Hoeveel hiervan het jy al gesien?

5. Spy

11825819_691112081022275_2897346262006558319_n

Hierdie oulike, slim en baie snaakse rolprent ondergrawe spioenasierolprent- en komediekonvensies subtiel, terwyl dit steeds opwindende aksie-opeenvolgings lewer. Die feit dat dit nooit daal tot die vlak van flou humor oor Melissa McCarthy se gewig of haar in ’n soort Johnny English-nar verander wat per ongeluk die wêreld omkeer nie, laat dit bo ander soortgelyke rolprente uitstyg. McCarthy en Jason Statham vorm ’n verrassend briljante komediepaar.

4. Mr. Holmes

11891081_942209612510568_7278227273543985449_n

’n Fatsoenlike, diepsinnige en baie meevoerende rolprent oor die ouderdom, waarin Ian McKellen skitter. Wat dit nog indrukwekkender maak, is dat dit daarin slaag om ’n nuwe en interessante kinkel te verleen aan ’n oorbekende karakter soos Sherlock Holmes, maar tog ook ’n boeiende misterie bevat met ’n onverwagte ontknoping. Dit is pragtig verfilm, met goeie skote van Laura Linney en die jong Milo Parker as byspelers.

3. Crimson Peak

12036942_1039865586033074_398492856985832431_n

Guillermo del Toro se oordadige liefdesbrief oor Gotiese gruwels en romanse is ’n doelbewuste ode aan oudmodiese, heerlik grieselige spookstories wat meer fokus op ’n atmosfeer van angs as om jou uit jou sitplek te laat opspring. Del Toro lewer met opgetoënheid al die verwronge openbaringe wat by hierdie soort storie verwag word, terwyl hy ook ’n klomp tyd bestee aan die ontwikkeling van die drie sentrale karakters en hul verhoudings. Mia Wasikowska, Tom Hiddleston en Jessica Chastain gee alles wat hulle kan en slaag daarin om diepte en nuanse aan gewone Gotiese gru-karakters te verleen.

2. Inside Out

12341389_955128514566647_1274833299308202273_n

Pixar se 15de rolprent sit die animasieteater se ongelooflik hoë standaarde voort deur gebruik te maak van ’n kombinasie van kreatiwiteit, humor, intelligensie en siel om ’n eenvoudige storie op ’n verbeeldingryke, aangrypende en emosioneel resonante manier te vertel. Die verskillende onderafdelings van die brein word slim en wonderlik innoverend uitgebeeld. Die grappe volg so vinnig opmekaar dat jy die rolprent weer sal moet kyk om hulle almal te snap, en die ateljee se vermoë om jou hartsnare te laat tril. is nog net so sterk soos altyd.

1. Mad Max: Fury Road

12043034_726047947500729_427641366686349423_n

In ’n tydperk waarin flou megatreffers met futlose rekenaargegenereerde beelde gevul word, is hierdie eksentrieke, diepgesete aksierolprent ’n welkome terugflits na ’n tydperk van asemrowende kordaatstukke en waaghalsige regisseurs. Dit is inderwaarheid slegs een lang jaagtog ná die ander, maar vlieg teen so ’n meedoënlose spoed en is volgepak met so baie opwindende stelstukke, onverwagte kinkels en kleurryke karakters dat jy heeltemal vasgenael sal wees. Wat die rolprent nog indrukwekkender maak, is die vroulike inslag: Daar is, anders as by ander megatreffers, ’n verskeidenheid sterk, komplekse vroulike karakters. Beslis ’n fris, vars luggie in ’n see van Hollywoodse koekiedrukkerprodukte.

Wonder jy watter flieks om in 2016 na uit te sien? Gaan loer bietjie hier.