Die top-drie in Kokkedoortjie is Christi Myburgh (13) van Bloemfontein, Edwin Theron (12) van Worcester en Christiaan Cloete (12) van Stellenbosch.

In Woensdagaand se episode moes die vier oorblywende deelnemers ’n pizza-uitdaging aanpak. Elke Kokkedoortjie het ’n spesifieke land as tema gekry wat in ’n pizza uitgebeeld moes word.

Mia Grobler (13), van Pretoria het egter die uitdaging verloor.

“Die Kokkedoortjies het van meet af amper soos jou eie kinders gevoel en mens voel soos ’n booswig om ’n Kokkedoortjie die trekpas te gee,” sê Nic van Wyk, een van die beoordelaars.

Dis soos om vir ’n ma te vra watter kind is jou gunsteling! Hierdie kinders het vinnig diep in my en Nic asook die hele produksiespan se harte gekruip,” sê Mari-Louis Guy, wat ook ’n beoordelaar is.

Volgende week sal Christi, Edwin en Christiaan dinge uitspook wanneer hulle elkeen ’n koek moet bak, waarna die twee finaliste aangewys sal word.