Dié drama is bekroon met die Kanna vir beste teateraanbieding, Lara Foot as beste regisseur en Chuma Sopotela as beste aktrise.

Die Kannas, wat Maandagaand by Nasdak in Kaapstad gehou is, is die KKNK se jaarlikse toekenningsgeleentheid wat kreatiewe uitnemendheid vier.

“Die kunste staan sterk in ons land. Oudtshoorn het oorgeloop van teater- en musiekproduksies uit die boonste rakke, voor volgepakte sale. Dit was ’n enorme voorreg om uitvoerende werk van sulke hoë gehalte te beleef en elke KKNK-deelnemer het ons dank en respek – met óf sonder prys,” het Mareli Stolp, voorsitter van dié jaar se Kannapaneel, in ’n verklaring gesê.

Sy het al die “teatermakers” geluk gewens met hul prestasies.

Buite Land, ’n debuut uit die pen van Neil Coppen, het twee Kannas gewen. Die stuk is aangewys as beste debuutwerk en die akteur Kopano Maroga het die prys vir beste manlike byspeler gewen.

Die toekenningsgeleentheid het vanjaar ook drie nuwe pryse bygekry.

Buhle Ngaba se The Swang Song is die eerste wenner van die Kanna vir beste Uitkampteater-aanbieding.

Retief Scholtz se komedie-drama Dop, het die Kanna vir beste nuutgeskrewe teks ontvang.

Die nie-verbale Uitkampteaterstuk vir kinders, In die woud, is met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding bekroon. Dié afdeling is deur ’n paneel, van kinders van verskillende ouderdomme beoordeel.

“Die kreatiwiteit en talent wat mens ook by die jong kunstenaars sien is ’n inspirasie. Kunste Onbeperk is steeds toegewyd om regdeur die jaar met verskeie inisiatiewe, te help bou aan ’n stewige fondament vir die Suid-Afrikaanse kunstebedryf en geleenthede te help skep om ondersteuning te bied met ’n langtermyn impak vir kunstenaars,” het Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van onder meer die KKNK, gesê.

Die gewilde aktrise Sandra Prinsloo het ook Maandagaand met ’n prys weggestap toe sy die Kanna vir beste vroulike byspeler gewen het vir haar rol in in Chris Barnard se Pa maak vir my ’n vlieër pa, onder regie van Albert Maritz.

Volledige lys van Kanna-wenners:

Kanna vir die beste debuutwerk, geborg deur Media24

• Buite Land

Kanna vir die beste teateraanbieding, geborg deur die ATKV

• Karoo Moose

Kanna vir die beste musiekproduksie, geborg deur Huisgenoot

• Rymklets van Oos tot Wes

Kanna vir die beste regie, geborg deur die ATKV

• Lara Foot (Karoo Moose)

Kanna vir die beste aktrise, geborg deur SARIE

• Chuma Sopotela (Karoo Moose)

Kanna vir die beste akteur, geborg deur Castle Lager

• Gideon Lombard (Die reuk van appels)

Kanna vir die beste byspeler: manlik, geborg deur Kunste Onbeperk

• Kopano Maroga (Buite Land)

Kanna vir die beste byspeler: vroulik, geborg deur Kunste Onbeperk

• Sandra Prinsloo (Pa maak vir my ’n vlieër pa)

Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks, geborg deur NATi

• Retief Scholtz (Dop)

Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns, geborg deur Absa

• Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets (Ronél de Jager)

Kanna vir die beste opkomende kunstenaar, geborg deur Ton en Anet Vosloo

• Buhle Ngaba (The Swan Song: teks en spel)

Kanna vir die beste Uitkampteater-aanbieding, geborg deur NATi

• The Swan Song

Kanna vir die beste kinderteater-aanbieding, geborg deur Media24

• In die woud