Dis so verloklik. Jy gaan met vakansie en wil graag hê jou Facebook-vriende moet daarvan weet. Jy plaas dus ’n foto van jou instapkaart – dit kan tog nie skade doen nie, of hoe?

Verkeerd.

In ’n eksperiment onthul Steve Hu van iflyflat.com.au hoe verspot maklik bedrieërs toegang kan kry tot jou persoonlike inligting, insluitend die aanmeldgeleenthede van mense wat dikwels vlieg, en selfs besonderhede van jou kredietkaart.

Ja, en dit net omdat jy ’n foto van jou instapkaart geplaas het!

Ons het ’n lysie van sewe ander inligtingstukke saamgestel wat jy nooit ooit aanlyn moet deel nie.

1. Jou ID

Volle name, geboortedatum, geboorteplek. Dit is die soort inligting waaroor identiteitsdiewe dol is. En hulle kan dit op jou ID of selfs jou rybewys kry. Pas hierdie inligting soos goud op.

2. Besonderhede van jou kredietkaart

Ja, daar is mense wat al hul hele kredietkaartnommer aanlyn gedeel het. Ons vermoed die rede waarom jy dit nie moet doen nie, is redelik vanselfsprekend.

3. Jou wagwoord

Dit kan ook vanselfsprekend voorkom, maar dis altyd goed om dit te noem. Benewens jou werklike wagwoord, moet jy nie inligting deel wat kan help om sekuriteitsvrae te ontrafel nie, byvoorbeeld die naam van jou eerste troeteldier, jou ma se nooiensvan of jou geliefkoosde kleur.

4. Jou foonnommer

Die tegnologiese vaardighede van bedrieërs verbeter saam met die tegnologie. Dit stel jou nie net bloot aan uitvissingsbedrog nie; hulle kan ook vir jou kwaadwillige selfoonboodskappe stuur.

5. Jou adres

Jy stel jou in gevaar wanneer jy jou adres op Facebook deel. As jy byvoorbeeld gedeel het jy gaan met vakansie, weet mense jou huis gaan leegstaan.

Selfs al het jy net ’n klein vriendekring wat jy vertrou op Facebook, kan internetkundige inbrekers jou huis met die klik van ’n knoppie opspoor.

6. Jou program

Dieselfde geld hier: As jy jou dag se program deel, stel dit jou bloot aan gevaar.

7. Jou drafroete

So, jy het begin draf? Welgedaan. Maar, net soos met die deel van jou adres, gaan die plasing van jou gereelde drafroete jou in ’n kwesbare situasie plaas.

Bronne: trendmicro.com, consumer.ftc.gov, news.com.au, tribune.com