Het jy al ooit ’n huweliksbelofte aan iemand gemaak?

Daardie belofte waarin jy en iemand ooreenkom om met mekaar te trou wanneer julle ’n spesifieke ouderdom bereik en nog nie getroud is nie?

Sommiges maak hierdie belofte sommer vir die grap, maar ander neem dit baie ernstig op.

Alex Clifford het op Imgur baie mense se hartsnare geroer toe hy sy verhaal vertel van ’n huweliksbelofte wat hy en sy beste vriendin meer as 10 jaar gelede aan mekaar gemaak het. Hulle het ooreengekom hulle sou trou wanneer sy 30 jaar oud is en hy 32, mits hulle nog enkellopend was.

Maar niemand sou die einde van hulle liefdesverhaal kon voorspel nie.

Alex en die meisie het mekaar op kollege ontmoet en het onmiddellik beste vriende geword. Alex was 20 jaar oud en sy was 18.

Hulle was kortstondig in ’n liefdesverhouding gewees, maar het besluit om nie ’n eksklusiewe paartjie te wees nie.

“Ons was albei baie wild en vry gewees. Ons wou ons jeug ten volle op kampus geniet en het so aan en af met ander mense uitgegaan.”

Hulle het gevoel ’n verhouding tussen hulle sou ’n “alles of niks”-tipe verhouding moes wees. En aangesien hulle nie in daardie staduim in ’n ernstige verhouding wou wees en hul “onverantwoordelike” leefstyl wou prysgee nie, het hulle besluit om net vriende te bly.

“ ’n Paar jaar het verbygegaan en ons was tevrede hiermee,” vertel Alex.

“Ons was gelukkig tot haar twee susters, onderskeidelik 16 en 18 jaar, in ’n motorongeluk gesterf het . . .”

Albei was in die hospitaal dood verklaar.

“My vriendin was heeltemal gebroke gewees ná die ongeluk. Haar pa het in ’n swaar depressie verval en geweier om te eet. Hy wou nie meer lewe nie.”

Alex se vriendin het terug huis toe getrek om na haar pa om te sien. Sy het kontak met al haar vriende, insluitend Alex, in die twee jaar ná die ongeluk verbreek.

“Toe ek haar weer sien, was sy so anders. Voor die ongeluk was sy die gelukkigste en mees positiewe mens wat ek al ontmoet het. Daarna was sy stiller, hartseerder en amper . . . wyser.

“Ek wou haar meer as enigiets in hierdie wêreld ondersteun. Maar ek kon niks doen om dinge vir haar beter te maak nie. Dit was die slegste, slegste gevoel. Toe besef ek die eerste keer hoe lief ek haar regtig het.”

Lees ook: Ná vele liefdesteleurstellings besluit vrou, basta! En trou met haarself

Alex het vir haar gesê hoe hy voel en dat hy vir altyd by haar wil wees, maar sy het gesê sy kan nie sien hoe sy ooit ’n emosionele band met enigiemand kan hê ná haar susters se dood nie.

Sy het gesê sy het tyd nodig. Dalk ’n paar maande, dalk ’n paar jaar. Sy moet eers probeer oorleef in ’n wêreld waarin haar sussies nie meer is nie.

“Sy het vir my gesê sy was nog nooit so gelukkig soos toe sy saam met my was nie, en ek het presies dieselfde gevoel. Maar ek het ook verstaan dat sy nie in daardie stadium in ’n verhouding kon wees nie.”

Toe maak die tweetjies ’n huweliksbelofte.

Alex was 25 gewees en sy vriendin 23.

“Ons het mekaar belowe wanneer ek 32 jaar oud is en sy 30, as sy gesond geword het van haar seer en nie een van ons twee intussen lief geword het vir iemand anders nie – sal ons trou.”

En met daardie belofte het Alex se pad geskei van die meisie wat sy hart gesteel het.

Sy het na Wyoming, Amerika, getrek om alleen te wees. Alex het Duitsland toe getrek om “so ver weg as moontlik van haar te wees”.

In die volgende paar jaar het die twee stadig maar seker begin briewe skryf aan mekaar. Soms sou hulle e-posse aan mekaar stuur oor boekvoorstelle wat hulle dink die ander een moet lees.

Op hierdie manier het hulle – oor ’n afstand – nader aan mekaar gekom.

“Toe ek 30 jaar oud word, het ek haar grappenderwys aan ons huweliksbelofte herinner. Ek het vir haar gesê sedert ek haar laas gesien het, het ek nie verlief geraak op enigeen nie.

“Die rede daarvoor was dat ek elke vrou aan haar sou meet, want in my gedagtes was my vriendin net perfek.”

Sy het vir Alex gesê dat sy dieselfde voel en ook nog nooit weer in ’n verhouding was nie. Sy het gesê sy het gesond geword, soveel soos wat iemand kan wanneer hulle ’n familielid aan die dood moes afstaan.

Lees ook: O wee, as geliefdes ink en die liefde sink . . .

Hulle het besluit om mekaar te ontmoet en weer tyd saam deur te bring om te sien of die aantrekkingskrag tussen hulle nog daar was.

“Dit was beslis nog daar,” sê Alex.

Hulle het ernstig begin uitgaan en Alex het sy 32ste verjaardag gevier.

Ses maande daarna het hy sy vriendin gevra om te trou.

“Sy het geglimlag en gesê luidens ons huweliksbelofte aan mekaar moet sy eers 30 wees. Dus moes ons ’n paar maande nog wag tot haar verjaardag.

“In daardie stadium het ek gedink dit was ’n simpel idee, maar dinge tussen ons het so goed gegaan, ek het besef om ’n paar maande te wag sou geen ’n verskil aan ons verhouding maak nie.”

Maar Alex was verkeerd.

“Sy is kort daarna dood. Sy is deur ’n dronkbestuurder getref en was twee dae in die waaksaal voor haar liggaam ingegee het.

“Ek het op die begrafnis met haar pa gepraat, maar ek kan skaars onthou wat ons aan mekaar gesê het. Ons het daarna nooit weer gepraat nie. Ek het nie die wilskrag om uit te vind hoe dit met hom gaan nie.

En dit is hoe Alex se storie eindig, vertel hy.

“Dit sal November nou vier jaar wees sedert sy dood is. Ek is in terapie en probeer om te leer om weer iets te voel anders as ’n ondraaglike woede en hartseer binne my. Ek wonder gereeld of dit is wat sy gevoel het toe haar susters dood is. Sy het vordering gemaak. Sy het geleer om weer lief te hê. Daardie gedagte is wat my aan die lewe hou. Sy het dit reggekry en sy sou wou hê dat ek dit ook moes regkry.

“Dit is dit. Dit is my storie. Dit is ’n aaklige storie en ek haat dit.”