Dokters krap omtrent kop oor ’n vierjarige meisietjie van Australië wat net nie wil groei nie.

Klein Sophia Hecimovic is net so groot soos ’n pop en lyk soos ’n tweejarige kind. Sy is net 88 cm lank, baie korter as ander kinders van haar ouderdom, word berig. En sy weeg net sowat 12 kg.

Mediese toetse wys Sophia vervaardig wel groeihormone. Dis dié dat medici omtrent hul kop breek oor hoekom sy nie groei nie. “Dis so frustrerend, want ons het nie ’n antwoord vir hoekom sy soveel kleiner is as ander kinders van haar ouderdom nie,” sê haar ma, Effie Panayiotou (29) van Sydney, Australië.

“Wat ontwikkeling betref, is sy ook agter -- dit het haar twee en ’n half jaar geneem om te leer loop.”

Sophia is dalk klein, maar het ’n groot persoonlikheid, vertel haar ma. Nes enige ander kleinding is sy dol oor die Disney-prinses Sofia the First, sy hou van lees en diere en is taamlik sosiaal.

“Sy kan enige vertrek ophelder waar sy instap!” word op haar Facebook-blad, A Kouklitsa Called Sophia, vertel. “Sy is nes enige ander normale kind en is lief vir dans- en swemlesse!”

“Mense is verras wanneer hulle haar sien en hoor hoe oud sy is, want sy is so klein,” sê haar ma. Sophia het in die afgelope jaar net sowat 8 cm gegroei.

Met haar geboorte in Junie 2012 het Sophia net meer as 1,8 kg geweeg. Sy was net 46 cm lank -- minder as die gemiddeld vir ’n pasgebore baba.

Toe sy langs ’n pop sit wat haar ma vir haar gekoop het, was sy korter as die pop. Sy is drie weke lank in die hospitaal gemonitor, maar steeds het dokters geen antwoord nie.

Op agt maande het sy net 5 kg geweeg en was sy 61 cm lank -- so lank soos twee liniale. Sy kon skielik nie meer praat ná haar eerste verjaardag nie -- en dit terwyl sy op vyf maande al “mamma” en “hond” gesê het, word berig.

Die seldsame Robinow-sindroom is verkeerdelik by haar gediagnoseer toe sy een was. Dit is ’n genetiese afwyking wat beenontwikkeling aantas. Hoë funksionerende outisme is op twee by haar gediagnoseer. Sy is nou in ’n leergroep en kry onder meer fisioterapie.

Met die fisieke terapiesessie het Sophia se mobiliteit verbeter, sê Effie, ’n enkelma en heeltydse verpleegstudent.

Bronne: Facebook; Mirror.co.uk