week is Vir Altyd (7-9O). Dit kom van dieselfde span wat die gewilde Pad na Jou Hart (2014) geskep het: Die oud-7de Laan-sterre Donnalee Roberts en Ivan Botha het die draaiboek geskryf en vertolk ook die hoofrolle.

Hugo (Botha), ’n suksesvolle reisskrywer, keer vir die eerste keer in 10 jaar terug na sy tuisdorp, die Paarl, en is verbaas toe hy uitvind dat sy kindertydvriendin Nina (Roberts) die volgende dag trou. Hugo word uitgenooi na haar troue, maar dan los Nina se verloofde, Retief (Stiaan Smith), haar voor die kansel. Nina wil egter hê die onthaal moet voortgaan en ná ’n behoorlike gefuif word sy en Hugo die volgende oggend wakker op ’n vliegtuig op pad na Mauritius, waar Nina en Retief sou gaan wittebrood hou het. Daar ontmoet hulle twee paartjies: Betsie en Paul (Elize Cawood en Wilson Dunster, wat in die regte lewe ook getroud is), wat hul 50ste huweliksherdenking vier, en Marietjie (Ilse Roos van Amalia) en Ben (Dirk Stoltz van Swartwater), wat op ’n tweede wittebrood is om hul huwelik te probeer red.

Paul Boekkooi van Die Burger gee die fliek drie sterre. “Die fliek druip genadiglik nie van soetsappigheid nie, maar het darem klein porsies daarvan vir hulle wat nie daarsonder kan nie. Trouens, Vir Altyd is baie volwasse in die sin dat dit kykers trompop loop met die feit dat verhoudings delikaat is en nie sal oorleef as paartjies nie daaraan werk om elke doring wat kan kop uitsteek te beveg nie. Die fliek bied ook nog enkele ander verrassings, soos ’n wonderlike ewewig tussen humor en hartseer.”

Vir dié wat moeg is vir die gewone superheldfilm is daar Deadpool (16TSG), wat ook op ’n Marvel strokieskarakter gegrond is, maar een sonder enige ontsag of eerbied. Wade Wilson (Ryan Reynolds, wat weer probeer nadat Green Lantern ’n groot flop was) is ’n huursoldaat wat in New York woon en verlief raak op die gesellin Vanessa Carlysle (Morena Baccarin van die TV-reeks Gotham). Dit gaan goed met hul verhouding tot Wade eendag inmekaarsak. Hy vind uit hy’t kanker, wat deur die grootste deel van sy liggaam versprei het. Teesinnig verlaat hy Vanessa om ’n eksperimentele prosedure te ondergaan wat hom die vermoë gee om amper van enige wond te genees, maar hom laat met ernstige letsels, fisiek sowel as geestelik.

Dit klink dalk nie soos ’n groot bron van humor nie, maar Deadpool vat niks ernstig op nie en sy manier van sy toestand hanteer is om grappe van alles te maak. Anders as ander karakters weet hy ook hy is in ’n storie en praat dikwels reguit met die gehoor.

Die meeste resensente dink die fliek is baie goed. Die webtuiste Metacritic, wat soos Rotten Tomatoes werk, gee dit 65 uit 100, maar by laasgenoemde kry dit ’n puik 82 persent. Die konsensus is: “Deadpool is vinnig, snaaks en stout en keer die superheldfliekresep op sy kop met uiters vermaaklike (en nie-gesinsvriendelike) gevolge.”

Die Britse filmtydskrif Empire se Jonathan Pile is ’n bietjie minder in sy skik met die rolprent en gee dit drie sterre. “Die film begin waar Wade reeds sy skuilnaam en kostuum gekies het en te midde van ’n geveg is. Dan spring die storie tussenin terug na hoe Wade gekom het waar hy is. Hierdie struktuur is slim omdat dit die grootste probleem met oorsprongstories vermy: die feit dat die hoofkarakter eers in die fliek se laaste deel sy kostuum aantrek en volkome ’n held word.

“Deadpool is ook die perfekte voorbeeld van ’n karakter wat nie die wêreld hoef te red nie. Wolverine of Superman moet iets interessants hê om te doen. Wat Deadpool doen, is oor die algemeen minder belangrik as al sy manewales en die grappies wat hy maak terwyl hy iets doen. Op hierdie vlak is die film egter nie heeltemal suksesvol nie, want die meeste van die grappe is toilethumor en raak vinnig afgesaag. Nogtans is dit ’n snaakse en genotvolle alternatief vir ander superheldflieks.”

As jy lus is vir iets nader aan die werklikheid, is daar A Perfect Day (10-12OT), ’n drama oor Westerse hulpwerkers wat in 1995 in die Balkan probeer keer dat ’n dorpie se watertoevoer afgesny word. Om dit te doen moet hulle met allerhande slim planne vorendag kom om die VN se burokratiese rompslomp, guerillas en opportunistiese misdadigers te ontwyk. Die rolverdeling sluit in Benicio del Toro (Sicario), Tim Robbins (The Shawshank Redemption) en Olga Kurylenko (Oblivion).

Die kritici dink die fliek is goed. Rotten Tomatoes gee dit 64 persent en bevind: “Hulpwerkers kry wat hulle toekom in A Perfect Day, wat net anders genoeg is en genoeg goeie toneelspel bevat om die stadige pas en clichés te oorkom.”

Chris Nashawaty van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n B-. “Die gehalte is wisselvallig, maar Del Toro se spel gee die storie krag, al is die vroulike karakters teleurstellend tweedimensioneel.”

  • Sandra Visser