Ouers glo hul kinders is mooier, ouliker en slimmer as ander kinders, en honde-eienaars glo dieselfde van hul vierpotige vriende.

Jy sal nie ver hoef te soek om iemand te vind wat ’n hond (of kat) het wat glo hul dierekind is mooier as ander nie.

[caption id="attachment_143234" align="alignnone" width="600"]Huisgenoot-joernalis Joanie Bergh dink beslis háár hond is die heel mooiste. Huisgenoot-joernalis Joanie Bergh dink beslis háár hond is die heel mooiste.[/caption]

Dit beteken nie jou hond is dalk nie so goed gemanierd soos ander honde nie – hy grawe gate in jou tuin, kou aan die tuinslang of blaf aaneen vir die bure se kat, maar hy is mos beslis mooier as ’n ander hond.

Maar dit maak nie saak nie. Want of jy ’n opreg geteelde hond het en of jy een van die straat gered het – jou hond is nie net ’n troeteldier in jou huis nie; hy is lid van jou gesin en jou beste vriend. (Al rol hy soms in die modder en kom die huis vuil-vuil binne.)

Maar nou is daar kompetisie vir alle honde-eienaars: Dit lyk of die Afgaanse hond Tea mooier is as jou en enigiemand anders se hond.

[post-slider]

Tea woon saam haar eienaar, Luke Kavanagh, en sy twee kinders in Sydney. Sy het feitlik oornag op die sosiale media ’n sensasie geword toe Luke ’n foto van haar op Instagram plaas.

Op die foto poseer die vyfjarige opregte Afgaanse windhond met die lang, swart, satynagtige op ’n stoel.

Tea se tong hang nie tydens fotosessies uit nie en spoeg drup nie in lang, taaierige stroke by haar mondhoeke uit nie. Inteendeel, sy speel alte lekker model. Wanneer ’n kamera in haar rigting gehou word, tuur sy in die verte – soos ’n regte supermodel.

Tea was jare lank ’n skouhond, maar het “afgetree” omdat dit volgens Luke elke dag baie tyd verg om haar netjies te hou en haar hare te kam.

“Mettertyd het ek soveel tyd afgestaan om haar reg te kry vir skou, ek het min tyd vir my gesin oorgehad. Nou is my gesinslewe belangriker as die lekkerte om Tea vir ekstra geld te bemark,” het Luke aan NewsLocal gesê.

Volgens hom is Tea mal oor haar aftrede. Vandat Luke die foto van haar die kuberruim ingestuur het, het meer as ’n miljoen mense wêreldwyd dit gedeel en haar “die mooiste hond in die wêreld” begin noem.

Luke was geensins verbaas nie, want Tea is “veels te mooi om in die huis gehou te word.

“Selfs wanneer ons met haar gaan stap, laat draai sy die koppe. Sy maak asof sy die aandag nie sien nie, maar sy is beslis mal daaroor.”

Maatskappye het ook Tea se foto gesien en haar genader om die gesig te wees vir die luukse hondekos Royal Canine en die advertensieveldtog vir die hondeparfuumreeks Harriot & Hound.

“Dit maak nie saak of sy kaal is en of duurste satyn oor haar gegooi word nie; Tea sal altyd my koningin wees,” se die trotse eienaar. Lê die geheim in Tea se lang, sagte swart hare, of dalk in die manier hoe sy heel elegant voor haar uittuur wanneer sy vir ’n foto poseer?

Hoe dit ook al sy: As Tea dan die mooiste hond in die wêreld moet wees, sal my brakkekind, Reuben, met sy spoegmond en tong wat alewig skeef uit sy mond uithang, sekerlik die tweede plek haal?

Dink jy jou hond is mooier en ouliker as Tea en Reuben? Ons wil graag jou hond sien!

Stuur vir ons ’n foto van jou en jou hondekind!

Bronne: Daily Mail, Newslocal