“Wat is jou antwoord?” vra die dominee. “Wag . . . laat ek net eers ’n bietjie dink,” sê ek terwyl ek op die kerkbank agter my gaan sit. Ek hoor nie eens hoe die mense saggies lag nie. Hoe het ek hier beland? In ’n trourok, in ’n kerk vol mense en met ’n man langs my – en ek weet nie eens of ek my lewe met hom wil deel nie. Nee, laat ek dit beter stel, ek weet nie of ek hoegenaamd my lewe met enige man wil deel nie. Ek, Irma, wilde, kwaai kaalvoetmeisiekind wat vir niks bang is nie, is beangs oor ’n ring aan die vinger. Kom ons gaan so ’n entjie terug: ek is sewe jaar oud en ons trek by ’n nuwe huis in. My pa met sy Duitse humeur waarsku net een keer: “Julle gaan seerkry hier waar ons meubels aflaai; netnou beland iemand onder die lorrie ook. Toe, skoert langsaan toe, ek het gesien daar speel kinders in die jaart. Die een wat dit waag om terug te kom, kry ’n helse pak slae!”

“Wag . . . laat ek net eers ’n bietjie dink,” sê ek terwyl ek op die kerkbank agter my gaan sit.

En ek en my boeties hol dadelik by die hek uit, by die ander een in, en toe ek om die huis se hoek kom, tref ’n klont my in die oog. Ek slaan amper neer van die pyn en ek kyk op en sien ’n seuntjie met sy arms op sy heupe staan so ’n ent voor my. “Voertsek, voertsek!” skree hy hard. “Meisietjies kom speel nie by ons nie. Voertsek of ek gooi jou weer!” en voor hy nog ’n klont kan optel, laat spaander ek terug langsaan toe. Ek hardloop die treetjies sommer so twee-twee op en die volgende oomblik gryp my pa my aan die arm en vra: “Wat het ek gesê?” en hy gee my ’n loesing daar op die stoep voor ek nog kan verduidelik.

Met ’n seer oog en ’n seer agterent gaan sit ek toe op die randsteen van die sypaadjie ’n ent daarvandaan, tot amper donker toe ons geroep word vir ete. Ek vind by my boeties uit daar is drie sussies en drie boeties en die een wat my gegooi het, se naam is Sampie en ek haat hom met ’n lelike haat.

Ons het net twee jaar langs hulle gebly, maar diep vriendskappe is gevorm en elke Desember het die grootmense saam gekuier. Ek het hulle soos die pes vermy en eerder by my ouma gebly wat op dieselfde dorp gewoon het.

Ons het in die Laeveld gaan bly, waar ek meer in die bosse was saam met ’n beste maat as by die huis, vir my eie sanity. Sien, my pa was altyd aan die drink of aan die raas of aan die slaan. Maar hy was ’n goeie werker en ons het altyd ’n dak oor die kop gehad en goeie kos om te eet. Die bagasie wat in my opgebou het, was groot. Ander kinders se gespot en ander grootmense se behandeling het ook nie sake vergemaklik nie. Maar my ma was ’n engel en ons het uitgeblink op skool en ’n breë uitkyk op die lewe gehad.

So skryf ek matriek, baie teleurgesteld en kwaad omdat ek nie kon gaan leer nie. Maar ek moes uit die huis kom so gou ek kon, en die enigste beroep wat jou betaal het terwyl jy leer, was verpleegkunde. En voor jy tot 10 kon tel, was ek op die trein Kaap toe en in ’n uniform. En later, op my eerste nagskofbeurt, beland ek in dieselfde saal as ons gewese buurdogter. Sampie se suster nooi my om te gaan kuier, en toe ek uitvind haar broer bly nie by hulle nie, is ek gou gereeld aan huis. Ons fliek saam en sokkie oor naweke en kuier soos net jong mense kan. Hul ander broer, Willie, wat net so oud soos ek is, is die wonderlikste chaperone en niemand sukkel met my nie. Boonop het hy ’n kar en dis sommer ekstra gerieflik.

Ek het hom nooit vergeet nie – met hom wil ek niks te doen hê nie. Ek loop sommer by Willie se kamer in en wag tot hy klaar gebad het; ek voel veiliger daar.

Tot op ’n dag toe alles verander. Ons gaan weer fliek en ek kom by hul huis aan, klop en stap in die gang af kombuis toe waar almal gewoonlik is. En toe ek by die sitkamer verbystap, vang my oog bene met weermagstewels aan wat op die koffietafeltjie rus en hoor ek ’n stem wat sê: “Wie is die dik bus wat nou net hier verby is?” My bloed ys skielik tot in my voete. Dis die kluitgooier, die bliksem is by die huis. Ek het hom nooit vergeet nie – met hom wil ek niks te doen hê nie. Ek loop sommer by Willie se kamer in en wag tot hy klaar gebad het; ek voel veiliger daar.

Sus kom haal my en kondig aan Sampie gaan saam fliek. Ek voel woes, my nekhare rys en my naels klim uit my vingerpunte. Sus en Willie lag hulle dood oor my ontsteltenis, want hulle ken Sampie as ’n vredeliewende boet wat baie vir ander omgee.

So begin die tweestryd tussen ons daardie dag by die fliek. Pouse koop hy vir die ander twee pakkies tjips en ’n glasie koeldrank elk. Niks vir my nie. Maar ek laat my nie onderkry nie en koop vir my ’n family size-bottel koeldrank en hengse groot pak tjips. En so krrr-krrr eet ek die hele fliek deur opsetlik hard net om die sewe soorte hel uit hom te verpes. Sampie se bosverlof is twee weke lank en hulle hou ’n lekker braai en dans sodat al die familie en vriende kan saam kuier. En almal fluister oor die ding dat die twee jonges mekaar nie kan verdra nie – wie hou dan nie van Sampie nie? Hy het die dorp op die map gesit met sy Cravenweekrugby en nou sorg hy vir almal se veiligheid.

En almal fluister oor die ding dat die twee jonges mekaar nie kan verdra nie – wie hou dan nie van Sampie nie?

Ek kan baie goed dans en hy nie. Daar en dan daag hy my uit om hom ’n two-step te leer. Hy sukkel sy alie af en ek is vasbeslote om te wys wat ek beter as hy kan doen. Net toe ek wil tou opgooi, toe begin ’n nuwe liedjie speel. Hy gryp my en dans oor die plaveisel dat die stof so trek. My mond hang eers oop en toe raak ek so kwaad dat die vlamme by my ore uitkom. “Laat los my, jou vark! Dink jy dis snaaks dat jy my naam so gek maak voor almal?”

Sampie het vir die eerste keer ’n breë glimlag en sy oë blink so ondeund soos ek dit nog nooit gesien het nie. Natuurlik vind al die omstanders dit ook prettig, want hulle besef hy doen dit net om my verkeerd op te vryf. Woedend storm ek daar weg en bly uit almal se pad tot ek hoor hy is terug bos toe. ’n Maand later sit ek en wag in die eetsaal dat ons ete voorgesit word toe ons pos uitgedeel word. Daar is ’n brief vir my ook – tot my groot verbasing. Ek maak oop en begin lees. Toe bars ek kliphard uit van die lag. Een van die reëls lui: “Die koeël is deur die kerk; ek gaan eendag met jou trou.” Wie op dees aarde dink die vent is hy? Ek gaan g’n eendag met ’n ding soos ’n man opgesaal sit nie.

“Die koeël is deur die kerk; ek gaan eendag met jou trou.”

En so begin ’n verpesting wat oor ’n anderhalf jaar strek. Ek kan nie meer saam met Willie gaan fliek of dans nie, want hy beskou my nou as sy ouboet se girl en hy is nie die soort wat in ander se slaai krap nie. En ek vertrou niemand anders as veilig genoeg vir chaperone-duty nie en is boos omdat my sosiale lewe so ingekort is. Hy skryf briewe en ek trek dwars. Hy hou nie van meisies op motorfietse nie, laat weet hy. Ek begin saam met ’n kollega op een kerjakker. Hy hou nie van meisies wat rook nie. Ek leer myself rook (gelukkig het dit nie lank gehou nie). Hy hou nie van meisies wat dink hulle is seuns nie – toe kom my rabbedoestreke eers na vore. En ek weet sy familie hou hom op die hoogte en ek voel ’n veer oor wat hy dink. My mantra word: “Jy is nie die man vir my nie en ek sal sorg dat jy sien ek is beslis nie die vrou vir jou nie.”

Maar niks werk nie en ek bekla my lot by ’n vriendin. Wat is eintlik die probleem? wil sy weet. “Skêr-mense,” antwoord ek. “Die gevaarlikste mense op hierdie hele aarde. Skêr-mense is die soort wat ander mense se vlerke knip, dan kan hulle nooit sterk leer vlieg nie. Stupid onnies wat jou behandel volgens wie jou ouers is, alle dronk mense, mans wat dink vroue is hul besittings en mag nie ’n wil van hul eie hê nie, ou omies wat altyd met kinders probeer lol. En boelies. Boelies soos Sampie; kyk net hoe het ons mekaar kleintyd ontmoet. Dit voorspel niks goeds nie. “Weet jy, my ouma is so deur ’n stiefma verrinneweer dat sy met die eerste man getrou het wat by die plaas aangekom het. Dit was nadat sy haar stiefma uitgevang het dat sy skelm boeliebief in die kleinhuisie eet terwyl sy self vrek van die honger. En sy moes altyd doen wat my oupa order, al is hulle lief vir mekaar. My pa was so jaloers op die meisiekind met die nuwe fiets dat, toe sy weer verby hul huis ry, hy ’n stok in haar speke gesteek het en sy toe haar voortande uitval. En sy trou toe wraggies later met hom. Kyk hoe gaan dit in ons huis!

“Jy is nie die man vir my nie en ek sal sorg dat jy sien ek is beslis nie die vrou vir jou nie.”

“Nee, liefde is nie genoeg nie. Hoe jy regtig met mense werk, is die ding, sê ek jou. Ek is bang Sampie is ’n skêr-mens. Hulle snip-snip-snip heeldag aan die vere en so foeter hulle net mense op.”

Sy lag net en sê ek moet hom beter leer ken; ’n mens skop mans soos hy nie onder elke bos uit nie. Hy kom uit ’n goeie huis en het geen afwykings waarvan sy weet nie.

Sy het ’n plan wat ek kan probeer. Mans is lekker grootbek, maar as die strop regtig nader kom, kry hulle voete van klei en hol weg. Miskien is ek net vir hom ’n uitdaging omdat ek so vasskop, beweer sy. Dalk moet ek die bordjies verhang en op hom jag maak. O nee, nee, nee, ek kan nie flankeer nie. Ek weet nie eens hoe om dit te spel nie. Maar ’n plan begin in my kop vorm aanneem.

En toe Sampie de Klerk weer kom kuier, klaar met weermag en heeltyds aan die werk en rugby speel, toe is dit tyd om ’n einde te maak aan die hele petalje. En daar sit ons by die padkafee onder ’n wilgeboom langs die rivier, met ’n volmaan nogal, en ons deel lemoensap.

“Nou ja, as jy dan so ernstig is oor my, trou met my,” blaker ek uit, vol hoop dat hy sal skrik en die pad vat.

“Raait, ons trou sommer Kersaand. Ons sal môre ’n ring gaan soek – jy kan enigeen in die hele winkel kies.”

Ek val amper van die bankie af van skok en kry byna ’n oorval toe hy my in ’n omhelsing vasvat en ’n soen gee wat ek nou nog nie vergeet het nie. En hier sit ek nou en almal hou asem op vir my antwoord. Dis vir my vreeslik om my vryheid prys te gee. Die troukar is verlede week gestamp en lyk naar, die troukoek het aan flarde geval en ’n ander een is inderhaas uit matrasspons gesny en net so versier. Vanoggend het ek met krullers in die hare en kaalvoet die strate ingevaar op soek na ’n bloemiste nadat die bespreekte een in die nag oorlede is. Die droogte het gekeer dat ons by die huis kan trou en ons moes alles na ’n ander provinsie skuif.

Ek is bang Sampie is ’n skêr-mens. Hulle snip-snip-snip heeldag aan die vere en so foeter hulle net mense op.

Ek het Sampie ’n week tevore laas gesien, want ek het hom reguit gesê ek weet nie of ek met hom gaan trou nie en ek wil gelos word om dit uit te stoei. Sy arme boet het al mooi kom praat en ek het hom weggestuur met die boodskap dat dit nie te sê is as ek by die kerk opdaag, ek ja gaan sê nie.

Sampie weet hoekom ek is wie ek is; ek het hom vertel van die monsters wat my kinderjare veroorsaak het en dis soms baie moeilik om hulle te onderdruk. Ek het lief geword vir hom in die kort tydjie, maar kan ek waag om die res van my lewe op die spel te plaas? My oorlewingsdrang wat soveel jare lank gekweek is, voel hopeloos te sterk om te ignoreer.

Ek kyk om na my pa toe. As ek nee sê, sal hy my voorwaar ’n dressing gee voor al hierdie mense. Maar ek steur my lankal nie meer aan hom nie. En ek kyk na Sampie waar hy bleek staan en wag. Sê ek ja, is dit for keeps, want ek glo nie aan beloftes verbreek nie, veral nie voor die Here nie. Ek kyk op en begin ernstig praat. “Sampie, ek gaan vyf voorwaardes stel, anders kan ek nie trou nie. As dit te moeilik vir jou gaan wees om na te kom, loop ons nou hier uit en alles is fine. Jy mag nooit aan my slaan nie; ek sal jou terugslaan en jou by die deur uitskop. Jy mag nie waag om aan ’n kind in ons huis te vat nie; die hemel hoor my, hulle sal jou nooit kry nie. Jy mag nie ’n druppel drank ooit ooit ooit drink nie. Jy mag my nie verkul nie; geen mens verdien sulke vernedering nie. As jy die dag dus moeg word vir my, moet ek dit weet. Die belangrikste: ek sal nooit kan onderdanig wees nie. Jy moet my kan verseker ons gaan langs mekaar loop, dis baie, baie serious business vir my, want al hoe ek gaan veilig voel in my eie huis, is as ek weet ek neem besluite vir myself.” En Sampie praat so mooi met my, net vir ons twee om te hoor.

Jy moet my kan verseker ons gaan langs mekaar loop, dis baie, baie serious business vir my, want al hoe ek gaan veilig voel in my eie huis, is as ek weet ek neem besluite vir myself.

“Irma, wat het ek jou gewys die afgelope paar maande met ons verlowing? Dink bietjie, ek het jou gelos om alles te doen wat jy wil, hierdie hele troue is jy, hierdie rok is jy, ons venue is jy, ons fliek wat jy wil sien, ons eet waar jy wil, ek het nie een keer met jou kwaai gepraat nie, ek is nie ’n bakleigat nie, het jy nie meer gelag as ooit in jou lewe nie? Ek weet wat jy nodig het om vorentoe te kan beweeg, glo my, ek weet. Ek verseker jou jou voorwaardes is niks om na te kom nie. Jy sal nie een aand bang gaan slaap nie; jy sal elke oggend opstaan met ’n dag om na uit te sien. Ek het in ’n wilde oorlog elke aand gebid en gevra jy moet vir my gebêre word; dat iemand anders jou nie sal gaps nie. Vir jou is ek ontsettend lief, en al loop jy vandag by daai deur uit, sal ek nooit ophou baklei vir jou nie, nooit.”

En ek weet hy bedoel dit en ek besef hy is nie my pa nie en ek weet liefde is vir my nie genoeg nie. Maar sy beloftes is wel. Toe staan ek op, stryk my rok reg, haak by hom in en antwoord met ’n sug: “Ag ja wat, Dominee, behalwe vir die ding van onderdanigheid.” En die hele kerk bars in applous uit en Sampie pass byna uit van verligting. Dis nou 31 jaar later; ons het ’n huwelik soos geen ander nie. Ek is veilig en het alles gekry wat ek gevra het. Behalwe dat Sampie my steeds terg en verpes tot die vlamme by my ore uitkom, dan stap hy laggend weg. Ek is steeds ’n kwaaitjie, en nes ek goed op dreef is, vra Sampie of ek wil tee hê en dan is my battery sommer pap.

Vir jou is ek ontsettend lief, en al loop jy vandag by daai deur uit, sal ek nooit ophou baklei vir jou nie, nooit.

Die week voor ons troue was ’n belewenis op sy eie en die mense kruip gewoonlik op die vloer van die lag as ons hulle van al die goed vertel wat skeefgeloop het. Ons het een lieflike kind, tot my eie verbasing het ek ontpop in ’n egte earth mother en tot niemand se verbasing nie is Sampie ’n pa wat jy nêrens op hierdie aarde sal raakloop nie.

Deur Sampie en Irma de Klerk