Suid-Afrika se munisipale verkiesing was die gewildste onderwerp in die land op Facebook die afgelope jaar.

Die Olimpiese Spele, die Amerikaanse presidentsverkiesing, pres. Jacob Zuma en die Fees Must Fall-protesaksie by die universiteite is onderskeidelik in die tweede tot vyfde plekke.

Die gewildste onderwerpe op dié sosiale netwerk vir 2016 is vandeesweek deur Facebook gelys. Die ranglys is bepal deur die gereeldheid van ’n onderwerp in Facebook-plasings vanaf 1 Januarie tot 27 November vanjaar.

Onderwerpe wat wêreldwyd die meeste aandag getrek het, het ook plaaslik opslae gemaak. Die Amerikaanse presidentsverkiesing was heel bo-aan die lys, met Brasiliaanse politiek en Pokémon Go in die tweede en derde plek.

Black Lives Matter, ’n internasionale aktivisbeweging wat in Amerika ontstaan het en hom beywer om geweld en sistemiese rassisme teen swart mense teen te werk, was in die vierde posisie.

Rodrigo Duterte en die Fillippynse presidentsverkiesing het die vyfde plek behaal. Duterte is al verskeie kere met Donald Trump vergelyk vanweë albei se reputasie as buitenstaander.

Ander internasionale gebeure waaroor wat mense gedeel het, is die Olimpiese Spele, Brexit, die Super Bowl, David Bowie en Muhammed Ali se dood.