Foto: Adrian Bischoff on Flickr

Hidrobreking bedreig waterbronne in die groter Karoo, het die Natuurlewe-en-omgewingsvereniging (Wessa) Donderdag gesê.

“Enige besoedeling of degradering, veral in die Karoo, insluitende gebiede met globale biodiversiteit-warmkolstatus, kan rampspoedige ekologiese, maatskaplike en ekonomiese gevolge inhou,” het die omgewingsbeskermingsdirekteur van Wessa, Garth Barnes, in ’n verklaring gesê.

Terwyl Wessa die potensiële ekonomiese voordele van hidrobreking begryp, glo hy nie dat die regering die volle spektrum volhoubare ontwikkeling in aanmerking neem nie, het hy voorts gesê.

Die minister van water- en omgewingsake, Edna Molewa, het Maandag gesê dat ’n kennisgewing van voorneme om hidrobreking ’n beheerde aktiwiteit te verklaar, in die Staatskoerant gepubliseer is.

“Wat dit beteken, is dat hidrobreking ’n watergebruik word, wat ’n watergebruiklisensie moet hê,” het sy gesê.

Die kennisgewing, ingevolge van die Nasionale Waterwet, is op 23 Augustus in die Staatskoerant gepubliseer en laat 60 dae vir openbare kommentaar toe.

Met hidrobreking word rots deur ’n vloeistof wat onder druk is, gebreek om natuurlike gas uit skalierotslae diep onder die aarde te ontgin.

Molewa het gesê dat by die oorweging van lisensies net vraagstukke ten opsigte van waterbronne, soos die moontlike uitwerking van chemikalieë wat in die proses gebruik word, in aanmerking geneem sal word.

Garth het die regering gemaan om die voorsorgmaatreël uit te voer wat in die Nasionale Omgewingsbestuurswet vervat is.

“Die wet verplig die voorstanders van ’n aktiwiteit om te bewys dat dit nie skade aan die natuurlike omgewing of mense sal doen voor die aktiwiteit toegelaat word om voort te gaan nie,” het hy gesê.

-   SAPA

Sapa

Lees Meer:

Vat jou goed en trek, Shell!