Die man wat twee TV-joernaliste van WDBJ tydens ’n regstreekse onderhoud geskiet het, is dood.

Vester Lee Flanagan II, ook bekend as Bryce Williams, was glo ’n ontevrede oudwerknemer van die televisiestasie. Hy het hom geskiet nadat die polisie hom agternagesit het en is hospitaal toe geneem, waar hy later dood is. Dit volg ná die skietdood van die joernalis Alison Parker (24) en haar kameraman Adam Ward (27) by ’n inkopiesentrum in Virginia gisteroggend. Die vrou met wie Alison ’n onderhoud gevoer het, Vicki Gardner, hoof van die Smith Mountain Lake-streeksakekamer, is tans in ’n ernstige, maar stabiele toestand.
Die skieter het, voor hy homself geskiet het, sy motief vir die skietery op sosiale media verduidelik. Hy het getwiet hy was ongelukkig oor rassespanning by die werk. Dis opgevolg deur twee video’s wat wys hoe hy die niksvermoedende joernaliste skiet. Sy Twitterblad is kort daarna verwyder.
Terwyl die huldeblyke instroom, het dit intussen aan die lig gekom dat Adam se verloofde, ’n medevervaardiger by WDBJ, hom op die lug sien sterf het. “Dit was haar laaste dag. Sy sou na ’n stasie in Charlotte skuif,” het Jeffrey A. Marks, stasiebestuurder, aan CNN vertel en gesê hulle het vieringe vir haar beplan en Adam sou glo kort daarna by haar aansluit.

Vester was volgens etlike bronne 'n baie knorrige persoon. Die motief vir sy dade is ook deels ras-gemotiveerd as vergelding vir die skietdood van etlike kerkgangers by Charleston in Junie vanjaar.

Sy kort humeur het ook aan die lig gekom in 'n nuwe video-opname wat aanlyn verskyn het waarin gesien kan word hoe Vester in Julie vanjaar in 'n padwoede-voorval betrokke was.

Hy is deur die televisiekanaal WDBJ-TV afgedank na hy "jare lank onderpresteer het". In hierdie tyd het hy ook toenemeend meer aggresief teenoor sy kollegas geraak en glo "altyd die rassekaart" gespeel. Familie en vriende van Vester het nou na vore gekom en hul jammerte oor sy dade uitgespreek. "Dis met 'n swaar hart en diepste hartseer dat ons ons medelye met die families van Alison Parker en Adam Ward uitspreek," het Amber Brown, 'n familie-vriend gesê.

Bronne: dailybeast.com, metro.co.uk, daily mail, usatoday