Hulle is die manne van die nuwe Afrikaanse rockgroep HARREBAARD, stel hulle hulself bekend. Twee van hulle is al ver aan die verkeerde kant van 50, terwyl die ander twee se 50ste verjaardag om die draai lê.

Maar wag, dit is mos Oubaas van die sepie 7de Laan (Pierre van Pletzen) wat agter die tromme inskuif? En die ou wat sy elektriese kitaar instel, is niemand anders nie as die gladdebekprokureur en -begrafnisondernemer Tony Fivaz (Frank Opperman), wat SABC2-kykers deesdae so ontstel met sy streke in ’n doodskis in die dramareeks Vlug na Egipte.

Pierre van Pletzen,speel die rol van Oubaas van die sepie 7de Laan .

Natuurlik ken ons hom ook as Ouboet van Orkney Snork Nie! 

Ja, verduidelik Pierre (65). Hy en Frank (56) droom al lank daarvan om weer in ’n band te speel, en hulle moes dit nou doen voor hulle te oud raak.

“Maar op ons eie kon ons dit nie doen nie, toe kry ons twee ander muso’s in wat ook ooms is,” vertel Frank en wys na Anton L’Amour (48) en Leon Ecroignard (47), wat ook hul instrumente uithaal.

Hulle het al vir feitlik elke bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar gespeel, vertel Pierre. Frank voeg by hulle “het al gespeel waar ander seuns nog nie eens gepiepie het nie”.

Frank Opperman, speel ’n gladdebekprokureur en -begrafnisondernemer Tony Fivaz,in die dramareeks Vlug na Egipte.

Nou hoekom sal sulke twee veteraanmusikante dit waag om met twee amateurs op die verhoog te klim? Leon vryf oor sy wit bokbaard. “Jong, ek het aan die begin gedink: ‘Hel, waarin begeef ek my nou?’ ”

“Dit maak die zen in jou oop om saam met die minderwaardiges te speel,” spot Anton en gee Pierre ’n gemoedelike klap op sy skouer.

Dit is darem nou ook nie dat hulle volslae groentjies in ’n rockgroep is nie, skerm Pierre en Frank dadelik.

“Musiek was eintlik nog altyd my groot liefde, maar dit moes eenkant toe staan om plek te maak vir my akteurswerk,” verduidelik Frank, wat in 1999 en 2009 twee albums opgeneem het.

Dan val Pierre hom in die rede. “En ek was ’n drummer in ’n dans-band toe ek op skool was,” sê hy. “Dit was omtrent 47 jaar gelede. Ons het in al die klubs en hotelle daar by Klerksdorp rond gespeel, maar toe ek universiteit toe is, moes ek maar die stokkies bêre.”

Leon Ecroignard

Ná soveel jare is ’n mens seker redelik verroes?

“Redelik verroes? Wat praat jy!” roep Pierre uit. “Toe ek verlede maand vir die eerste keer weer agter die tromme inskuif, toe sit ek net so met stywe hande voor my!”

Ja, en hy het sy hande ’n paar keer raakgeslaan, verklap Frank. “Daar was erger beserings ook,” sê Pierre. “Ek het my rug seergemaak toe ek buk om die tromme te stel!”

Maar hul ouderdom skrik hulle nie af nie, en deesdae draai hulle die rockkrane behoorlik oop. Net verlede week het hulle die skare by The Good Luck Bar in Johannesburg op hul voete gehad. Op Sondag 2 Julie tree hulle by die Park Acoustics-konsert in Pretoria voor meer as 1 000 mense op.

Hul musiek is oorspronklik, hard en rou, som Frank hul styl op. “Ons is niemand se rooirok-sokkie-bokkie nie en ons gaan niemand vra om hul muis te wys nie,” sê Pierre.

Anton L'Amour

Maar nou is dit tyd vir oefen. “Waar is die bleddie kragdraad?” wil Frank weet toe hy in ’n sak rondkrap.

“Wie het vir my ’n stukkie tape?” skree Pierre toe hy agter die tromstel inskuif. “Ek wil my playlist vasplak.”

’n Rukkie later is die manne gereed. Anton se elektriese kitaar sny deur die lug met die intro-klanke. Pierre se tromstokke hardloop ritmies oor die simbale en Leon val in met die baskitaar.

Frank spring op en af voor die mikrofoon.

“Ek het gisteraand net aan jou gesit en dink, ek was impress met jou, gisteraand was jy net myne,” sing hy die woorde van hul eerste enkelsnit, Gisteraand. 

• Die pad wat HARREBAARD stap om ’n rockgroep te begin, word in die werklikheidsreeks Die ooms se band gewys. Dit word Vrydae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
• Volg hulle op Twitter deur die hutswoord #harrebaard

Save