’n Beeldskone Demi-Leigh Nel-Peters is Sondagaand by Sun City aangewys as die nuwe Mej. Suid-Afrika. Demi-Leigh het in ’n mediaverklaring gesê sy is vasbeslote om in haar jaar as Mej. Suid-Afrika ’n verskil te maak.

[caption id="attachment_165686" align="alignnone" width="600"]Demi-Leigh is vasbeslote om in haar jaar as Mej. Suid-Afrika ’n verskil te maak. Demi-Leigh is vasbeslote om in haar jaar as Mej. Suid-Afrika ’n verskil te maak.[/caption]

Hier is ’n paar kitsfeite oor die 21-jarige donkerkop van Sedgefield.

Watter eienskappe dink jy moet Mej. Suid-Afrika hê? Mej. Suid-Afrika moet sag, goedhartig en vriendelik wees. Sy moet bekend staan as ’n persoon wat altyd meer van haarself gee. Mej. Suid-Afrika is vol selfvertroue, passievol oor die lewe, maar bowenal, sy is iemand met wie jy jou kan vereenselwig. Vertel ons meer van jou familie. Ek beskou myself as baie geseënd om vier wonderlike ouers te hê. Hulle is my grootste ondersteuners en het nog altyd in my geglo en ook saam met my gedroom. My ma, Anne-Mari Steenkamp, woon in Sedgefield met my stiefpa, Johan Steenkamp. My stiefpa is in die boubedryf en hy is die sagste siel wat ek nog ooit ontmoet het en het my werklik grootgemaak as sy eie. My ma is my absolute steunpilaar. Sy is 'n binneversierder, asook 'n landskapargitek. My pa, Bennie Peters, en stiefma, Elzabé, woon in Potchefstroom. My stiefma is ’n kliniese sielkundige en my pa het onlangs uit die korporatiewe wêreld uitgetree.

Wat doen jy in jou vrye tyd? My studies hou my op die oomblik besig. Ek het net buite George grootgeword so ek was nog altyd mal daaroor om tyd in die buitelug te spandeer. Ek geniet ’n staproete, padwedlope of selfs net om my twee Yorkies, Benki en Baxter, vir ’n uitstappie na die park te vat. Ek hou ook daarvan om soms kreatief te wees. Ek probeer altyd om handgemaakte kaartjies te maak vir vriende en familie op hul verjaarsdae of ’n plakboek met foto’s van die verskillende plekke waarheen ek gereis het. Ek geniet dit ook om fiktiewe boeke te lees om vir ’n rukkie van die werklikheid te ontsnap, sowel as outobiografieë waarvan ek inpirasie kan kry. Ek sou definitief my gereedmaaksessies in die oggend as “me-time” beskou. Ek is mal daaroor om ’n meisie te wees en net met grimering rond te speel of om ’n nuwe haarstyl nou en dan te probeer.

Wat is jou boodskap aan jong meisies en vroue in Suid-Afrika?

Niks is onmoontlik. Jy is waardig, jy maak saak en jy is in staat om meer te doen as waarvan jy droom. Al wat jy moet doen is probeer.

Wie is jou rolmodelle?

Ek kan nie iemand spesifiek uitsonder nie. Ek het verskeie mense wat my tot dusver geïnspireer het. Ek dink almal is uniek en bring iets spesiaal na die vore. Ek bewonder vroue soos Marissa Mayer, die eerste vroue-ingenieur en nou uitvoerende hoof van Yahoo. Vroue wat nie net daarna streef om gelyk aan mans te wees nie, maar wat daarna streef om tot hul volle potensiaal te leef.

As jy een persoon kan ontmoet as Mej Suid-Afrika, wie sal dit wees?

Ek sou verheug wees om die voormalige Mej-Suid-Afrika en nou invloedryke sakevrou en filantroop, Basetsana Kumalo te ontmoet. As ’n aspirant-sakevrou kon ek baie van Bassie leer. Sy kom altyd oor as ’n goed afgeronde vrou en ek dink ons sal baie hê om oor te praat.

Lees ook: En die nuwe Mejuffrou Suid-Afrika is . . .

Wat is die een ding wat mense verbaas sou wees om van jou te hoor?

Ek is die eerste meisie in my hoërskool om as hoofmeisie van beide my skool en koshuis gekies te word. Ek is ook in Graad 11 verkies as die junior-adjunkburgemeester van George se stadsraad.

Watter voormalige Mej. Suid-Afrika inspireer jou?

Cindy Nell het my nog altyd geïnspireer. Sy is ’n Mej. Suid-Afrika wat werklik die platform tot die beste van haar vermoë gebruik het. Sy was nog altyd dinamies en is nou ’n suksesvolle sakevrou. Ek het ook baie raad gekry by haar model-en-skoonheidswedstrydhandboek.

Is jy tans besig om enige boeke te lees?

Ek is tans besig met The Alchemist deur Paulo Coelho.

Na watter musiek luister jy?

Ek is ’n groot aanhanger van Enya, Adele en Taylor Swift. Ek luister ook graag na klassieke simfonieë. Klassieke musiek, veral Beethoven versterk my konsentrasie as ek besig is om iets soos wiskunde te bestudeer.

Wat is jou gunsteling-TV-reeks?

Ek is mal oor Suits. Donna is my gunsteling karakter, ek is mal oor haar pittige sin vir humor en sy is só ’n sterk vrou.

Jou gunsteling-maaltyd?

Dit is ’n moeilike keuse tussen varkribbetjies met ’n braaisous bedien met oondgebraaide groente of beesstert in ’n rooiwynreduksie bedien met stampmielies.

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Die vrou wat die skare agtervolg sal gewoonlik nie verder as die skare gaan nie. Die vrou wat alleen loop is geneig om haarself in plekke te vind waar niemand anders nog ooit tevore was nie.” – Albert Einstein.