Moderne diefwerende toestelle soos immobiliseerders, stuurwielsluitmeganismes, rathefboomslotte en alarmstelsels maak dit vir motorrowers ál moeiliker om hul slinkse planne uit te voer.

Dit veroorsaak ongelukkig dat rowers hulle toenemend wend tot alternatiewe soos motorkapings. Die kaper gebruik die verrassingselement tot sy voordeel, sê Richard Brussow, besturende direkteur van die Nasionale Akademie vir die Voorkoming van Kaping.

Volgens statistiek vind die meeste kapings  op Dinsdae en Vrydae tussen 16:00 en 20:00 plaas. Volg die volgende riglyne en verklein die kans dat jy 'n statistiek word, sê Richard.

  • Wees bewus van die omgewing rondom jou voertuig wanneer jy op pad is of 'n rooi verkeerslig nader. Kyk gereeld in jou spieëls en maak seker jy word nie agtervolg nie. Wees ook op die uitkyk vir verdagte voetgangers naby jou voertuig wanneer jy stilhou. As iemand verdags naby jou voertuig kom en jy kan nie wegry nie, druk die toeter.
  • Wanneer jy jou huis nader, skakel jou radio af sodat jy beter op jou omgewing kan konsentreer. Maak weereens seker jy word nie agtervolg nie en kyk uit vir vreemde voertuie of mense naby jou ingang. Indien daar wel mense is, moenie stilhou nie. Ry aan tot by die naaste winkel. Keer dan terug en kyk of hulle weg is. Die gebied rondom jou hek en oprit moet goed belig wees.
  • Wanneer jy in jou stilstaande motor sit, byvoorbeeld wanneer jy in 'n parkeerterrein vir iemand wag, wees bedag op vreemdelinge wat naby jou voertuig ronddrentel. As jy iemand sien, ry verder tot by 'n plek waar jy veiliger voel. Dit is ook nie 'n goeie idee om in jou motor te sit en slaap nie.
  • Terwyl jy op die pad is, maak seker jou deure is gesluit en jou vensters toe. 'n Aktetas of handsak wat oop en bloot op die sitplek lê, is aas vir die kaper. Hou dit in jou kattebak en hou ook jou selfoon buite sig.
  • Moenie items van vreemdelinge op straat ontvang of koop of vir werksoekers stilhou nie. Kapers skuil ook soms tussen hierdie mense.  Dit is ook taboe om duimgooiers 'n saamrygeleentheid aan te bied.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Charlize Theron maak haar stem dik oor gelyke betaling in die bedryf

Eerste voorsmakie van gewilde Jay en Lianie se prettige nuwe musiekvideo

‘Hy’s nou by ons seun’ – Prince se eksvrou lewer roerende huldeblyk aan die man wat sy ‘altyd sal liefhê’

Ontmoet al die koninklike kleinkinders op die foto wat vir die koningin 90ste verjaardag geneem is

Talle Afrikaanse kunstenaars pryk op Sama-nominasielys

Vreugde, moed en eindelik trane – alles binne ’n lewe van net ’n paar uur