Welkom aan Suid-Afrika se splinternuwe ontbytprogram-aanbieders: Martin Bester en Tumi Morake.

Jacaranda FM het Woensdag aangekondig dat die twee vanaf 3 Julie luisteraars in die oggend gaan vermaak met Breakfast with Martin Bester & Tumi Morake.

Martin Bester, 'n bekende Afrikaanse sanger en televisie-aanbieder is reeds drie jaar na mekaar aangewys as SA se gunsteling-radioaanbieder. Hy is slaggereed om die nuwe uitdaging saam met die skreeusnaakse komediant en bekroonde aktrise, Tumi Morake, aan te pak. 

“Dis ‘n opwindende uitdaging met splinternuwe, toonaangewende materiaal. Ons het ‘n fantastiese span en ek is ‘n aanhanger van elke individuele rolspeler, veral Tumi. Ek is mal oor haar energie en sin vir humor en die feit dat sy ‘n ding op die naam noem. 

Martin Bester en Tumi Morake is vanaf 3 Julie op die lug. Foto: Verskaf

“Dis ook ‘n reuse voorreg om ontbyt te kan geniet saam met die invloedrykste, hardwerkende gehoor in die land!” vertel Martin. 

Programbestuurder, Gavin Meiring, glo dat dié span ontbytradio in Suid-Afrika gaan definieer.

“Martin Bester het ‘n uitstekende begrip van ontbytradio en om hom en Tumi Morake saam te snoer, gaan sensasioneel wees.”

Tumi meen dit gaan angswekkend sowel as opwindend wees, maar dat die nuwe program ’n beslissende oomblik in haar loopbaan sal wees. 

“Dié is vir my ‘n goue geleentheid om saam met een van die beste radio-aanbieders in Suid-Afrika te werk en om ook sy groupie te wees wanneer hy sing! Ek het alreeds so baie by Martin geleer en die hele span is uiters dinamies!” sê Tumi. 

Breakfast with Martin Bester & Tumi Morake sal vanaf 3 Julie 2017, tussen 6:00 en 9:00, op die lug wees.




Save