Dié voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het die koppe laat draai in haar rooi blombedekte balrok deur die ontwerper Anel Botha. Die skouerlose detail is deesdae hoog in die mode. Dis beslis sexy maar steeds stylvol en elegant. Haar pragtige haarstyl en bloedrooi lippe het nie die treffende voorkoms oorheers nie maar dit mooi afgerond.

A photo posted by melindabam (@melindabam) on

Leandie du Randt, aktrise en deesdae ook motiveringspreker het in ’n skepping deur die ontwerper Kobus Rautenbach gepronk. Die langmou-rok is ’n baie goeie keuse siende dat dit die middel van die winter is en die spleet by die been het ’n speelse voorkoms daaraan verleen. Die kombinasie van kleure maak hierdie rok ’n wenner. Leandie het die Tempo vir beste sepie-aktrise gewen.
Dié Vir Altyd-ster Donnalee Roberts het ’n klassieke voorkoms vir die Tempo’s gekies. Sy het met ’n Vesselina Pentcheva-skepping die asem weggeslaan. Dié rok is eenvoudig, maar die detail op die bostuk verleen aan Donnalee se uitrusting iets besonders. Sy het haar voorkoms afgerond met ’n boheemse haarstyl en kopband.

A photo posted by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

Net omdat jy swanger is, beteken dit nie jy kan nie stylvol wees nie. En dis presies wat die aktrise Zetske van Pletzen bewys het. Sy het vindingryk gedink en ’n bloedrooi kortmou-jas gedra wat die stilis Reg Hart spesiaal vir haar gemaak het. Die belt het baie mooi om haar boepie gevorm – soos hulle in Engels sê: “It hugged her right in all the right places!” Wie het ooit gesê jy kan nie warm en stylvol lyk nie? Hierdie warm mamma se uitrusting kry 10 uit 10!
Die sangeres Leah, die groot wenner by vanjaar se geleentheid, het asemrowend gelyk in ’n wit skepping wat haar foutlose lyf baie mooi beklemtoon het. Sy het die balans van sexy en smaakvol goed gehandhaaf met nie te veel of te min na enige kant toe nie. Die lang moue, lae neklyn en prominente spleet het gesorg vir een van die wenrokke van die aand. Leah is drie keer vereer, as nuweling van die jaar, vir liedjie van die jaar en musiekvideo van die jaar. Veels geluk!
Die rooikop-aktrise Anel Alexander het skitterend gelyk in ’n pragtige poeierblou kantrok van die ontwerper Anel Botha. Hierdie spesifieke illusie-styl waar die kant strategies op die rok geplaas word, is deesdae hoog in die mode. Die rok is mooi afgerond met ’n sjiffon-skouermantel. Anel het haar hare in ’n klassieke bolla gedra om die fokus op haar rok te hou. Welgedaan, Anel!

A photo posted by Anel Botha (@anelbothac) on